Matteus 21:18-22
In die wildtuin kom ons eenmaal op ‘n gompou af wat bitter ongelukkig lyk. As jy dalk nie ‘n gompou ken nie - hy is ‘n baie groot voël, die swaarste voël wat kan vlieg in die wêreld. Hy staan so amper ‘n meter en ‘n half in sy sokkies en ‘n vlerkspan van byna 3 meter. Dis 'n klomp moeite vir so 'n swaar voël om in die lug te kom, en daarom spandeer hy die grootste deel van sy lewe op die grond.
Naby hierdie voël staan ‘n paar rooibokke rustig en wei. Wel, dit wás rustig totdat hulle per ongeluk die gompou se spasie betree. Skielik begin Gompou sommer aggressief raak en die arme bokke word wild en wakker verjaag! Sy maak haarself nóg groter as wat sy is deur haar nekvere op te blaas en sommer baie lelik te lyk. Die bokke laat spaander uit vrees vir hierdie “monster!” Eers dán raak sy weer rustig. Ek vermoed dat sy daar iewers ‘n nes gehad het om te beskerm.
Dit laat my toe dink aan ‘n soortgelyke situasie toe ons ‘n buffelbul sien wat op ‘n bontkiewiet se nes afgestap gekom het. Die buffel is natuurlik ‘n groot stuk vleis en die kiewietjie maar skaars ‘n baksteen hoog. Maar hierdie voëltjie het ‘n verskriklike kabaal opgeskop en keer op keer rakelings by die buffel verbygevlieg totdat die ou kêrel uiteindelik die boodskap kon kry dat hy nie daar welkom was nie. As dit 'n mens was, het daardie kiewietjie sékerlik baie hard gebid, en dalk so ook die gompou. Ja, ook háár kosbare nessie het ongeskonde gebly!
Help dit ooit om te bid?
Wat ‘n vraag!
Jesus verduidelik aan die dissipels oor die krag van ‘n gelowige gebed. Alles het begin met 'n baie ontstellende insident met 'n vyeboom.
Jesus en Sy dissipels het die nag in Betanië deurgebring, ‘n dorpie nét buite Jerusalem. Vroegoggend was hulle weer op pad terug na Jerusalem. Hulle was honger en toe daar ‘n vyeboom, pragtig uitgedos in lowergroen blare reg langs die pad staan, was hulle opgewonde want hier sou iets te ete wees vir daardie leë mae, dalk 'n paar heerlike sappige vye. Maar tevergeefs, want die boom het nie ‘n enkele vrug aan gehad nie. Toe gebeur ‘n ontstellende ding: Jesus het die boom vervloek en onmiddellik het dit begin om totaal te verdroog. “Mag jy tot in ewigheid nooit weer vrug dra nie!” Hoe kon Jesus so ‘n verskriklike ding sê?!
Die insident drup egter van simboliek, en hiermee wou Jesus twee dinge illustreer: vir die praktiese hier-en-nou wou Hy vir die dissipels die krag van gelowige gebed verduidelik. Daar is egter ook ‘n dieperliggende simboliek: Hierdie vyeboom simboliseer die volk Israel. Oppervlakkig was hulle pragtig, lowergroen, en het hulle baie hard gewerk om die wet te onderhou. Uiterlik was hulle verskriklik voorbeeldig en g’n sonde was geduld nie. As enigeen dalk sou struikel, veral as jy boonop ‘n vrou was, was jy summier met klippe doodgegooi om die euwel uit die samelewing uit te roei. Daardie “vyeboom” moes tog net uiterlik baie mooi lyk te alle tye!
Inherent was die volk egter korrup. Daar was nie ‘n enkele vrug aan hierdie boom nie. Alles het net om hulleself gedraai. Hulle moes lewe om vir hulleself ‘n paadjie oop te werk na die saligheid. In die proses het hulle getrap op enigeen wat daardie droom dalk kon suur maak. Dit is nou al 2000 jaar later, en dit is nog presies dieselfde. My dogter het vir drie jaar in Israel gebly en vir Jode gewerk, en daar het sy hierdie dinge eerstehands ervaar en as ‘n senuweewrak teruggekom. Die feit dat Jesus die vyeboom onmiddellik laat verdroog het, beklemtoon die verskriklike erns van die saak: Israel se tyd was verby! God sou Israel vervang met ‘n nuwe volk wat wél vrug sou dra.
As ons nou hierdie gedagte ‘n bietjie verder sou voer, dan beloof Jesus aan Sy dissipels en aan die kerk ‘n nuwe lewe. In gebed en geloof sal hulle letterlik berge kan versit. “Berge versit” is ‘n integrale deel van God se werksaamhede in die eindtyd, soos ons duidelik lees in Jesaja 40. Wanneer die dissipels dus op God sou vertrou, binne Sy wil sou leef en Sy mag deur gebed in werking sou stel, sou hulle God se groot dade beleef.
As kerk van Christus moet ons egter baie versigtig wees dat ons nie dalk dieselfde paadjie loop as Israel nie. Ek het so dikwels gesien dat ‘n gemeente daardie pragtige lowergroen van die vyeboom vertoon, maar dat dit nes Israel van ouds ook slegs uiterlik is. Van vrugte is daar weinig sprake. Alles gaan daaroor om vir die wêreld te wys hoe goed en suksesvol hulle is. Ek ken egter ook ander gemeentes waar die liefde van God uitgestraal word en waar daar volop vrugte is. En dan kan jy ook maar gaan kyk na die gebedslewe in so ‘n gemeente. Daar word dit lewend gehou en gemeentelede staan gewoonlik daar in ‘n gebedsverhouding met God. Gebed versit verséker berge!
Gebed:
Here, U het belowe dat ek groot dinge kan vermag as ek in geloof tot U bid. Gee my asseblief die vertroue om die geloof in werking te stel, al is dit so klein soos ‘n mosterdsaad.