Johannes 9:35-41
Ons het gesien watter verskriklike lot die blinde man wat Jesus genees het getref het. Die Joodse leiers het hom uit die sinagoge verban. Dalk was hy die eerste van die Christene wat deur die Jode vervolg is, maar daar sou nog baie ná hom volg. Vir hierdie man was die straf groot, want vir die eerste keer in sy lewe kon hy sien en kon hy met volle oorgawe deelneem aan al die sosiale aktiwiteite van die gemeenskap, maar die oomblik toe dit gebeur, word hy totaal afgesny van hierdie einste gemeenskap. Wat ‘n verskriklike teleurstelling. Wat ‘n wrede straf!
Maar wie kom tot sy redding? Niemand anders nie as Jesus. Hy het gehoor van die arme man se dilemma, en toe gaan soek Hy die man. Jesus het geweet dat Hy vir hierdie man iets baie, báie groter en meer bevredigend kon bied as die aanvaarding deur ‘n ongelowige gemeenskap. ‘n Totaal nuwe wêreld het op daardie man gewag - ‘n wêreld waarvan ek en jy vandag ook deel is. Buiten vir die asemrowende vooruitsig van die volmaakte lewe wat eendag wag, is daar ook die wêreld van die gelowige, wat totaal anders is as dié van die ongelowige.
As ons verder gaan lees in boeke soos Handelinge, sien ons hoedat die gelowiges geleef het. Daar was liefde en ‘n omgee vir mekaar wat absoluut géén grense geken het nie. Party gelowiges het selfs so ver gegaan om hulle eiendom te verkoop om geld te kry om hulle mede-gelowiges wat verdruk was te help. Vandag sien ek steeds hierdie liefde en omgee by gelowiges wat werklik erns maak met hulle geloof. Ek was al sélf deur ‘n paar bitter moeilike tydperke in my lewe, en in daardie tye is ek letterlik op die hande gedra deur gelowiges wat omgee.
Dit is ook ‘n totaal nuwe wêreld van vriendskap wat vir jou oopgaan as jy die dag tot geloof kom. Wêreldse vriendskap is dikwels uiters oppervlakkig. Maar vriendskap tussen gelowiges is op ‘n totaal ander fondament gebou - dit het diepte, en dit kyk nie na wêreldse dinge nie, maar die geestelike en die ewige. Jesus het hierdie dinge geweet, en daarom gaan soek Hy die man op om hom aan hierdie nuwe wêreld voor te stel.
Toe Jesus hom konfronteer, was Hy deeglik bewus daarvan dat hierdie man steeds nie besef het wat presies met hom gebeur het nie. Ja, hy kon skielik sien, maar Wie was dit wat hom genees het? Hy het nie geweet nie! Hy was steeds geestelik blind, en hy het nodig gehad om te kon sien. Toe Jesus hom dus vra of hy in die Seun van die Mens glo, het die man nie eers geweet Wie dit was nie. Intussen het die Fariseërs soos ‘n spul brommers om hulle gedraai. Hulle het presies geweet van Wie Jesus gepraat het. Hulle het oor en oor in die Skrif geleer van die Seun.
Toe maak Jesus ook die man se geestelike oë gesond, toe Hy vir die man sê dat Hy, Jesus, die Seun is. Sy onmiddellike reaksie was om te bely dat hy glo en hy het Jesus net daar aanbid, terwyl die Fariseërs gesnak het na hulle asems. Skielik het hierdie nuwe wonderwêreld vir die man oopgegaan en hy het op ‘n totaal ander vlak gesien!
Ek onthou nog baie goed, die dag toe Jesus my oë oopgemaak het. Ek was alleen in ‘n klein rondaweltjie op Amatikulu, toe ek my hart vir die Here gegee het. Ek het nie eers mooi besef wat met my gebeur het nie. ‘n Paar dae later vra ‘n meisie my wat met my gebeur het? My stralende gesig het haar vertel dat iets my lewe verander het! Toe verduidelik sy vir my dat ek so pas ‘n gelowige geword het. Ek het dit sélf nie eers besef nie! Maar skielik was alles net anders en ‘n nuwe, wonderlike wêreld het voor my oopgegaan! Dit was asof daar skille van my oë afgeval het, en ek kon sien en verstaan.
Jesus het die Fariseërs om Hom aangekyk. Ja, Hy het die blindes weer laat sien, maar die wat kón sien, dié sou blind word. Hoe verstaan ‘n mens dit? “Ons is mos nie blind nie!” het die Fariseërs dadelik geprotesteer.
“As julle maar blind was,” het Jesus Sy kop meëwarig geskud.
Hulle het die Skrifte deeglik geken. Hulle het ál die kennis gehad wat nodig was om van God te weet. Hulle was egter só verstrengel in hulle godsdiens, rituele en wette, dat hulle God nie meer raakgesien het nie! Hulle kon dus wél behoorlik sien, maar hulle het hulleself blind gehou.
Ja, vandag sien ons dit steeds dat daar hoogsgeleerde teoloë is wat die spoor totaal byster geraak het. Hulle het ál die kennis en geleenthede gehad, maar dit deur hulle vingers laat glip omdat hulle die wonder van God nie wou raaksien nie. Daarteenoor was hierdie man wat geen kennis gehad het nie - vir hom het Jesus laat sien. Hy het die hemel oopgemaak sodat die man die wonder kon sien.
Dit is ‘n wonderlike voorreg vir iemand om teologiese studies te kan doen, maar dan rus daar ‘n geweldige groot verantwoordelikheid op sy skouers. So ‘n persoon moet egter ook soveel harder werk aan sy geestelike lewe as enigiemand anders.
Gebed:
Here, dankie dat U ook my oë oopgemaak het sodat ek U heerlikheid kon sien!