Geestelike Bankrotskap

25 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geestelike Bankrotskap

Titus 1:10-16

Dit het tyd geword dat die leierskorps van die kerk dinge begin regruk, dit het hééltemal te ver gegaan! Nee, dit is nie ek wat so sê nie, maar Paulus. Hy skryf dat daar ’n verskriklike geestelike bankrotskap heers, nie net onder die algemene inwoners, die heidene van Kreta nie, maar selfs onder die gelowiges. Daardie bankrotskap moet nou met hand en tand beveg word! Paulus noem nie maar vae begrippe en abstrakte doelwitte nie. Nee, hy noem die probleem by die naam. Dit vra ook van my en jou om eerlik na onsself te kyk met die Bybel as spieël, en nie die lelike dinge te verskoon en probeer wegredeneer nie. Kom ons noem hulle by die naam en roei hulle uit in ons lewens!

Volgens Paulus sit Kreta vasgevang met twee baie ernstige probleme. Eerstens die algemene swak karakter van die inwoners, en tweedens die dwaalleraars wat onder gelowiges begin insluip het. Paulus sê dat albei kaalkop bestry moet word.

Die swak karakter van die mense van Kreta was destyds berug. Die spreekwoord gaan, dat iemand vloek soos ‘n matroos. Daardie tyd het hulle gesê dat jy lieg soos ‘n Kretenser. Die beroemde digter-filosoof, Epimenides, wat Paulus hier aanhaal, was maar een van ‘n paar bekende skrywers van daardie tyd wat na die Kretensers se swak karakter verwys het. Die tragiese is dat die Kretensers nie altyd so was nie, maar dat hulle op ‘n stadium ‘n uiters hoë beskawingspeil bereik het. Die Kretensers het nie alleen gelieg nie, maar gruwelike geweld aan die een kant en luiheid aan die ander kant was inherent deel van die mense se karakter. Nie alleen was hulle sosiale agteruitgang baie opvallend nie, maar hulle was doodtevrede met die toestand van sake! Selfsug en gemaksug was diep gewortel in die lewe van die egoïstiese Kretensers wat vasgevang was in hulle laakbare lewenstyl.

Miskien het dit ook tyd geword om kaalkop die waarheid te praat oor ons Suid Afrikaners, en die feite in die oë te staar. Volgens ‘n sensusopname is 70% van ons land Christene. Moeilik om te glo! Maar moord, roof, verkragtings, gierigheid, haat en losbandigheid is inherent deel van ons alledaagse lewe. “Hulle gee voor dat hulle God ken,” skryf Paulus, “maar hulle dade weerspreek dit!”

Skryf hy dit oor die Kretense of oor die Suid Afrikaners? Ek wonder maar net! ‘n Diepgewortelde kultuur van geweld en selfsug is meester van ons land se mense, en om te sê dat Christene darem nou nie hierby betrokke is nie, is ‘n drogredenasie. Die grootste gros van gelowiges verkies om onbetrokke te bly, en is te lui om iets daadwerklik aan die saak te doen. Ons land is alreeds berug daarvoor dat ons ‘n land van diewe, moordenaars en verkragters geword het.

Die tweede probleem in Kreta was die manier waarop die eerste probleem aangespreek is. Bekeerlinge uit ’n Joodse agtergrond het ‘n hele stel reëls en regulasies daargestel, en ‘n mentaliteit van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” op die medegelowiges probeer afdwing. Dit was ‘n versmelting van Joodse en Grieks-filosofiese leerstellings, en hiermee het hulle verdeeldheid onder die gelowiges gesaai, en selfs huisgesinne ontwrig. Hulle motiewe het die saak vererger, want onder die dekmantel van ‘n vroom voorgee van die verbetering van omstandighede, het hulle hulleself eintlik hierdeur verryk. Sodoende het hulle eintlik deel van die probleem geword, eerder as die oplossing daarvan.

Daar is talle voorbeelde vandag van mense wat voorgee dat hulle die samelewing dien, maar dat hulle inderwaarheid slegs belangstel om hulle sakke vol geld te stop. Dikwels sien ons dan ook dat sulke mense streng wette propageer as deel van hulle strategie om sogenaamd die siek samelewing te probeer regruk.

As ons egter gedeeltes soos Rom. 1:17 en Gal. 3:2-7 en nog vele meer lees, dan sien ons duidelik dat die enigste voorvereiste vir ‘n verhouding met God, geloof in Jesus Christus is. Geen wet kan jou die saligheid besorg nie! ‘n Ware geloof en ‘n lewende verhouding met Jesus is die enigste antwoord op die probleme in ons land. Geloof kweek dankbaarheid en verantwoordelikheid teenoor God. Wanneer mense werklik hulle verantwoordelikheid teenoor God begin besef en daardie verantwoordelikheid uitleef, sal hulle ‘n gesonde bydrae maak tot die samelewing. ‘n Mens word gemotiveer van binne af om dankbaarheid en liefde prakties uit te leef, en nie deur vrees of wette nie.

Paulus skryf in vers 1 dat hy geroep is om mense tot geloof te lei. As ons elkeen hierdie ons eie roeping maak, kan dit nie anders as dat daar ‘n geestelike heropbou in ons land sal plaasvind nie. Suid Afrika kan inderdaad sosiaal gered word deur die lewe van sy Christenburgers. Angus Buchan en baie ander leiers neem hierdie roeping baie ernstig op. Wat van jou en my?

Gebed:

Here, maak my asseblief diep bewus van my roeping, en gewillig om dit uit te leef elke dag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024