Genesis 6:5-12
Adam en Eva is verban uit die tuin as gevolg van hulle sonde. Nogtans was God genadig, en Eva het geboorte geskenk aan twee seuns, Kain en Abel. Dan is daar egter ‘n groot tragedie toe Kain sy broer vermoor het. Selfs na hierdie verfoeilike daad van Kain, is God steeds genadig, en Hy spaar Kain se lewe. Dan volg die geboorte van Set, en Genesis 4:26 vertel dat na die geboorte van Set se seun, mense begin het om “die Naam van die Here aan te roep.”
Dan volg ‘n lang geskiedenis wat gekenmerk word deur die totale verval van die mensdom, waar geweld en goddeloosheid botoon voer. Slegs enkele ligpuntjies staan uit, soos Henog wat “naby aan God geleef het” (Gen. 5:24). Die res was egter donker tye wat al erger geword het, totdat dit uiteindelik ondraaglik was. Genesis 6:5,6 vertel dat die mense net slegte dinge bedink het en dat die Here bedroef was oor die verskriklike verval. Hy het dit selfs oorweeg om al die inwoners van die aarde te verdelg!
Maar weereens is dit God se groot genade wat swaarder weeg. Daar was een enkele mens wat nog regverdig was, Noag, en God het hom begenadig.
Hy vertel vir Noag van Sy plan om die korrupte mensdom uit te wis, maar dat Hy Noag sal spaar. Dan gee Hy Noag ‘n opdrag: “Die einde van alle mense het, volgens My besluit, aangebreek; want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Kyk, Ek gaan hulle verdelg saam met die aarde. Maak vir jou 'n ark van goferhout.” Gen. 6:13-14)
Moontlik het die verhaal iets soos hierdie verloop:
“Noag, Ek wil hê dat jy ‘n skip bou.”
“’n Skip, Here? Waarom? Ek verstaan nie.....”
“Ek het besluit om ‘n einde te maak aan alle mense, want die aarde het ontaard in ‘n kookpot van geweld.”
Noag sug swaar as hy herkou aan die woorde van die Here. “Ja, so kan dit beslis nie aangaan nie!” dink hy. “Die Here is reg: Die aarde moet ‘n slag skoongemaak word, want alles het sleg geword!”
Noag wonder wat die mense se reaksie gaan wees as hy hier in die middel van die woestyn ‘n skip begin bou. Hulle gaan dink dat hy nou finaal siniel begin word het. Hy is immers al 600 jaar oud, een van die laaste baie ou manne wat oorgebly het.
Maar skielik tref ‘n gedagte vir Noag: hoe bou ‘n mens ‘n skip? Ek is g’n skeepsbouer nie? Waar begin jy? Waarvan maak jy hom?
“Here, ek weet nie hoe nie!” pleit hy by God. “En boonop, waarom ‘n skip in die woestyn? Hier is mos nie water nie? Here, ek verstaan gladnie.....”
Dan antwoord die Here hom: “Ek gaan ‘n vloed oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Al wat lewe op die aarde gaan vernietig word!”
“En die skip, Here, wie gaan in die skip wees?”
“Noag, Ek gaan met jou ‘n verbond sluit. Ek wil hê dat jy en jou vrou en kinders op die skip klim. Ek sal julle bewaar sodat julle kan bly lewe.”
Noag is baie verlig. Nou weet hy darem dat hy en sy gesin veilig gaan wees. Sjoe, maar dit gaan darem verskriklik wees as al die mense moet verdrink! Maar dan tref ‘n nuwe skokgedagte vir Noag: Wat van die diere? Wanneer hierdie water waarvan die Here praat gesak het, gaan die aarde darem ‘n baie eensame plek wees as daar nie ‘n paar diere ook oorbly nie. “Here.....” begin Noag.
Maar God weet al lankal van sy bekommernisse nog voordat Noag daaraan gedink het: “Noag, jy hoef nie bekommerd te wees oor die diere nie. Dit gaan jou taak wees om twee van elke soort dier op aarde bymekaar te maak en saam met jou op die skip te neem.”
Dit wat oorspronklik goed was, het die mens geruïneer. Nou bly net een ding oor: om die ruïnes plat te vee en oor te begin.
Ons sien dus duidelik dat die mens sélf verantwoordelik was vir die vloed. Dit was hulle eie toedoen, en God se besluit om alles te vernietig was bloot die gevolg van die mens se verskriklike dade.
Ek en jy leef vandag ook in ‘n bitter deurmekaar wêreld. Misdaad, geweld, onreg, bedrog, moord, verkragting - al hierdie dinge is by ons baie bekend. Baie mense het moeg geword vir al hierdie gemors, selfs ook ongelowiges. Almal soek na ‘n klein “Noag” wat rus kan bring. Maar elke “Noag” wat gebore word het ook maar voete van klei. En die onreg stoomroller voort!
Maar daar is hoop, want Jesus bring redding waar alles totaal verlore lyk. Ja, en inderdáád het Hy die dood oorwin! Hy vra slegs van jou en my om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan en naby aan God te leef soos Noag van ouds.
En dan is daar boonop ook nog die groot hoop waarna alle gelowiges reikhalsend uitsien, daardie groot hoop waarvan Johannes skryf in Openbaring. En daardie groot hoop waarvan die engel gepraat het tydens Jesus se hemelvaart. Wanneer Jesus se wederkoms die dag plaasvind, sal alles splinternuut gemaak word. Daar sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wees waar alles absoluut perfek en vlekkeloos sal wees, sonder die geringste teken van sondesmet. Sien jy ook uit daarna?
Gebed:
Here, vandag is daar baie vrae in ons gemoed oor hierdie verhaal. Maar dan kan ons troos kry dat U genade vir ons oorgenoeg is. En boonop is daar die vooruitsig van die wederkoms! Dankie daarvoor Here!