Filippense 2:19-24
Hulle is baie dun gesaai, daardie mense wat werklik goud werd is! Paulus het só ‘n goud-werd persoon ontdek tydens sy tweede sendingreis. In Handelinge 16:1-3 lees ons die eerste keer van hierdie merkwaardige jong man. Dit was toe Paulus in die stad Listra aankom, wat hy van Timoteus gehoor het. Almal het net goed van hom gepraat. Sy ma was ‘n Jodin en sy pa 'n Griek. Van die dag van sy eerste ontmoeting met die jong man, het Paulus besef dat Timoteus bestem was vir baie groot dinge. Hy was toe alreeds ‘n gelowige en Paulus het nét daar en dan besluit dat hy hom sou saamneem op sy reis verder. Daar was egter ‘n probleempie: Timoteus sou nêrens welkom wees in die Joodse sinagoges nie want hy was nie ‘n suiwer Jood nie. Vir Paulus was dit ‘n baie groot kopseer, want hy het gereeld in sinagoges gepreek en hierdie feit kon deure vir hom toemaak.
Jy moet net die regte benadering hê as sulke struikelblokke oor jou pad kom. Moenie dit sien as 'n probleem nie, sien dit eerder as 'n uitdaging!
Paulus het hom beslis nie blindgestaar teen die omvang van hierdie uitdaging nie, want anderkant die groot klip in sy pad kon hy al sien hoedat Timoteus se besonderse persoonlikheidsgawes wat die Here hom gegee het, van hom ’n evangelis maak wat die wêreld aan die brand preek. Daar móés net 'n manier óm hierdie klip gekry word. En dan tref ‘n briljante gedagte vir Paulus: Timoteus moes maar net eenvoudig besny word! Ek kan my al voorstel hoe hierdie jong man teëgestribbel het, want vir ‘n volwasse man is hierdie ‘n bitter ongemaklike operasie. Maar jy maak mos maar opofferinge as dit kom by die uitdra van die Evangelie en so word Timoteus se klein, ongemaklike verlies vir Paulus én die Koninkryk ‘n reuse wins.
Timoteus het diep in Paulus se hart ingekruip want hy het voluit gewerk om die wonderlike Naam van Jesus groot te maak. Timoteus het baie vinnig geleer en al hoe meer verantwoordelikhede was op sy skouers geplaas. Eerste aan die beurt was die gemeente in Tessalonika wat hy moes gaan besoek namens Paulus. Ons lees daarvan in 1 Tess 3:2. Toe kom Timoteus se groot vuurproef. In 1 Kor 4:14-17 verneem ons van ernstige probleme in Korinte en dit was Timoteus se taak om die probleem te gaan oplos. Uiteindelik breek die groot dag aan waaroor Timoteus baie opgewonde was: sy eie gemeente! Hy word aangestel as leraar in Efese. Twee van Paulus se briewe aan Timoteus in Efese het behoue gebly. Daaruit kan ons aflei watter besonderse man hy eintlik was!
Maar intussen het Paulus in die gevangenis gesit. Hy was natúúrlik baie nuuskierig om te weet hoe dit met die gemeente in Filippi gaan. Die betroubare Timoteus was beskikbaar en hierdie jong evangelis-in-wording word gestuur. Timoteus sou Paulus se oë en ore wees. Wanneer Paulus die gemeente laat weet dat hy vir Timoteus stuur, dan swel sy hart van trots vir hierdie jong man. Hy skryf vir hulle in vers 20: “Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan word wanneer ek julle omstandighede leer ken het. Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie. Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie”. Wat ‘n wonderlike getuienis! Maar dit is nie al nie. Hy gaan voort en vertel hulle hoe betroubaar Timoteus is en hoedat hy saam met Paulus gewerk het om die Evangelie te bedien. Vir hom was Timoteus baie meer as net ‘n kollega of student! Timoteus was vir hom soos sy eie seun.
Met ‘n CV soos hierdie, sou ek baie ver kom in die lewe! Die vraag is: wat staan geskryf op jou CV? Ek dink dat een van die moeilikste werke dié moet wees van ‘n personeelbestuurder, want voordat hy ‘n persoon in diens kan neem, moet hy eers die persoon se CV evalueer. Sommige CV's is skreeusnaaks, want die dinge wat die persoon homself toedig is dikwels uit die duim gesuig of totaal opgeblaas. Ek onthou die getuigskrifte wat ek gekry het toe ek in matriek was. Ek kon nie glo dat dit werklik ek was oor wie die persone geskryf het nie. Hoe kan jy ‘n getuigskrif oor iemand skryf as jy hom nie persoonlik ken nie?
Ek wonder maar net hoe getuigskrifte sou lyk as ons hulle self moes skryf en ons baie eerlik is oor die dinge wat ons skryf. Dalk sou dit ‘n baie goeie oefening wees as ons sou gaan sit en neerskryf presies wat in ons harte en gedagtes omgaan. Ek dink dat die meeste van ons onsself asvaal gaan skrik as ons begin lees wat in ons gedagtewêreld aangaan. Vir sommige gaan daar ‘n “R18” ouderdomsbeperking geplaas word op daardie leesstof, en gaan die skinderboeke wat deesdae so mode is na kinderboeke laat lyk. Die voordeel van so ‘n oefening sou natuurlik wees dat jy dan kan gaan sit en nadink oor die ware betekenis van jou lewe en hoe jy waarlik ‘n lewe nader aan God kan begin leef. Ek dink ook dat dit ons opnuut weer tot die besef sal laat kom van hoe groot die Here se genade oor ons is en dat Hy ten spyte van alles ons steeds liefhet en steeds bereid is om ons te vergewe.
Paulus het baie mooi dinge geskryf oor Timoteus. As hy jou vandag persoonlik sou ken, sou hy ook sulke mooi dinge oor jou kon skryf?
Gebed:
Here, as ek na Timoteus se lewe kyk, dan besef ek hoe bitter vêr ek tekort skiet. Vergewe my asseblief!