Genoeg Olie

6 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Genoeg Olie

Matteus 25:1-13

Jesus vertel die aangrypende storie van die tien meisies wat tot laat in die nag gewag het vir die bruidegom om sy opwagting by ‘n bruilof te maak. Daar is ‘n paar vrae wat jy onwillekeurig vir jouself vra wanneer jy die storie lees wat Jesus hier vertel. Daar is 'n paar dinge wat net eenvoudig nie sin maak nie. Waarom het die bruidegom die gaste so lank laat wag? Waarom het die vyf dwase meisies nie genoeg olie saamgebring nie? Het hulle dan nie geweet dat die bruidegom soms laat kon wees nie? Was die bruidegom ooit werklik laat?

As jy net eers ‘n bietjie gaan kyk na die agtergrond van die storie, begin hierdie dinge vir jou sin maak. Ons lewe in ‘n plek in die geskiedenis waar tyd werklik baie groot saak maak. Elke afspraak moet tot op die minuut nagekom word, anders is jou kliënt kwaad en boonop veroorsaak dit dat jy laat gaan wees vir jou volgende afspraak óók. Dikwels is selfs sekondes van uiterste belang. Ons horlosies word wêreldwyd gesinkroniseer. Selfs ons rekenaars en selfone is elke oomblik van die dag tot op die sekonde na presies ingestel op internasionale tyd. Tyd het ons baas geword!

In die eerste eeu was dit totaal anders: daar was in die eerste plek nie sulke goed soos horlosies nie, en die mense het tyd bepaal deur na die son of sterre se stand te kyk. Jy het na jou liggaam geluister, wanneer hy vir jou sê dat hy honger of vaak is, want dan was dit etenstyd of slaaptyd. Dit is net die heel rykes wat die luuksheid van ‘n sonhorlosie kon bekostig. Die Jode se dag het begin met sononder. So het die Sabbat byvoorbeeld begin met sononder op ‘n Vrydagaand en aangehou tot sononder Saterdagaand. Daarvandaan is die dag dan so naastenby in ure ingedeel. Die Romeine se tyd het egter begin om middernag, en vir hulle was tyd al baie belangrik, want ‘n militêre masjien het op tyd geloop.

Daar is egter ‘n ander baie belangrike vraag rondom die begrip van tyd: wanneer was die regte tyd vir ‘n gebeurtenis om plaas te vind? Ons lees nêrens in die Bybel dat daar afsprake gemaak was om iemand op ‘n spesifieke tyd te ontmoet nie. Die feit is dat die belangrikste persoon kon bepaal wanneer die tyd ryp was. So byvoorbeeld sou ‘n persoon gaste uitnooi vir ete, maar daar is nie ‘n tyd daarvoor bepaal nie. Wanneer die maaltyd gereed is, stuur die gasheer boodskappers uit om vir almal te laat weet dat dit tyd is. By ‘n huweliksonthaal was die bruidegom uiteraard die heel belangrikste persoon, en dit was sy voorreg om te bepaal wanneer dit die regte tyd was vir die seremonie om te begin. Almal het dit tog immers geweet, en almal wat uitgenooi was het in groot opgewondenheid gewag. Die bruidegom se koms was immers ‘n groot verrassing. Natuurlik sou dit ‘n klap in die gesig wees as iemand nie gereed sou wees wanneer hy opdaag nie, want die hele seremonie het immers rondom hom gedraai.

Wanneer ons dus hierdie verhaaltjie lees, sien ons gaste wat in groot opgewondenheid wag vir die groot oomblik - die bruidegom se aankoms. Dalk het party van hulle verwag dat hy al vroeg-aand sou aankom. As hy dan in die middel van die nag skielik met ‘n groot gejuig opdaag, dan is hulle lankal nie meer gereed nie. Dit sou ‘n skande wees!

Die belangrikheid van hierdie gedagte word beklemtoon deurdat Jesus dit oor en oor sê. Oor die afgelope paar dae het ons telkens gelees hoedat Jesus vir Sy dissipels die belangrikheid van gereed-wees inhamer. In die toepassing van hierdie verhaal sien ons God as die heel belangrikste Persoon. Hý alleen kan bepaal wanneer die wederkoms is. Natuurlik weet ons dat ál die tekens alreeds daar is, en dat Hy te enige tyd kan kom. Hy het ook reeds die uitnodiging na die groot fees aan almal uitgestuur. Dus moet ons gereed wees, want daardie trompet kan enige oomblik blaas. En wanneer die geskal weerklink, wil ons nie dalk onverhoeds betrap word nie.

Ons hoor dikwels van mense wat wiskundige berekenings maak oor die presiese tyd van die wederkoms, maar dit bly ‘n groot geheimenis waarna ons met groot opgewondenheid uitsien. Daar is selfs mense (die Jehovah’s Getuies) wat sê dat die wederkoms alreeds plaasgevind het. Maar waarom het ons dan nie daarvan geweet nie?

Natuurlik is daar ook ‘n ander faktor wat ons in gedagte moet hou, naamlik die totale onvoorspelbaarheid van die tyd waarin ons leef. Daagliks lees ons in die koerante van rooftogte waar mense vermoor is. Op die pad is jy net so min seker van jou lewe, en in ‘n oogwink kan jy die ewigheid ingeruk word. Is jy gereed daarvoor? Die 11de September se gebeure 'n paar jaar gelede het gewys dat jy nêrens veilig is nie. Duisende mense het binne minute gesterf in ‘n “veilige” gebou. In die plofbare Midde-Ooste is daar daagliks bomontploffings en gevegte wat talle mense die ewigheid inruk. Selfs in Europa en Brittaje is daar deesdae kort-kort 'n terreuraanval wat talle lewens eis.

En asof die skrikwekkende dinge nie genoeg is nie, kan ’n hartaanval kom soos ’n dief in die nag! Het jy genoeg “olie” in jou lewenslampie vir die oomblik wanneer die Bruidegom onverwags kom? Het jy al by Jesus uitgekom?

Gebed:

Here, gee my asseblief vandag die ywer om gereed te wees vir U koms, en die geduld om opgewonde op U te wag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026