Amos 9:7-10
Jan besluit toe nou mos om ‘n muur te bou in sy agterplaas hier in Ballito. Hoe moeilik kan dit dan nou wees om sélf die ou joppie aan te pak? Hy het die bouers goed dopgehou, en hy weet presies hoe om die muur mooi haaks en perfek regop te kry. Al wat hy nooit mooi na gekyk het nie, was hoe hulle die messelklei meng. Maar dis mos maar ‘n eenvoudige formule van sement, sand en water - die sand grawe jy sommer hier in die agterplaas uit. En so breek die Saterdag aan, en Jan grawe sy sand en meng dit noukeurig met nét die regte hoeveelheid sement en water om ‘n slapperige klei te vorm. Dis harde werk, en in die stomende vogtigheid van die Noordkus, stroom die sweet hom af!
En hy begin messel. Maar iets is nie lekker nie. Sy bakstene wil nie mooi hulle lê kry nie - sommer hier reg van die begin af sukkel hy. En dan ontdek hy die klippertjies wat ingesluip het in sy messelklei. Hulle keer dat die stene mooi loop lê. Maar dis nie al nie - nog ‘n frustrerende element in sy “perfekte” klei, is die alewige worteltjies en stokkies en selfs ‘n kriek of twee wat oral opduik en sy lewe versuur!
Jan het skaars twee rye stene ingemessel, toe gee hy moed op. Dis ‘n verlore saak om so te probeer werk. Hy sal die hele hoop messelklei waaraan hy so geswoeg en gesweet het moet weggooi, want om daardie gemors daarin uit te kry is ‘n onbegonne taak. Toe onthou Jan skielik van die ding wat hy by die bouers sien staan het. Hy het nie geweet waarvoor hulle dit gebruik gebruik nie - ‘n sif. Waarom het hy nie daaraan gedink nie? As hy eers die bousand gesif het, was al daardie klippertjies en ander gemors uitgesif, en kon hy met oorgawe sy perfekte muur bou met klei sonder ‘n enkele klippie of worteltjie in!
Amos was sékerlik nie ‘n baie gewilde man in Israel nie. Ons het al gesien dat selfs die priesters hom probeer uitwerk het! Hy moes maar liewers elders sy veroordelende preke gaan lewer, en Israel met rus laat sodat hulle kon aangaan met hulle lewens. Amos het dinge gesê wat seergemaak het. Maar Hy was gehoorsaam aan die Here, en die dinge wat hy gesê het, was die boodskap wat God hom gegee het om oor te dra aan die volk. Vir Amos was dit sékerlik nie lekker nie, want so ver as wat hy gegaan het, het hy vyande opgetel.
Die Israeliete is klaar keelvol vir Amos, en nou kom sê hy vir hulle dat hulle niks anders is as al die ander heidenvolke nie! Dis die laaste strooi! Hoe kan hy? Hulle is immers die uitverkore volk, dié volk wat die Here dáárdie jare gered het uit Egipte! Hulle is die volk van die Almagtige! Jakob was immers hulle voorvader!
Maar dan laat Amos die bom bars: Israel is nie die enigste volk wat ooit deur die Here gered is uit ‘n situasie soos Egipte nie. Hy het ook die Kussiete gered. Hulle kom uit Etiopië, die verste uiteinde van die aarde. Verder het Hy selfs die Filistyne, Israel se grootste aardsvyand uit Kaftor, die eiland Kreta gered. Nóg ‘n aardsvyand van Israel, die Arameërs uit Kir (Mesopotamië) is deur God gered. Daardie uittog uit Egipte was wél ‘n baie groot gebeurtenis in die geskiedenis van Israel, maar uniek was dit beslis nie!
Israel moenie aan hulleself dink as ‘n volk wat beter is as enige ander volk nie. Hulle is nie op meriete gekies om die volk van die Here te wees nie! Hulle was dus niks beter as enige ander volk nie. Lees gerus die geskiedenis van die begin van hierdie volk. Van dag een af het hulle verkriklike dinge aangevang. Hulle oervader Jakob was bekend as die bedrieër by uitstek. Sy seuns, na wie die stamme van Israel vernoem was, het hulle eie broer as ‘n slaaf verkoop. Hulle het boonop gemoor en tekere gegaan, dat jou hare regop staan. Meriete was daar beslis nie, maar die Here het hulle uitgekies uit genade alleen. Omdat Hy wou!
Maar nou het hulle afvalligheid so erg geraak, dat Sy oordeel hulle gaan tref. Israel gaan van die gesig van die aarde afgevee word! Maar steeds is die Here genadig, want iewers tussen al die onreg is daar steeds ‘n paar mensies wat waarlik die Here liefhet. En daarom gaan Hy hulle sif sodat al die klippertjies en kaf en gemors uitgesif word vir die oordeel. Maar nie ‘n enkele regverdige sal verlore gaan nie. Die bouwerk van die Here sal met suiwer klei gebou word!
Ek en jy as gelowiges moet ook baie goed besef dat ons niks beter is as die heidene op wie ons so maklik neerkyk nie. Nie ‘n enkele een van ons is gered uit meriete nie! Slegs die Here se onbegryplike genade het ons gered. Daarom durf ons nie maar terugsit en dink ons kan maar doen wat ons wil nie - ons is mos klaar gered! Die Here verwag júis van ons as bevoorregtes wat Sy genade beleef het om te leef volgens Sy wil. As gelowiges wat gered is moet ons Sy genade weerspieël sodat die wêreld die Here in of deur ons kan sien. Daar rus ‘n baie groot verantwoordelikheid op die skouers van elke gelowige, om die liefde van die Here elke dag aktief uit te leef.
Gebed:
Here, dankie dat U genade ook oor my uitgestort is. Help my om U liefde met ‘n passie uit te leef uit dankbaarheid vir U wonderlike genade.