Geestesgawes

23 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geestesgawes

1 Korintiërs 12:1-11

VIDEO | LUISTER

Van kleintyd af was ek nog altyd geweldig gefassineer deur die natuur. Jy het dit sékerlik al agtergekom uit my skrywe. As klein seuntjie was ek in verwondering oor die brute krag van ‘n eenvoudige miskruier. Ek kon vir ure hierdie besies dophou en hulle krag toets. Ek het hulle soos osse ingespan aan ‘n garingdraadjie voor ‘n vuurhoutjiedosie gelaai met klippertjies. Niks was óóit te swaar vir hierdie goggas om te trek nie. In die plaasdam was dit weer die eenvoudige ou platannas wat my in verwondering gehad het. Hierdie glibberige waterpaddas het die vermoë om hulleself uit feitlik enige situasie te wurm. As jy hom probeer vasvat, dan skop hy vas met sy skerp naels en wriemel sy glibberige slymlyf uit jou greep.

In die randjies was dit weer die ribbokke wat my verbeelding aangegryp het. Ek het my oopmond staan en verwonder hoe hy vlugvoetig op volle vaart teen die gevaarlikste hellings hardloop rég op die randjie van duiselingwekkende kranse. Nooit het een van hulle ooit gegly en geval nie. O, daar was baie meer wondere as wat my verstand kon inneem. Daar was die sonbesies wat so verskriklik hard kon skree, maar terselfdertyd totaal verdwyn. Jy moes baie goed wees om hom op te spoor. Die otter wat net eenvoudig onder die water verdwyn en wegkruip dat g’n mens hom kan kry nie…...

As ons eers met hierdie onderwerp begin, dan is daar géén einde nie. Die wonder van hoe elkeen van die diere “aangepas” is om sy nis in die lewe te vul, verstom my keer op keer! Ons kan dalk ‘n groot debat oor hierdie een voer, maar ek glo steeds dat dit nie “aanpassing” is nie, maar een van die talle wonders van die skepping.

Vanoggend gesels Paulus met die Korintiërs oor ‘n baie soortgelyke onderwerp: die sogenaamde “Gawes van die Gees”. Hieroor is daar al heftig gestry, debat gevoer en verwyte geslinger. Baie mense is jaloers op gawes wat ander het, en wat hulle nie kon kry nie. Maar kom ons gaan kyk wat Paulus hieroor te sê het.

As aanloop begin hy deur te sê wat NIE gawes van die Gees is nie. Ons moet die agtergrond verstaan om te begryp wat Paulus eintlik bedoel. Die gebruik in die heidenwêreld van Korinte was dat die priesteres in die Apollo tempel in vervoering geraak het deur Lourier- of Beukeblare te kou en kruierook in te asem. Dan het sy in ‘n brabbeltaal gepraat wat deur ‘n priester uitgelê is en in versmaat neergeskryf is. Dikwels is die Here vervloek in hierdie brabbeltaal. Paulus waarsku baie sterk dat gelowiges baie versigtig moet wees, en moet seker maak dat sulke ongewone tale werklik van die Heilige Gees kom en nie van die bose nie. Geestesgawes moet te alle tye op só ‘n wyse beoefen word, dat dit mense onder die heerskappy van God plaas. As hierdie kriterium níé nagekom word nie, is daar baie groot fout!

Maar wat is hierdie “Gawes van die Gees” dan? In die eerste plek moet ons beklemtoon dat, net soos wat daar in die natuur so ‘n geweldige verskeidenheid van wonderlike gawes is, is daar vir ons as gelowiges ook ‘n ryke verskeidenheid van gawes beskikbaar. Ons kan nie gawes op iemand afdwing nie, soos wat dit dikwels die geval is. En ons durf ook nie jaloers raak op die gawes wat iemand anders ontvang het nie. Elkeen se gawes pas by sy persoonlikheid en omstandighede.

Paulus praat van drie tipes gawes. Dié wat hy noem, is egter slegs enkele voorbeelde.

Die eerste is gawes van die verstand, byvoorbeeld wysheid en kennis. Ek staan dikwels verstom oor die kennis wat sommige mense het van die Bybel, asook die wysheid om die agtergrond van die Bybelgeskiedenis lewendig te kan maak.

Die tweede groep gawes wat Paulus noem, is dié van wonderwerke. Hier is die gawe van besonderse geloof, dié soort wat letterlik berge kan versit, asook die gawe van genesing ter sprake.

Die derde groep gawes is dié van spraak. Daaronder sorteer die gawe om te kan preek, oftewel die boodskap verkondig. Saam daarmee die gawes om ‘n boodskap te kan beoordeel, ongewone klanke en tale te kan praat, en om dit te kan uitlê.

Dit is belangrik om te onthou dat jy nie ‘n ander durf veroordeel oor ‘n gawe wat hy gekry het nie, of dalk jaloers soek om ook dieselfde gawe te kan kry nie. Dit is ewe belangrik dat jy die geestesgawe wat die Heilige Gees jou gegee het, hoe gering dit ookal mag voel, moet gebruik met ál jou mag tot eer van God. Onthou ook dat jy te alle tye hierdie gawe gebruik in volle afhanklikheid van God.

Dit is óók belangrik dat jy jouself nooit óóit verhewe durf sien bo ander wat nie jou spesifieke gawe het nie. Ek het al so dikwels gehoor dat iemand neerhalend sê dat iemand wat nog nie in tale gepraat het, nie vervul is met die Heilige Gees nie. Dit is geestelike hoogmoedigheid!

Ons mag nie die een gawe bo 'n ander verhef nie! Elkeen is ewe belangrik!

Gebed:

Here, help my asseblief om my gawes met groot oorgawe, en in totale afhanklikheid van U te gebruik, tot eer van U grote Naam!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026