Romeine 11:17-24
In my kleintyd was daar nie allerhande soorte meghêftertjies soos rekenaars en slimfone om die manne besig te hou soos vandag nie. Daar was nie eers wiele wat jou die rowwe veld kon invat nie! Die enigste fô-baai-fô was 'n Land Rover en hy was nie gebruik om mee rond te kerjakker nie, hy is slegs gebruik om jou op plekke te bring waar daar nie paaie was nie. Selfs die TV was 'n ding wat slegs in Amerika bestaan het!
Die vrouens het hulle kreatiwiteit in die kombuis of in die naaldwerkkamer uitgeleef. En die manne het hulleself besig gehou met ander dinge soos houtwerk, baie eenvoudiger as vandag se manne-speelgoed.
In feitlik elke agterplaas was daar ‘n groentetuintjie en ‘n paar vrugtebome. Dis nou die tyd toe daar nog ‘n "agterplaas" was met kekkelende hoendertjies en nie ‘n ontspanningsarea met 'n grasperk en braaiplek nie. En dit was juis in hierdie tuintjie waar die manne hulle vernuf gewys het. Party manne was tevrede om reuse boerpampoene en koolkoppe te vertroetel. Sommige kreatiewe manne het egter allerhande slim dinge met hulle vrugtebome aangevang. Een ou sou byvoorbeeld onder groot geheimhouding ‘n paar nou-nek bottels in ‘n appelboom installeer en na ‘n maand of twee se vertroeteling tot almal se groot verbasing spog met sy appels in die bottel! Vir die oningeligte lyk dit totaal onmoontlik dat daardie appel by die nou nekkie ingedruk kan word, maar die geheim is dat die appel binne-in die bottel groei van kleintyd af!
Die ander gewilde tydverdryf was om bome te ent. Met groot vernuf en omsigtigheid word ‘n takkie aan ‘n vrugteboom voorberei en dan word ‘n takkie van ‘n ander soort vrug noukeurig gesny om presies op hierdie voorbereide takkie te pas. Die “wond” word sorgvuldig versorg en vertroetel en algaande begin die takkie vasgroei aan die boom totdat hulle twee uiteindelik een is en net die wondweefsel nog wys dat hulle eenmaal totaal apart was. Die nuwe takkie is totaal afhanklik van die lewenssap van die boom om aan die lewe te bly en dit neem tyd vir die vate om behoorlik te heg. Maar as dit eers gebeur het, stroom die volle krag van die moederboom se lewensgewende sap in die takkie in!
‘n Jaar of wat later, dra hierdie takkie die pragtigste vrugte. Tot groot verbasing van almal wat hierdie boom besigtig, is die vrugte aan hierdie tak anders as dié van die res van die boom. Gewoonlik ent hy ‘n paar verskillende soorte vrugte aan een boom, sodat jy dalk ‘n boom kry wat geelperskes, witperskes, lospitperskes, appelkose én pruime tegelyk dra. Natúúrlik word al wat leef en beef op ‘n toer van sy vrugteboord geneem om sy handewerk te vertoon. Vandag word die metode van enting op groot skaal gebruik, maar om héél ander redes. In die vrugtebedryf word die vrugdraende deel van ‘n boom op die wortelstelsel van ‘n ander boom geënt om maksimum dravermoë te verseker.
Die idee van enting kom natuurlik al ‘n baie lang pad. In Paulus se tyd was dit alreeds wyd toegepas en hy gebruik hierdie praktyk om ‘n waarheid te illustreer. Naas druiwe, was olywe seker die belangrikste produk van die lande rondom die Middellandse See. Paulus vergelyk die wilde olyf met die gelowige. Jesus is die stam en wortelstelsel van die ware olyf. Ek en jy word op hierdie Stam ingeënt. Aanvanklik moet hierdie nuwe hegting maar baie vertroetel en gepamperlang word, maar uiteindelik begin die “lewenssap” van die Stam in volle sterkte deur die are van die jong gelowige vloei. Mettertyd word hierdie verbinding al hoe sterker en sterker en die Stam voed die gelowige sodat hy goeie vrugte kan dra.
Ons moet egter weet, dat hierdie “takkie” totaal afhanklik is van die Stam, want die oomblik as die verbinding verbreek word, verwelk die “takkie” en gaan dood. Die ander waarheid is natuurlik ook, dat as daardie “takkie” nie vrugte dra nie, dan is hy waardeloos vir die Stam en staan hy kans om afgesnoei te word!
Ons moet te alle tye onthou presies waar ons staan in die lewe. Ons moet deeglik besef dat ons geënt is aan die Stam, Jesus Christus en dat ons totale lewensbestaan van Hom alleen afhanklik is. Géén gelowige het dus enige rede om hoogmoedig te wees oor die feit dat hy of sy ‘n geredde persoon is nie. Ek kan myself nie verhef bo enigiemand anders nie, want ek het nie gekom waar ek nou is deur my eie toedoen nie. Jesus is my ganse lewensbestaan en sonder Hom is ek verlore. Ek het al baie te doene gekry met Christene wat neus in die lug loop oor hulle kwansuis ‘n trappie hoër as die ander “gewone” gelowiges en veral ongelowiges is. Met só ‘n houding keer jy dat ongelowiges die ewige lewe kan bekom! Jy dwarsboom die werk van Christus!
Die ander saak wat ons ook deeglik moet besef, is dat daar baie verskillende soorte takkies aan die Stam, Jesus geënt is. Ek is maar net een van ‘n groot verskeidenheid. Elkeen van hulle het presies dieselfde status as ek. Respekteer dus elke ander gelowige, maak nie saak hoe hy lyk of hoe sy sieninge oor sekere sake van joune verskil nie.
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat ek die voorreg het om aan U geënt te mag wees. Help my asseblief om baie goeie vrugte vir U te dra!