Handelinge 2:37-42
'n Paar jaar gelede kom vertel een van Ballito se kerkleiers baie opgewonde van 'n groepie Amerikaners wat hier in Suid-Afrika 'n toneel opvoer met die titel “Heaven’s Gates & Hell’s Flames.” Hy wonder toe of ons dit nie hier in Ballito kon gebruik nie? Ek was maar baie skepties want ek ken mos Ballito en ek wéét mos dat slegs 'n klein handjievol mense óóit so 'n ding ondersteun.
Uiteindelik het hy ál die verskillende kerke op Ballito bymekaar gekry en ons besluit om die kans te waag om die toneelstuk op te voer. Die Amerikaanse span sou die verhoogstuk organiseer en die opleiding en dekor verskaf, maar al die akteurs moes uit die plaaslike gemeentes kom. Dit sou ook slegs werk as elke liewe kerk in Ballito sou inkoop in hierdie projek. Ek was steeds maar uiters skepties want soos ek gesê het, ek ken mos Ballito! Dieselfde ou paartjies sou maar net weer kom kyk!
Daar word besluit om die skoolsaal op uMhlali te gebruik want dit was op daardie stadium die enigste behoorlike saal in die omgewing. Nou moet ek eers verduidelik: uMhlali was ‘n ou klein gehuggie met tien spoorweghuise, ‘n kroeg, 'n skool en ‘n paar winkels. Dis al!
‘n Twintigtal akteurs word uit die verskillende kerke gewerf, asook ‘n paar dosyn beraders wat ná die vertonings met mense kon gesels. Meeste van die “akteurs” het nog nooit die bokant van ‘n verhoog gesien nie, maar elkeen was gewillig om te leer. En toe begin die harde werk! Vir ‘n volle week lank word die verskillende rolle ingedril in elke speler. Gelukkig het elkeen net ‘n ou klein rolletjie gekry maar saam het dit ‘n groot verhoogstuk gemaak. Die spelers en beraders was egter maar die puntjie van die ysberg want agter die skerms was daar ‘n horde mense wat georganiseer het, gehelp het met grimering ens. Daar was ook ‘n reuse gebedsgroep wat vir die volle duur van die vertoning saam gebid het.
Openingsaand word al die gemeentes uitgenooi om te kom kyk. Hulle kry die taak om die woord wyd en syd te gaan versprei om mense hierheen te lok. Dit was ‘n sukses, die saal was amper vol en dié wat dit bygewoon het was in ekstase. Dis ‘n aangrypende toneelstuk wat jou diep in die hart ruk. En daardie mense hét gaan vertel!
Die volgende aand was die saal stampvol nuuskierige mense. Natúúrlik het hulle vir al hulle vriende vertel, gevolglik moes honderde mense die volgende aand teleurgesteld omdraai omdat daar net eenvoudig nie genoeg plek was nie. Mense het buite rondom die saal gestaan en die vertoning deur die vensters gekyk. Na elke vertoning was daar ‘n massa mense wat vir berading gekom het en die arme beraders moes bontstaan om met almal gesprekke te kon voer. Vir 'n volle twee weke voer ons elke aand die toneelstuk op en elke aand was die skoolsaal in die klein dorpie tot oorlopens toe vol! Hoeveel mense daar gedurende hierdie vertoning tot bekering gekom het, weet ek nie maar dit was ‘n reuse skare wat meestal uit die heidendom van Hindoeïsme vir die Here bereik is. Daar was ook opvolg gesprekke met elkeen van die bekeerlinge en hulle is na verskillende kerke verwys.
Wat het hier gebeur? Die Heilige Gees het ‘n klompie doodgewone mense gebruik wat gewillig was om hulleself beskikbaar te stel om die harte van derduisende mense aan te raak. Hulle het maar net gedoen wat hulle móés doen en die Heilige Gees het ál die oortuigingswerk gedoen!
Alles het eintlik begin op Pinksterdag, ná die uitstorting van die Heilige Gees. Na die asemrowende gebeure was dit die eenvoudige visserman, Petrus, wat opgestaan en gepraat het met die nuuskierige skare wat daar saamgedrom het om te kom kyk wat aangaan. Hy was g’n Skrifgeleerde, Rabbi of predikant nie maar hy was gewillig om homself tot beskikking van die Heilige Gees te stel.
Petrus se boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle en word gedoop in Jesus se Naam!” Dit was Petrus se antwoord toe die mense wou weet wat hulle te doen staan.
Die resultate was absoluut verstommend: 'n volle drieduisend mense het daardie dag tot bekering gekom! Die miserabele groepie van 120 gelowiges wat die oggend bymekaargekom het, het skielik aangegroei tot ‘n reuse skare van begeesterde gelowiges, alles op een enkele dag! Nou is daar ‘n behóórlike fondament gelê vir die kerk van Jesus. En dit deur een enkele eenvoudige preek! Maar wag ‘n bietjie: hierdie preek was nou nie juis wat ‘n mens sou noem ‘n oratoriese meesterstuk nie! Dit was teen alle standaarde gemeet maar redelik power! Die antwoord lê in die wonderlike, onverklaarbare werking van die Heilige Gees. Petrus was gewillig om die Gees deur hom te laat werk en dit was heeltemal goed genoeg.
Al wat die Here van my en jou vra, is om gewillig te wees en onsself beskikbaar te stel. Hy, die Heilige Gees sal die res doen.
Die vraag is: wat kan ek as doodgewone mens doen? Ek weet nie eers waar om te begin om die evangelie te verkondig nie?
Die goeie nuus is dat elke gelowige, maak nie saak hóé ver hy op die geloofspad gevorder het nie, ten volle by magte is om die evangelie uit te dra. Ja, selfs ook jy! Luister fyn na die Stem van die Heilige Gees en wees gewillig om selfs die onbenulligste takie vir Hom te verrig. Aan die einde van die dag kan dit ontplof in ‘n reuse wonderwerk. Om maar net hierdie dagstukkies na iemand anders aan te stuur, is al klaar ‘n metode van evangelisasie! Die wêreld is honger vir die evangelie! En ‘n gesig wat blydskap toon kan ‘n hele kantoor vol mense beïnvloed en van Jesus vertel!
Gebed:
Here, my gebed is dat elkeen wat vandag hierdie dagstukkie lees, bereid gaan wees om U wonderlike boodskap van verlossing te versprei!