Genade in die Tuin

16 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Genade in die Tuin

Genesis 1:29-2:1-14

VIDEO * OUDIO

In hierdie reeks wil ek graag poog om jou ‘n blik te gee op iets van God se groot genade. Ons gaan oor die volgende weke deur die Bybel blaai om te sien hoe Sy genade deursyfer in feitlik elke situasie regdeur die geskiedenis. Ons begin sommer reg by die begin, Genesis 1, die skepping en die aangrypende tuinverhaal.

God se skepping was volmaak. Maar hier begin ons eerste vraag reeds, want wat is volmaak? Vir meeste besoekers aan die wildtuin is dit om te kan sien hoedat ‘n leeu ‘n bokkie vang en opvreet, of luiperd sy bloederige prooi in die boom ophys! Vir Jesaja is die Messiaanse vredesryk die volmaakte, waar die wolf en die lam saam bly en die luiperd tussen die bokkies lê, waar leeus gras vreet en babatjies met slange speel. Dis volmaak! (Jes. 11)

Maar was die oorspronklike skepping dan nie volmaak nie? O, dit was beslis! Oorspronklik het God vir mens en dier voldoende voorsien, en God het vir die eerste mense vrugte en sade gegee om te eet.

Daar het dus ‘n vrederyk op die aarde geheers nét soos die vrederyk wat vir ons beskryf word na die wederkoms van Jesus. Die skrywer van Genesis maak die opmerking: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed!”

Dan kom die verrassende. Dag ses is verby en dag sewe breek aan. Ons wil dink dat die skepping nou verby is. Maar dit is nie. Op dag sewe skep God nog een laaste ding. Dis egter nie ‘n konkrete iets wat ons kan sien nie, maar Hy skep ‘n rusdag. Daarmee begin God ‘n siklus van arbeid en rus, iets wat deur die eeue gevolg is en wat noodsaaklik is vir enige mens. Boonop verklaar God dit as ‘n heilige dag, ‘n dag wat anders moes wees as ander dae en vir God afgesonder moet wees. Dit was nooit bedoel as ‘n dag wat vir die mens ‘n las moes wees nie, maar dit moes vir hom heilsaam wees. Dis met ander woorde vir die mens suiwer GENADE!

Toe Genesis 1 op skrif gestel is tydens die ballingskap, in antwoord op die Babiloniese skeppingsverhaal die Enuma Elish Epos, het hierdie rusdag vir Israel ‘n nuwe betekenis begin kry. Dit is gekoppel aan hulle verlossing uit die slawerny van Egipte. Hulle het begin besef dat dit nie bloot maar ‘n dag is van rus en niksdoen nie, maar dat die dag aan God verbind is. Dit wil iets oor God sê. Eerstens verklaar dit dat God inderdáád die Skepper is en dat Hy steeds in beheer staan van alles, ten spyte daarvan dat hulle in ballingskap verkeer. Terloops, groot dele van die destyds bestaande Ou Testament, is tydens die ballingskap geherinterpreteer en geherskryf deur die priesters.

Hierdie rusdag moes ook dien as ‘n onderskeidingsteken, want God se volk was anders as die ander volke. Om die dag heilig deur te bring en tot eer van die Skeppergod, moes hulle vir almal wys dat hulle God aanbid het en dat hulle in ‘n verhouding met Hom staan.

Die skepping was voltooi. Dit was ‘n lang proses wat begin het by niks en duisternis en chaos. Dit het geëindig by ‘n kosmos, volmaaktheid en lig. Daar was orde in God se skepping. Hy het die kroon van Sy skepping, die mens gemaak en iets van Homself in die mens geplant. Nou kon die interaksie tussen God en Sy baie spesiale skepsel begin.

Genesis 2, die tuinverhaal het reeds in Salomo se tyd, 1’000vC bestaan en beskou die skepping uit ‘n ander hoek. Genesis 1 vertel van die Skepper en Sy werke, terwyl Genesis 2 vertel van die skepsel, die mens, en hoe hy op God se skepping reageer.

Die fokus verskuif na een klein gedeelte van die skepping iewers in die midde-ooste waar God die mens skep uit die stof van die aarde. Alhoewel hy die kroon van die skepping is, is hy steeds nietig en verganklik en van die grond. Maar God het persoonlik die lewensasem in sy neus geblaas. Hy word God se verteenwoordiger met God se asem in sy liggaam, maar hy is steeds deel van die aarde. Nogtans heg God groot waarde aan hierdie nietige skepsel!

God gee hierdie besonderse skepsel van Hom net die beste. Hy skep ‘n paradys-tuin waar alles perfek en ongeskonde is, spesiaal vir die mens om in te woon. Alles was daar in oorvloed, oorgenoeg heerlike vrugte om van te eet, asemrowende skoonheid van die natuur en oorgenoeg kristalhelder vars water en ‘n groot verskeidenheid pragtige bome. Twee van die bome word baie pertinent genoem, die boom van lewe en die boom van kennis.

In hierdie asemrowende tuin het ‘n rivier sy oorsprong. Die rivier verdeel om vier groot riviere te vorm wat deur verskeie landstreke vloei. Daar word so terloops genoem van goud en edelstene in een van die riviere. Hierdie tuin se invloed is dus nie beperk tot die gedeelte waar die mens woon nie, maar sy invloed strek oor baie landstreke en bring selfs rykdom.

Die tuin is dus die simbool van absolute geluksaligheid, oorvloed en vreugde en dít wat daaruit voortvloei gee vrugbaarheid en voorspoed. Dit pols van lewe!

Die vreugde en geluk wat uit God se teenwoordigheid voortspruit, vloei oor na ander plekke. Wanneer jy die dag vir God ontmoet, word jy self ‘n bron van lewe!

Een ding moet ons egter baie duidelik besef: alles, ALLES is suiwer God se gróót genade!

Gebed:

Here, dankie vir U groot genade wat ons ook in die skeppingsverhaal sien. Dankie dat U ook die bron van lewe vir my gegee het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026