Nehemia 1:1-7
Die wet op gemengde huwelike het destyds vir sommige mense groot hartseer veroorsaak. Vir ander was dit weer ‘n baie ernstige saak wat Bybels gefundeer was. Sommige mense het met groot woede reageer teen die wet, terwyl ander weer met ewe groot woede reageer het teenoor diegene wat dié wet oortree het. Die kerk het die wet verdedig met Bybelse gronde dat dit wél geregverdig was, terwyl ander kerkgroepe weer heftig geprotesteer het dat daar géén Bybelse gronde daarvoor was nie. Hulle is as rebelle en “kommuniste” beskou! Wie was reg?
Ek wil my nie uitlaat oor wie reg en verkeerd was nie, want vandag is die debat steeds aan die gang, hoofsaaklik gegrond op sosiale oorwegings. Ek wil beslis nie in ‘n debat hierby betrokke raak nie! Maar in Nehemia se tyd was dit ‘n baie teer saak. Ons kan egter nie op grond van dit wat in daardie tyd ‘n baie belangrike oorweging was, ‘n uitspraak maak wat gemengde huwelike vandag sou afskiet nie!
Kom ons kyk ‘n bietjie wat in die Bybel hieroor geskryf is om te verstaan wat die probleem was in Nehemia se tyd, asook hoe ons dit vandag moet interpreteer.
As ons dink aan gemengde huwelike, dan is die eerste persoon wat by ons opkom die wyse koning Salomo en sy duisend vroue. Alhoewel hy as die “koning van liefde” beskou word, was sy huwelike hoofsaaklik as gevolg van politieke redes. Hy het getrou met dogters van konings van ander volke om sodoende bande te smee sodat hy nie deur hulle aangeval sou word nie, en nie uit liefde nie. Dit was alles goed en wel, maar uiteindelik is hy deur sy vroue verlei tot afgodery, en dis waar die groot probleem ingekom het!
‘n Tweede voorbeeld is die sterk man, Simson. Die Filistynse Delila was uiteindelik sy ondergang. Ook Dawid was verlei deur ‘n Hittitiese vrou, en dit het gelei tot moord!
Maar dan moet ons ook die ander sy van die saak raaksien. Ragab was nie alleen ‘n prostituut nie maar ook ‘n Kanaäniet. Sy het egter met ‘n Israeliet, Salmon getrou. Die groot Koning Dawid is uit haar nageslag gebore, en so ook uiteindelik Jesus, die Verlosser. Haar seun, Boas is later getroud met nóg ‘n heidense meisie, die Moabiet Rut. Alles gemengde huwelike!
In Nehemia se tyd was daar egter ander faktore wat daartoe aanleiding gegee het dat die Judeërs ‘n onderneming moes teken dat hulle nie by gemengde huwelike betrokke sou raak nie. Die gevaar was altyd daar dat die huweliksmaats hulle tot afgodery sou kon verlei soos die geval was met Salomo.
Daar was egter ook ander faktore. Nehemia het mense teëgekom wie se kinders gladnie meer hulle eie taal, Hebreeus kon praat nie, hulle het Asdods of die een of ander heidense taal gepraat. Hulle kon dus nie opgroei as deel van die volk nie!
Daar was egter ander, meer ernstige gevolge. Een voorbeeld was die kleinseun van die hoëpriester, Eljasib wat met Sanballat se dogter getroud was. Hy sou uiteindelik hoëpriester word, en omdat hy met ‘n heiden getroud was, sou dit die heiligdom skend omdat hy permanent onrein was. Erger nog, was dat sy seun ná hom óók hoëpriester sou word! Dit sou beteken dat ‘n half-heiden die werk van God in die tempel sou moes doen! Dit was ongehoord! Nehemia was woedend! Hy het die man weggejaag!
Ons sluit die boek Nehemia af deur enkele opmerkings.
Ons moet besef dat ons nooit in ons huidige lewe van sonde en die gevolge daarvan gaan ontslae raak nie. Nehemia het dit baie gou agtergekom! Niemand is daarvan gevrywaar nie, selfs nie eers die kerk nie. Die enigste raad is dat ons gelowiges gedurig daarteen moet waak en mekaar moet aanmoedig en ondersteun.
Esra en Nehemia het ‘n groot invloed gehad op latere geslagte. Hulle was grootliks daarvoor verantwoordelik dat die “Wet van Moses” die gesagvolle maatstaf vir die lewe geword het. Dit was ook die begin van die aanvaarding van spesifieke boeke wat uiteindelik die Woord van God geword het, en wat ons steeds vandag aanvaar as die Ou Testament.
Dit is juis ook in hulle tyd waar die Joodse gemeenskap se baie kenmerkende eienskappe vorm begin kry het. Hier was die basis gevorm van suiwerheid van afkoms asook hulle getrouheid aan die Tora en veral die onderhouding van die Sabbat.
Ongelukkig het dit ook gelei tot ‘n baie letterlike vertolking van die wet, wat uiteindelik wetties geïnterpreteer en uitgeleef was. Dit het veral later in die lewens van die Fariseërs en Skrifgeleerdes in die Nuwe Testamentiese tyd baie sterk na vore gekom. En natuurlik het dit uiteindelik die platform geskep vir die koms van die Messias.
Die boeke Esra en Nehemia is vandag vir ons as moderne gelowiges uiters relevant. Ons sal op ‘n later stadium ook vir Esra takel.
Gebed:
Here, dit is dikwels so moeilik om U Woord reg te verstaan. Ek vra vir wysheid om te hoor uit U Woord wat U vir my wil sê!