Geslaan en Gespot

2 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geslaan en Gespot

Markus 15:15-20

VIDEO * OUDIO

Die weermag maak mense gevoelloos en selfs wreed. Ek het al baie stories gehoor wat jou hare laat regop staan, van wat die manne alles aangevang het in hulle weermagjare. Ek was sélf in 1966 in die weermag vir nege maande diensplig. Toé was dit nog redelik mak, maar tydens die bosoorlog het baie van die manne skoon “bossies”geraak en dikwels met moord weggekom! Daar was manne wat absoluut géén respek gehad het vir ander se eiendom nie, en dikwels is van die boere se skape en hoenders sommer net “gevat”! En as sy bees dalk hulle pad sou kruis, dan het dié ook stilletjies verdwyn en die manne het braaivleis gehou met ‘n groot gejuig! Verkragtings en aanrandings was aan die orde van die dag. Gelukkig was meeste van die manne darem “normaal!”

Ongelukkig is dit maar so, dat die weermag mense hard en ongenaakbaar maak, en só was dit natuurlik ook met die Romeinse soldate in Jesus se tyd. Die soldate was rowwe manne wat die frustrasies van hulle harde weermaglewe uitgehaal het op hulle slagoffers.

Pilatus besluit om die Jode hulle sin te gee ter wille van stabiliteit in Jerusalem en Judea, wat juis berug is vir voortdurende politieke onrus. Uiteraard is sy goeie naam op die spel, en hy wil beslis nie deur hoër gesag oor die kole gehaal word oor ‘n opstand nie. Daarom gee hy Jesus oor aan die soldate.

Dit was destyds standaard prosedure dat iemand wat gekruisig sou word, eers gegésel moes word. Die gésel was ‘n sweep met ‘n klomp punte wat stukkies yster vooraan gehad het. Die fliek: “Passion of the Christ” gee ‘n baie goeie voorstelling van die verwoesting wat hierdie martelinstrument aan ‘n mens se liggaam kon aanrig. Die idee was dat die persoon se liggaam só verswak word as gevolg van wonde en bloedverlies, dat dit sy dood sou verhaas met die kruisiging.

Die soldate lei Jesus weg na die binnehof, trek Sy boklere uit en maak Hom aan ‘n paal vas. Met ‘n ontblote rug staan Hy daar, absoluut weerloos teen die Romeinse soldaat met sy gésel. Die eerste hou val op Jesus se rug, en ruk stukkies vleis uit Sy vel. Met brute krag haal die soldaat sy opgeboude frustrasies uit op Jesus. Hou op hou reën op Hom neer terwyl Hy krul en skreeu van pyn. Die manne lag as hulle sien dat hierdie sogenaamde “Koning” die pyn naderhand nie meer kan vat nie. Elke keer as die gésel op Hom neerkom, spat die bloed op die omstanders.

Uiteindelik, na 39 houe is die nagmerrie verby en Jesus word losgemaak. Hy is onherkenbaar stukkend geslaan. Maar steeds is dit nie die einde nie. Nou word die hele afdeling soldate bymekaar geroep. Hierdie is tog ‘n gróót geleentheid as ‘n “Koning” onder hulle hande kan deurloop! Iemand bring ‘n pers mantel na vore, want ‘n koning moet mos purper dra. Dit bulder van die lag as hulle dit vir Jesus om Sy stukkende skouers hang. ‘n Riet moet dien as Sy septer.

Maar dan sit hulle met ‘n dilemma: wat van die kroon? ‘n Koning móét ‘n kroon hê! Een van die soldate onthou van daardie rankplant wat hy gesien het, die een met die allerverskriklikste dorings. Versigtig sny hy ‘n rank af met sy dolk en vleg dit in ‘n kroon. Wanneer dit op Jesus se kop gesit word, bulder die manne weer van die lag. Die kroon word behóórlik vasgedruk sodat die dorings diep in Sy kopvel indring. Hy het nie meer krag om te skree van pyn nie. Bloed stroom oor Sy gefolterde gesig. “Ons groet u, Koning van die Jode!” buig een van die manne gemaak-eerbiedig voor Jesus, en die ander kraai van die lag. Iemand slaan Hom van agter met ‘n stok oor die kop, en forseer die dorings nog dieper in Sy kop in. Die manne buig die knieë voor Hom soos vir ‘n koning, asof hulle vir Hom groot eer betoon. Ander spoeg veragtelik op Hom.

Dan blaf die bevelvoerder dat dit nou genoeg is. Dit word laat, en Jesus moet nog gekruisig word. Hulle pluk die pers mantel af en gee Hom sy klere om aan te trek. Die swaar hout dwarsbalk van die kruis word op Jesus se skouers geplaas en met ‘n tou vasgebind sodat dit nie afval nie. Hy steier onder die gewig van die stuk rowwe hout. En dan word Hy weggelei na ‘n klipkoppie buite die stad, Skedelbeen-koppie, Golgota.

Ek wil my ore toedruk om nie te hoor hoe Jesus skreeu van pyn, daar waar Hy gegésel word nie. Ek wil my hande voor my oë hou om nie te sien hoe die bloed van Hom afstroom nie. Ek wil weghardloop om nie te sien hoe Hy wreed gespot word nie! Besef ons werklik deur hoeveel helse pyn Jesus gegaan het, selfs nog vóór die kruisiging plaasgevind het? Besef ons hoe ondraaglik, hoe onmenslik die lyding was wat Hy moes deurmaak? Vir jou en vir my? Besef ons werklik? Sal ons óóit kan besef hoe duur ons gekoop is? Die vraag is: leef ons ooit genoeg ons dankbaarheid uit?

Gebed:

Here, my hart huil as ek dink aan die lyding wat U vir my moes deurgaan. Gee my ‘n ware dankbare hart, asseblief Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026