Geen Gelowiges Oor Nie?

26 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geen Gelowiges Oor Nie?

Miga 7:1-7

Video - Oudio

Het jy al die gevoel gekry dat jy die enigste een is wat oor is wat nog in Jesus glo? Jare gelede het ek by ‘n konstruksiemaatskappy gewerk, en daar het ek werklik gevoel asof ek die enigste gelowige is. Daar het byna nie ‘n naweek omgegaan waar daar nie ‘n dronkpartytjie was nie - wilde partytjies waar daar dikwels ontkleedanseresse betrokke was.  En altyd reuse hoeveelhede drank. Een van die direkteure het sy kollega se vrou van hom afgevry. Die twee het steeds saam bly werk - dit was nie so ‘n groot ding nie...... Vulgêre grappies was aan die orde van die dag. Die finansiële direkteur het dikwels sy vrou by die huis gelos en dan in Durban in ontkleeklubs en hole rondgehang tot in die vroeë oggendure. Sy het vir hom bly bid.

Ek het eensaam gevoel, want ek kon by niks inskakel nie. Niemand het my eers uitgenooi na hulle partytjies nie want hulle het geweet hoe ek daaroor voel. Ek is half-spottend aangekyk as die nat vadoek.

Miga het ook so gevoel, alleen en eensaam, want daar was niemand meer wat sy passie vir God met hom kon deel nie. Oral waar hy kyk rondom hom, sien hy net die Goddelose wat floreer. “Daar is nie meer ‘n gelowige in die land nie!” kerm hy wanhopig in vers 2.

Kyk ek vandag rondom my, dan is dit met ‘n beklemming om die hart wat ek sien hoe die kerkbywoning besig is om te kwyn, al minder en minder mense kom nog kerktoe. En nou met die inperkings, waar ons eredienste uitsaai, kyk al minder mense Sondae na die diens op Youtube. Om ‘n voorbeeld te noem: die Durban Middestadgemeente van die NG Kerk was in my jong dae ‘n gemeente wat aan die brand was. Daar was gedurig iets opwindend aan die gang. Die twee jong leraars moes net bontstaan om by alles uit te kom in die gemeente. Die gemeente het oor die afgelope jare gekwyn sodat daar uiteindelik slegs 20 lidmate oorgebly het. Tragies! 

Intussen het daar egter ’n groot wonderwerk gebeur, en die kerke van Durban het saamgesnoer om die ou kerkgebou te benut. Vandag word duisende mense weekliks met die Evangelie bereik uit hierdie gemeente, wat nou deur die Durban Metropoolbediening bedryf word. In more se dagstukkie sal ons dan ook sien dat alles baie beslis nie verlore is nie! God is steeds in beheer, al voel dit vir my en jou asof die ganse wêreld geestelik ineengestort het!

Maar terug by Miga se probleem: Hy huil omdat misdaad al hoe meer word - “almal stel strikke om moord te pleeg” (vers 2). Klink dit nie bekend nie? Is dit nie maar hoe ons dit vandag ook beleef  nie? Daar is net eenvoudig nie meer respek vir ‘n ander se lewe nie. Mense, dikwels selfs skoolkinders, word vermoor vir ‘n selfoon of selfs toebroodjies. “hulle maak met vangnette jag op hulle broers” (v 2). Hoeveel keer is daar nie al die afgelope jare mense in lokvalle gelei, en dan gekaap nie? Dit is walglik. Dit is tragies dat ons samelewing so laag gedaal het. Die gemeenskap het soos ‘n vrugteboord geword waar daar net die kaal bome staan sonder enige vrugte - so sê Miga.

Waardes het totaal verlaag. Regeringsamptenare is dikwels die skurke in die samelewing. Hoeveel polisiemanne is daar nie al die afgelope ruk in hegtenis geneem oor misdaad nie? Selfs offisiere met die hoogste range staan vandag onder verdenking! Polisielede is betrokke by dwelm- of misdaadsindikate. Hulle spoor mense aan om verkeerd te doen, en dít terwyl hulle veronderstel is om wet en orde te handhaaf!

Om op regspraak aanspraak te maak, help ook nie meer nie, want die regstelsel is dikwels in onmag gedompel. Dit neem baie jare om ‘n hofsaak af te handel, en dan word slegs ‘n baie klein persentasie van misdadigers uiteindelik skuldig bevind.

Van geregtigheid in die samelewing is daar géén sprake nie, want transaksies word dikwels onder die tafel deur beklink op baie bedenklike maniere. Materialisme is aan die orde van die dag - dit domineer die ganse samelewing. Elkeen dink net aan homself. Jy kan niemand meer vertrou nie, selfs nie eers meer jou eie vriende of naby familie nie (vers 5). Alle waardes soos respek, integriteit, eerlikheid, vertroue en ontsag het uit die samelewing verdwyn.

Hoe leef ‘n gelowige in so ‘n siek samelewing? Dit is beslis nie maklik nie. Maar die troos is tog daar: hou net krampagtig vas aan die Here. Hou aan om die Here te dien, ten spyte van die omstandighede rondom jou. “Ek sal vertrou op die Here.” sê Miga selfversekerd. Hy wéét waar  sy redding vandaan kom. Ek en jy kan vandag nog baie meer so sê, en al ons hoop op God vestig. Hy bly steeds getrou en regverdig, en Hy sal ons nooit beskaam nie. More sluit ons DV die boek Miga af met wonderlike, positiewe nuus!

Gebed:

Here, alles lyk dikwels so donker rondom my, maar ek weet waar my hulp vandaan kom. Dankie dat ek aan U kan vashou en weet dat U steeds altyd daar is vir my!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026