Geloof en Werke

21 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloof en Werke

Jakobus 2:14-26

Kyk die Video

Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.” So lui die woorde van ‘n bekende ou kerklied. Nou wonder ek maar net, as absoluut alles dan genade is, en ek weet dat ek uitverkies en gered is en op pad hemel toe, kan ek mos nou maar terugsit en die rit geniet? Ek hoef niks verder te doen nie, want my geloof sal my mos deurdra tot in die ewigheid?

As jy ‘n lappie groente in jou agterplaas geplant het, kan jy mos maar terugsit en ‘n maand of twee later die sappigste groente pluk sonder om ‘n vinger te verroer. In jou drome! Daar sal dadels van kom! Die bossies gaan dit verdring, dit gaan verdroog en die pestelensies gaan dit opvreet nog lank voor jy daarby kan kom. As jy die vrug wil pluk van jou arbeid, gaan dit kos dat jy daardie tuintjie van jou moet vertroetel, bossies uittrek, bemes, water gee en die goggas verjaag. Eers dán sal jy resultate sien.

Baie mense sien hulle geloof ook as ‘n indiwidualistiese, persoonlike saak wat niemand anders raak nie. Ek lees my Bybel en bid, en verder moet mense nie aan my torring nie, want my geloof is MY geloof. Sondag gaan ek kerk toe, luister die dominee se preek, en daarna loop ek die kortste moontlike pad terug motor toe sonder om my met die ander mense te bemoei. My geloof het niks met énigiemand anders uit te waaie nie!

Dit is nie geloof nie, sê Jakobus. Jou geloof moet sigbaar en tasbaar wees. Dit moet lewendig wees anders is jou geloof dood. Die dinge wat jy doen moet jou geloof bevestig. Die vraag is of dit dan jou goeie dade is wat jou in die hemel bring? Baie beslis nie! Dit is alleen God se genade, maar jou geloof is soos daardie groentetuin: as daar nie gedurig aan gewerk word nie dan flop dit. Jakobus neem die voorbeeld van ’n baie vroom gemeentelid wat die allermooiste vir ’n persoon in nood toebid: “Mag dit met jou goed gaan; gaan trek jou warm aan en eet genoeg.” die arme man wat hierdie seën aanhoor, hét niks om aan te trek nie! En hy hét niks om te eet nie. Dit is nie ‘n seënwens wat hy nodig het nie, maar kos en klere! Sê dan liewer niks en gee net iets vir sy behoeftes. Geloof moet oorgaan in dade.

Maar wat dan van verskillende gawes? Een het dalk die gawe van geloof, en 'n ander weer die gawe van werke? Jakobus sê dat geloof nie ‘n onsigbare ding in die hart of kop is nie, maar iets konkreet wat jy kan sien en ervaar.

Beteken my geloofsbelydenis dan niks? Statistiek wys dat 70% van Suid Afrikaners Christene is. Dan is ons mos die gelowigste land in die ganse wêreld! Jakobus sê egter dat ‘n geloofsbelydenis alléén nie sê dat jy ‘n gelowige is nie. In Markus 5:7 kom ‘n mal man met die pragtigste geloofsbelydenis vorendag. Hy spreek Jesus aan as “Jesus, Seun van die Allerhoogste”. Maar hy was vrek bang vir Jesus want dit was 'n bose gees in hom wat gepraat het. Etlike ander gevalle is ook aangeteken waar bose geeste Jesus erken het as die Seun van God. Jakobus sê dat die bose geeste ook aan God glo en Hom erken.

Wat maak hulle geloof anders? Abraham word as voorbeeld genoem van wat ‘n ware geloof moet behels. Hy het God só onvoorwaardelik vertrou dat hy selfs bereid was om sy enigste seun te offer op God se bevel. Twee aspekte kom hier na vore, onvoorwaardelike vertroue, en ‘n praktiese doen. Abraham het nie alleen vertrou nie, maar fisies sy seun geneem en op die altaar vasgebind. Hy was op die punt om sy seun te slag toe God hom stop. Die verhaal word vertel van die touloper wat sy tou oor die Niagra waterval gespan het. Toe hy egter vir ‘n vrywilliger vra om op sy skouers te klim, was niemand bereid om dit te waag nie. Ware geloof is om die daad by die woord te voeg.

Inderdaad tel ons dade by God. Nee, dit red jou nie, want alles is genade. Alleen die soenverdienste van Jesus kan jou red. Die vraag is egter wat jy met daardie geloof wat God jou gee, doen? Steek jy dit onder ‘n maatemmer weg of laat jy dit blom? Die keuse is joune!

Gebed:

Dankie vir die geloof wat U my gegee het, Here. Gee my asseblief ook die ywer en krag om daardie geloof voluit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026