Filippense 3:1-9
Die Bos kan maar ‘n gevaarlike plek wees, veral as dit nag is! ‘n Kêrel vertel my eenmaal dat hy per geleentheid in die Kruger Wildtuin gaan kuier het in die heel noordelike deel by Shingwedzi. Toentertyd was alles nog grondpaaie in die noorde van die wildtuin. Daardie oggend ry hulle na Pafuri toe. Op pad terug na hulle kamp sak die reën uit in emmersvol! Die pad was bedrieglik en hulle het gesukkel om te sien waar hulle ry. Toe tref hulle ‘n groot modderpoel. Die kar het onbeheerbaar gegly en ‘n boomstomp getref wat ‘n gat in die verkoeler geslaan het. Sy seuntjie het sy kop hard teen die voorruit gestamp en die glas het in duisend skerwe gespat. En daar staan hulle! Genadiglik het dit toe darem opgehou reën.
Riël du Toit was ‘n vindingryke lugmag offisier, maar vir hierdie situasie het hy nie raad gehad nie. Daardie jare was daar nog nie die luukse van selfone waar jy gou 911 kon skakel vir hulp nie, dus moes hulle maar net eenvoudig geduldig wag totdat iemand sou verbykom. Maar die nat, eensame grondpad maak dat niemand anders dit daardie dag gewaag het om in daardie rigting te ry nie en so sit hulle maar die tyd om en lees en sing en speletjies speel. Vir vier lang ure sit hulle vasgekluister in die motor, met die hoop dat daar tóg redding van êrens sou kom. En dan daag hulp toe ook op, eers om vieruur die middag in die vorm van ‘n veldwagter in sy Landrover.
Riël was ‘n baie dankbare man! Die veldwagter kon hom wél help maar hy kon hom net sleep tot by die volgende T-aansluiting. Hy belowe egter dat hy iemand sou stuur om hulle te kom haal met ‘n insleepvoertuig.
En so sit die Du Toit gesin weereens êrens tussen niks en nêrens in die bos. Toe sak die son en oorweldig die donker hulle! Saam met die nag kom allerhande riller-geluide, soos ‘n trop olifante wat bitter naby lawaai en takke breek. Dit was al tienuur die aand toe ‘n baie dankbare Riël die insleepvoertuig se ligte sien. Uiteindelik was hulle marteling verby! Altans so het hy gedink, maar hy het nie geweet van die drama wat nog vir hom sou voorlê nie!
Die lang ure van sit in die motor het in hom ‘n drukkende nood laat opbou en terwyl daar toe nou ander mense by was, staan hy toe sommer so in die middel van die pad, in die donker, om die drukkende nood op sy blaas te verlig. ‘n Salige gevoel van verligting het oor hom gespoel! Maar iets was nie pluis nie - hy kon iets baie snaaks ruik, iets wat stink. Hy het oorhaastig in sy motor geklim met 'n hart wat in sy keel klop. Toe skakel die insleepvoertuig sy ligte aan en Riël skrik hom asvaal want daar in die middel van die pad staan twee leeuwyfies en ruik aan die plek waar hy so pas sy gebied afgebaken het! Riël kon voel hoe die bloed uit sy kop dreineer!
Haastig het hulle op pad na Shingwedzi toe vertrek. ‘n Paar kilometer verder moes hulle net eers weer stilhou om seker te maak dat alles nog reg was. Die twee manne klim uit en stap na mekaar toe. Op daardie oomblik weerklink ‘n oorverdowende leeubrul hier reg by hulle. Die twee spring oorhaastig terug in hulle voertuie en klap die deure toe. Reg voor die insleepbakkie staan ’n yslike maanhaar leeu! Hy stap stadig tot by die voertuig en beruik dit deeglik. Dan stap hy na Riël se motor en begin dit ook te beruik. Hy loer by die vensters in en die arme insittendes sterf ’n duisend dode. Die flenter voorruit hang net daar op genade.......
Eers na middernag kom hulle uitgeput en steeds bewerig op Shingwedzi aan.
(Riël du Toit het hierdie verhaal saam met ander stories in ’n boek saamgevat: “Stories om te Vertel”).
Ja, die bos is propvol gevaarlike goed, maar ons leef in ‘n ewe-gevaarlike wêreld. Nie alleen fisiese gevare nie, maar veral geestelike aanslae wat op elke gelowige neerkom. Paulus waarsku veral oor dwaalleraars, mense wat kwaad stig. Paulus se groot kopseer was Joodse gelowiges wat daarop aangedring het dat die besnydenis en al die ander ou Joodse rituele wette steeds onderhou moes word. Dit was ‘n dwaling wat beteken het dat Jesus se vryspraak nie werklik nodig was nie. Jy kon dus vryspraak verkry deur die wet te onderhou! Alhoewel hierdie dwaling vandag steeds deur sommige nagevolg word, is daar vandag ander soort dwalings wat ewe gevaarlik is!
Jy word geleer dat jy in die wildtuin nie uit jou motor klim nie want iets kan jou opvreet, vra maar vir Riël du Toit! Net so moet jy wegbly van hierdie dwaalleraars af want jy kan maklik in hulle web vasgevang word en dan is dit te laat! Moenie eers met hulle probeer redeneer nie want jy sal beslis tweede-beste daarvan afkom. Ek het al sulke dwaalleraars aangepak. Selfs na dééglike voorbereiding was dit steeds absoluut nutteloos! Vir elkeen van my argumente het hulle tien terug gehad! Ignoreer hulle eerder heeltemal en fokus op wat belangrik is!
Wat is dan belangrik in die lewe? Die vryspraak wat God gee deur Jesus Christus. Glo dit en leef dit ten volle uit met groot blydskap en vreugde. Paulus skryf borrelend van vreugde in Filippense 3:8 “Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry.”
Gebed:
Here, hou my asseblief nugter en waaksaam teen die aanslae van dwaalleraars, en vul my met U onbeskryflike vreugde!