Geloofsbelydenis

22 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloofsbelydenis

Hebreërs  1:1-4

VIDEO | LUISTER

Die boek Hebreërs begin met 'n geloofsbelydenis oor Jesus. Wat glo ons van Jesus? Die skrywer wil hierdie punt opklaar en duidelik maak voordat hy verder gaan met sy skrywe, sodat ons sal weet van Wie hy skryf.

Gelowiges word dikwels verswelg deur ‘n wêreld van ongeloof - of so voel dit ten minste vir ons. “God is dood!” hoor ons dikwels! Of: “Hoe kan daar ‘n God wees as die wêreld in so ‘n gemors is?” en “Waar was God op 11 September, toe die grootste ramp in Amerika se geskiedenis plaasgevind het?” “Hoe kan ‘n God van liefde toelaat dat ‘n tsoenami Japan tref en derduisende mense dood? Dit het skokgolwe reg om die wêreld gestuur!” “Dink jy dat as daar werklik ’n God is, dat Hy die verwoestende oorlog in Gasa sou toelaat?” “Kyk maar hoe lyk dit vandag in Suid Afrika en baie ander lande, waar die sonde hoogty vier! Is daar ooit ‘n God?”

As jy die dag met sulke neerhalende en gelooflose vrae en stellings gekonfronteer word, is die eerste paar verse van Hebreërs soos die lafenis van ‘n koel fontein in die versengende hitte van ‘n dor woestyn. Die Hebreërskrywer wil dan rég aan die begin van sy preek, met hierdie geloofsbelydenis vir ons sê dat ons met sékerheid kan glo in Jesus.

In Hebreërs se eerste verse lei die skrywer ons om te glo dat Jesus hierdie wêreld gemaak het. Hierdie is nie sommer maar net ‘n ligtelike bewering nie. Dink maar vir ‘n oomblik presies wat dit beteken. As die skrywer sê dat Jesus die wêreld gemaak het, sluit hy hiermee outomaties die heelal in. Boonop bevestig Johannes dit in die eerste verse van sy Evangelie. Vandag weet ons natuurlik dat die wêreld maar ‘n bitter klein spikkeltjie in die heelal is!

Maar kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die onbeskryflike groot ruimte daar buite, en ons kyk net na die dinge hier reg rondom ons. Ek sit vanoggend in my kantoor, besig om ‘n dagstukkie te skryf. Die Mangoboom voor my venster is vol in die blom en duisende bye en ander insekte kom deel in die fees. Dan sak die wewertjies toe, en dit kletter en kloek dat dit 'n aardigheid is! 'n Paar frette en mossies kom sit hier op die grond vlakvoor my en saadjies soek.

My hart slaan ampertjies bollemakiesie as ek die koddige Hoep-hoep met sy naald-dun snaweltjie gewaar waar hy soek vir krieke op die grasperk. Sy kleurvolle swart en oranje kuif staan windmakerig in die vroeë oggendsonnetjie. 'n Mikstert byevangertjie kom sit parmantig op 'n takkie en wonder watter by om eerste by te kom. Sy pikswart veredos blink in die strale van die son. ‘n Kleurvolle Papegaaiduif koer tussen die digte blare van die Mango en ‘n Kuifkop Houtkappertjie “tjirrrrrr” dat die biesies bewe!

Ek het hierdie wondere soveel maal al gesien, maar elke keer is dit ‘n onvergeetlike ervaring. Daardie kleure kan geen kunstenaar namaak nie. Ek het al verskeie kere probeer om dit met my kamera vas te vang, maar elke keer is ek teleurgestel met die resultaat, want hoe kan jy óóit Jesus se skepping namaak?

Ten spyte van die feit dat die mensdom so hard probeer om Jesus se wonderlike skepping te verwoes, hou Hy dit steeds in stand. Hy is steeds in beheer! Dit neem natuurlik nie ons eie verantwoordelikheid weg om op te hou om Sy skepping op te mors nie! Inteendeel: dit plaas op ons ‘n groot verantwoordelikheid om juis die skepping te respekteer, en te koester, want dit is die handewerk van Jesus!

Die skrywer snak met verwondering na sy asem as hy beskryf hoe die heerlikheid van God uit Jesus straal. Die Hebreërskrywer se geloofsbelydenis word ‘n borrelende lofbetuiging aan Hom wat verhewe is bo alles en almal. “Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese,” jubel hy.

‘n Geloofsbelydenis kan net eenvoudig nie volledig wees as ons nie ook bely dat Jesus die Een is wat reiniging van sondes bewerkstellig het nie. Hier word dit dalk net in ‘n enkele sinnetjie gemeld, maar daar is veel meer aan hierdie gedagte. Ons reiniging van sondes het behels dat Jesus, die Almagtige Heerser en Skepper-God Homself moes verneder om as baba gebore te word in ‘n stinkende stal vol diere; dat Hy moes werk as ‘n timmerman en al die vernederings deurgaan waaraan ‘n kind in daardie jare onderwerp was; dat Hy uit Sy eie tuisdorp weggejaag is; dat Hy verskeie male uitgejou is; dat Hy vals beskuldig is; dat Hy gemartel is, en uiteindelik die vloekdood aan die gewraakte kruis moes sterf! So moes Hy betaal vir ons sondes, en só het Hy die reiniging van sondes bewerkstellig.

Maar nou sit Hy, volgens vers 3 “aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes.” Hy is verhewe, selfs bo al die engele.

Voor Jesus kan ons maar net neerval in aanbidding, as ons lees hoe heilig en hoog verhewe Hy is. Ons durf nooit vergeet dat Hy nie maar net ‘n “speelmaatjie” is, of Iemand wat net daar is wanneer ons skielik in die moeilikheid is nie. Nee, Jesus is gróót bo alles, Sterke Verlosser, Magtige Heer en Heiland, Immanuel, God met ons, Reddende Here, Lewende Woord! Kom ons jubel dit vandag uit in ons lofbetuiging teenoor Hom, terwyl ons terselfdertyd weet dat Hy wat so hoog verhewe is, Homself neerbuig tot ons en Hom oor my en jou ontferm!

Gebed:

Jesus, ek loof U want U is gróót bo alles! U is die Sterke Verlosser, Magtige Heer en Heiland, Immanuel, God met ons, Reddende Here, Lewende Woord!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026