Gehoorsaam Die Owerhede

24 July, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gehoorsaam Die Owerhede

Romeine 13:1-7

Vanoggend se onderwerp is vir meeste mense ‘n bitter teer sakie: hoe moet ek optree teenoor die owerhede? Ons is steeds besig met Christelike Lewenspraktyk. Die feit dat ons vrygespreekte kinders van God is, moet natuurlik ook sigbaar word in die feit dat ons onsself aan die owerhede onderwerp. Jy sou wou sê: “Nee, nou gaan jy darem te ver! Paulus het nie in óns tye geleef nie. Hy het nie die korrupsie en onregverdigheid van óns regering gehad nie!

Die eenvoudige sinnetjie, dat ons onderdanig moet wees aan die owerhede, het ‘n geweldige groot impak op jou totale lewenswyse. Ja, inderdaad is dit maklik om ‘n regering wat regverdig is te gehoorsaam, maar as die regering jou onderdruk of jou vyand is, raak dit ‘n bitter stryd om hierdie opdrag van God uit te voer. In die annale van die geskiedenis is daar talle verhale aangeteken van gelowiges wat in die naam van geloof op gewelddadige wyse teen regerings in opstand gekom het. Hulle het dit uit die Skrif probeer goedpraat en regverdig. Volgens Paulus se uitspraak asook dié van Jesus en Sy optrede, was nie ‘n enkele een van hierdie opstande geregverdig nie.

Jy sê dat Paulus maklik kon praat? Volgens Paulus se brief aan Titus, is ons eie regering maar ‘n vulletjie wat korrupsie aanbetref teenoor dié van Kreta. En dit kom ook nie eers náby die Romeinse regering nie! Hulle was ‘n nie-demokratiese, wrede diktatuur wat die grootste deel van die bekende wêreld met brute mag oorgeneem het en summier aan hulle onderwerp het. Hulle het alle menseregte misken. Die burgers het bitter min sê gehad in enige staatsake.

Ons durf dit nie vergeet nie: ‘n klompie jare vroeër was Jesus deur hierdie selfde regering verhoor. Hy was ONSKULDIG bevind, maar ten spyte daarvan is Hy nog steeds tereggestel! Dit is hierdie einste Romeinse soldate wat Hom gespot en geslaan het, en Hom aan die kruis vasgespyker het. Hoe kan ‘n mens aan so ‘n wrede, onregverdige regering gehoorsaam wees? Soos ons gister gesien het, het sake later ook nie verbeter nie. Dit het uiteindelik ontaard in die grootste riller óóit!

Dit is gedurende hierdie omstandighede, die ergste scenario wat jy jou moontlik kan voorstel, dat God by monde van Paulus beveel: “Onderwerp jou aan die owerheid!

Daar is twee dinge wat ons baie deeglik van bewus moet wees wanneer ons hierdie opdrag hoor: Die eerste is dat dit nie hier gaan oor die wettigheid of regverdigheid of selfs die Christelikheid van die owerheid nie. Dit gaan hier hoofsaaklik daaroor dat jy aan God dank bewys vir jou vryspraak deur aan die regering gehoorsaam te wees. As vrygespreekte word jou lewe nie meer beheer deur jou natuurlike instinkte nie, maar deur die Heilige Gees. Dit geld dan ook vir jou optrede teenoor die regering, dat jy jou nie laat lei deur jou natuurlike instinkte van logika, politieke bewussyn of selfs liefde vir jou volk nie, maar dat jy sal luister na wat die Heilige Gees vir jou sê. Hoe absurd dit ookal mag klink: Onderwerping aan die owerheid is nie politiek nie maar Godsdiens!

Die tweede, uiters belangrike ding om te onthou, is dat ons nie klein mag dink oor God se almag nie. Ons mag dit dalk gladnie verstaan nie, maar ons moet tóg besef dat God in volle, totale beheer is, en dat dit deur Sy toedoen alleen is dat die regering tot stand gekom het, selfs al is dit ‘n heidense regering. Wat God se doel daarmee is, is nie vir ons klein menslike verstandjies om te probeer uitredeneer nie, want God se gedagtes is baie, baie ver verhewe bo ons s’n. Ons moet net weet dat God ons, Sy kinders, oneindig liefhet, en dat ons vir Hom baie belangrik is.

Wat nou gemaak as hierdie dinge toet-en-taal gladnie vir my sin maak nie? Dit is waar geloof inkom. Wat is geloof? Is dit om die dinge te glo wat ons sien? Nee! Geloof is júís daardie gawe om dinge te glo wat jy gladnie kan sien of verstaan nie. Ons kan God nie sien of verstaan nie, maar ons Glo in Hom. Op dieselfde wyse vra God van ons om te glo dat Hy reg is, selfs oor die regering, en dat ons om daardie rede die owerhede sal gehoorsaam. Natúúrlik hoef jy nie saam te stem oor die manier wat die regering dinge hanteer nie, maar daar is gewoonlik wettige maniere waarop jy jou verskille met die regering kan hanteer, soos byvoorbeeld die howe of beswaarskrifte.

Die belangrikste rede waarom jy die owerhede moet gehoorsaam, is om aan God gehoorsaam te wees en om God daardeur te verheerlik. Deur ‘n wetsgehoorsame burger te wees, stel jy ‘n voorbeeld vir ander, en sien die wêreld Jesus in jou lewe. Dit kan dalk net veroorsaak dat iemand Jesus ontmoet deur daardie optrede van jou. As ons dit in gedagte hou, sal dit ook soveel makliker wees om uit te voer.

Gebed:

Here, dit is so bitter moeilik om gehoorsaam te wees aan ‘n korrupte regering. Lei my asseblief deur U Heilige Gees om U opdrag uit te voer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026