Johannes 15:18 - 16:4
Om ‘n Christen te wees, is nie vir sissies nie! Hierdie waarheid het ek al agtergekom toe ek nog op skool was. Vir ‘n begin was ek uitgesluit uit die “groot pret”, omdat ek nie goddeloos was nie. Ek was ‘n “voorbeeldige” outjie, maar nou nie juis ‘n uitgesproke gelowige nie. Op daardie stadium het ek nog nie vir Jesus ontmoet nie, maar my Christelike opvoeding het ‘n groot rol gespeel. Eintlik was ek nóg vis, nóg vlees, want ek was iewers tussen die wêreld en die geloof. Ek onthou egter twee broers wat uitgesproke Christengelowiges was. Hulle pa was ‘n predikant en hulle het hulle geloof ten volle uitgeleef in die skool. Die arme twee outjies was uitgeworpenes! Hulle is gespot en niemand wou iets met hulle te doene hê nie. Hulle het “gedweep” met hulle Godsdiens, só het ons ten minste geglo. Ja, selfs ék het saam gespot! Vandag voel ek skuldig daaroor, want nou weet ek dat hulle nooit gedweep het nie. Hulle het eenvoudig hulle geloof uitgeleef en ek bewonder hulle dat hulle in die wrede wêreld van die kind steeds vasgeklou het aan hulle waardes!
In Jesus se laaste gesprek met Sy dissipels voordat Hy tereggestel word, berei Hy hulle voor vir die verskrikking wat op hulle sou wag. Die afgelope drie jaar het hulle ‘n baie beskermde lewe gehad saam met Hom. Nou het die tyd egter gekom dat hulle die wêreld vierkant in die oë sou moes gaan kyk en dit sou beslis nie maklik wees nie. Hulle het gewoond geraak daaraan dat groot skares mense in vervoering agter hulle aanloop. Nou kom die ontnugtering dat die wêreld hulle sou haat - so sê Jesus. Maar hulle moes nie moed verloor nie, want Jesus het dit alreeds verskeie kere beleef. Die Fariseërs het Hom immers gehaat met ‘n passie! Binne die volgende paar uur sou die dissipels die volle omvang van hierdie haat met afgryse moes aanskou. Hulle moes só daaraan dink, dat as die wêreld hulle sou liefhê, dan sou daar baie groot fout wees! Dan sou hulle mos die eiendom van die goddelose wêreld wees. Hulle moes ook altyd onthou dat hulle diensknegte was van hulle Meester, Jesus en ‘n dienskneg kan mos nie verwag om voorkeur behandeling te kry terwyl sy Meester vervolg word nie? Hy is mos nie belangriker as sy Meester nie, is hy?
Wat vir die dissipels gegeld het, geld ook vir alle gelowiges en dit sluit jou en my vandag in. Jesus is immers baie belangriker as ons! Ons staan nie los van Hom nie, want as gelowiges het ons Hom aanvaar as ons Here en Meester. As Hy vervolg moes word deur die wêreld, moet ons dieselfde kan verwag!
Ons moet egter onthou dat hierdie soort van vervolging iets totaal anders is as die snoeiproses waardeur ons gaan, waarvan ons in die vorige twee dagstukkies gepraat het. Daardie loutering is iets wat die Here aan ons doen om ons geestelik sterk en fiks te maak, amper soos om in die gimnasium te gaan sweet. Dít waarvan Jesus egter hier praat, is iets totaal anders. Dit het te doen met die haat wat die duiwel koester teenoor enige eiendom van God. Eintlik is hierdie hele aanslag gemik op God, maar die duiwel doen dit aan ons omdat ons God se eiendom is en Hy God deur ons probeer bykom!
Die vraag is egter nou, dat as die wêreld so vyandig is teenoor ons, of ons nie eerder maar onsself in ‘n klooster moet gaan afsonder en ‘n beskermde lewe lei waar ons heeldag lank vir God in vrede kan loof en aanbid nie? Nee, baie beslis nie! In verse 26 en 27 lees ons dat Jesus ons juis in hierdie wrede wêreld instuur om van Hom te gaan getuig. As ons nie getuig nie, hoe gaan die kerk tot stand kom? Hoe gaan die kerk oorleef? Dit sal wegkwyn en verdor! Hoe het die kerk in die eerste plek tot stand gekom? Hierdie dissipels het presies gedoen wat Jesus gevra het en hulle het gaan getuig. En elkeen wat tot geloof gekom het, het verder gaan getuig, sodat baie van die mense wat hulleself eers by die vyand, die duiwel geskaar het, tot geloof gekom het.
Natuurlik het hulle nie uitgegaan met leë hande nie! Hulle het die Heilige Gees gehad om hulle te lei in hulle getuienis. Ek en jy het vandag nog steeds die Heilige Gees om ons te lei in ons getuienis!
As jy egter dink dat dit daardie tyd maklik was om te getuig, dan maak jy ‘n groot fout. Hierdie gelowiges was uit die sinagoges en die samelewing uitgesmyt. Hulle is in die tronk gestop en selfs doodgemaak, want wat hulle gedoen het, was gesien as godslasterlik. Ons het dit baie gemaklik hier in Suid-Afrika, want ‘n gelowige kry nie baie teenstand nie, buiten as hy miskien begin getuig en wêreldlinge laat skuldig voel. Daar is egter baie ander lande waar gelowiges vandag afgryslik vervolg word en waar hulle selfs doodgemaak word as hulle durf getuig!
Vandag wil Jesus vir jou en my sê: Moenie bang wees om oor Hom te getuig nie. Ja, dit is nie maklik nie en ek kan selfs verwag dat ek uitgelag, selfs uitgevloek gaan word. Maar onthou dan, dat Jesus presies dieselfde en nog baie meer vir jou en my deurgemaak het. Waarom sal ons dit dan nie vir Hom doen nie?
Gebed:
Here, gee my asseblief vandag die moed en wil en krag om van U te kan getuig.