Gelofte - Versoening

15 December, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gelofte - Versoening

2 Korintiërs 5:17-21

Hierdie is die laaste dagstukkie vir 2022, ons hervat weer DV. 3 Januarie 2023.

VIDEO * OUDIO

Dit was 16 Desember 1838. 464 Voortrekkers het op ‘n baie strategiese plek tussen die Buffels- en Ncomeriviere te staan gekom teen 20’000 soldate van Dingaan, ‘n totaal hopelose situasie, ten spyte van die Voortrekkers se beter wapens. Nogtans verslaan hierdie handjievol Voortrekkers die magtige oorlogmasjien van Dingaan, nadat die Voortrekkers ‘n gelofte aan God gedoen het.

Vandag laat hierdie gebeure talle vrae op ons lippe, soos of daar enigsins nog sin daarin is om steeds Geloftedag te vier? Het dit nog ooit betrekking op ons? Ons kan tog sekerlik nie almal afstammelinge wees van daardie handjievol “Afrikaners” wat die gelofte gemaak het nie?

Amptelik word dit vandag Versoeningsdag genoem. Moet ons nie dalk vergeet van die gelofte en volstaan by versoening nie? Daar is egter ook ander moeilike vrae, oor die sin van ‘n gelofte. Mag ek ‘n gelofte aan die Here maak as ek onseker is of ek ooit daardie gelofte sal kan nakom? En het 16 Desember se gelofte nie dalk ‘n politieke of rasse geur nie? Aktuele vrae!

Daar was talle wonderwerke wat daardie dag gebeur het, dinge wat totaal onverklaarbaar is behalwe om dit aan God Almagtig toe te reken. Lees meer hieroor by: bit.ly/dsGelof

16 Desember het egter ‘n baie dieper betekenis as net ‘n slag wat gewen is. Voor hierdie fatale dag was daar géén rekord van enige Zoeloe-bekeerlinge tot die Christendom nie, ten spyte van Britse en Amerikaanse sendelinge se werk.

16 Desember word beskou as die begin van geestelike sowel as fisieke bevryding van die Zoeloes wat in vrees geleef het vir Dingaan. Daar is later ‘n sendingstasie en kerk gebou, asook ‘n skool vir blindes en ‘n opleidingskollege vir evangeliste. Sedertdien het die evangelie soos ‘n veldbrand begin versprei onder die Zoeloebevolking. 16 Desember was dus nie alleen vir die Voortrekkers ‘n keerpunt in die geskiedenis nie, maar nog soveel meer só vir die Zoeloebevolking. Mense is versoen met Christus as gevolg van die gebeure van dié dag!

Ons kan dus met reg praat van Versoeningsdag. Die Here het gelowiges bedienaars van die versoening gemaak, só lees ons in 2 Kor. 5. In vers 19 lees ons: “Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou.”

Paulus skryf in vers 18 van ‘n bediening van versoening. Nou weet ons mos dat God vir ons versoening bewerkstellig het deur die soendood van Jesus aan die kruis. Nie alle mense het God se versoening al gekry nie, en dit is waar gelowiges ‘n baie groot taak het om die bediening van versoening ten uitvoer te bring.

Hierdie bediening werk op twee vlakke, eerstens om as bemiddelaar tussen mens en mens op te tree deur vrede te bewerkstellig tussen mense. Maar terselfdertyd moet ons ook optree as versoeningsbemiddelaars tussen mens en God. Hierdie twee loop as’t ware hand aan hand. Om met God versoen te kan raak, behels terselfdertyd ook ‘n versoening met jou medemens.

Nou moet ons baie duidelik verstaan, hierdie bediening van versoening is nie bedoel vir ‘n paar uitgesoekte gelowiges nie, dit is ons almal se taak!

Die vraag is, hoe moet so ‘n versoener lyk? Sy geloof in die saak moet in die eerste plek onwrikbaar wees. Jy kan tog nie vir iemand gaan sê dat hy in Jesus moet glo, as jy self nie ten volle oortuig is nie? Hiermee wil ek nie sê dat iemand wat nog maar jonk en onseker in die geloof is, nie die Evangelie kan uitdra nie. Inteendeel, elke gelowige moet getuig van die oomblik af wat hy tot geloof kom.

Dit beteken egter ook dat jy hard moet werk daaraan om jou geloof sterk te maak sodat jy ‘n meer effektiewe getuie kan word. 

Verder moet dit vir ‘n versoener suiwer gaan oor Jesus alleen, nie oor allerhande leerstellings waaroor kerke verskil nie. Dit mag ook nie vir hom gaan oor wat hy daaruit kan kry nie. Jesus het die versoening gratis en suiwer uit genade vir ons aangebied, en daarom durf ons nie op enige manier probeer munt slaan daaruit nie, of om daarmee God se guns te probeer wen nie.

‘n Versoener moet egter baie duidelik besef dat dit nooit sy eie oorredingsvermoë is wat die persoon laat besluit nie, maar slegs die Heilige Gees wat in hom werk.

Elke gelowige is ‘n evangelis, oftewel ‘n bedienaar van versoening! Elke gelowige het die vermoë om dit te doen, of jy nou met iemand oor Jesus gesels, of dalk net ‘n traktaatjie uitgee. Selfs vriendelikheid of liefde gee. Daar is talle maniere om Jesus se versoening met ander mense te deel.

Ons voorouers het aan die Here ‘n gelofte gemaak dat hulle en hulle nageslag Hom sou dien.

Vandag kan ons dalk op allerhande maniere redeneer dat dit nie op ons betrekking het nie. Maar die regte ding om te doen, is om daardie eenvoudige gelofte na te kom. Dit is immers net wat die Here van ons vra, en wat ons lees in die Bybel.

Kom ons eer dus die gelofte van 16 Desember 1838!

Gebed:

Almagtige Vader, ons dink weereens vandag aan die uitkoms wat U aan ons voorouers gegee het en steeds vandag vir ons gee. Gee ons asseblief die wil om dit steeds te gedenk en te eerbiedig, en om U te eer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026