Maleagi 3:13-18
Is dit ooit die moeite werd om die Here opreg te dien? Watter voordeel is daar vir my om dit te doen? Is daar óóit énige voordeel?
Geskok oor so 'n vraag? Wel, hierdie vraag word daagliks gevra, dikwels selfs deur gelowiges wat teleurgesteld geraak het. “Godsdiens het totaal sy betekenis verloor!” hoor ons dikwels.
In hierdie perikoop begin die Here deur die pen van Maleagi om 'n aantyging teen die volk te maak: “Julle laat harde woorde oor My val!”
“Wat het ons vir mekaar oor U gesê?” vra hulle ewe onskuldig, met botter wat nie in hulle mond kan smelt nie.
“Julle het gesê, ‘Dit is heeltemal nutteloos om God te dien’!”
Vandag sou ons dalk kon sê: “Ek is moedeloos! Ek weet nie waarom ek nog so hard probeer om reg te lewe nie. Ek lees elke dag my Bybel en ek bid en elke liewe Sondag sit ek in die kerk. En wat kry ek daarvoor? Net swaarkry!”
Voel jy moontlik soms so?
“Ek verstaan die Here nie!” sê jy dalk. “Kyk net hoe floreer die mense wat in sonde lewe! Dié wat die land beroof met hulle korrupsie, leef in luuksheid. Hulle ry lang slap motors en woon in paleise. Maar ekke? Ek wat die wet gehoorsaam, bly in 'n pondokkie en my ou skedonk val al uitmekaar. Is die Here dan nou werklik regverdig?”
Dit wil voorkom dat daar géén waarborg is dat dit met jou goed sal gaan as jy jou kant bring teenoor God nie. En daarteenoor beleef die mense wat onverskillig staan teenoor Hom, nét voorspoed! Waarom gebeur goeie dinge met slegte mense? En die slegte met goeie mense? Mense wat in opstand teen die Here is, is eintlik dié wat gelukkig is, en dié wat God uitdaag, kom skotvry daarvan af! Hoe klop die regverdigheid van God met die onregverdigheid van die lewe?
Hierdie is almal vrae en uitlatings wat jy seker al dikwels gehoor het, of dalk sélf al uitgespreek het. Ek kan sékerlik sê dat dit uiterste vermetelheid van ons is om sulke aantygings teen die Here te maak!
Die Here draai egter nie 'n dowe oor wanneer mense sulke vrae vra nie. Hierdie vrae, wat óók gelowiges dikwels vra, gaan nie maar by die Here verby nie. Hy luister met 'n simpatieke oor na die vrae, en in vers 16 sien ons júís dat Hy dit opgemerk het. Hy hét dit gehoor!
Dalk voel dit soms vir jou asof jy teen die plafon vasbid. Die Here hoor egter wél jou gebed! Elke gelowige se gedagtes en smeekgebede is baie belangrik vir die Here.
Deur die pen van Maleagi antwoord die Here dan ook die gelowiges in die volk. Hy gee hulle nuwe moed, nie alleen vir die hede nie, maar ook vir die toekoms. Diegene wat eerbied het vir die Here, se name word opgeskryf in die “gedenkboek.”
Die Here is beslis nie onbetrokke nie! Hy weet presies wat aangaan, en Hy is betrokke by elke gelowige. Hy ken jou swaarkry, jou onsekerheid en selfs jou skeptiese vrae wat jy soms vra. Hierdie dinge gaan beslis nie by Hom verby nie, en daarom hierdie “gedenkboek.”
Die Here beklemtoon dit in vers 17 dat hulle vir Hom 'n kosbare besitting is. Het jy mooi gehoor wat die Here sê? Jy is nie sommer maar net 'n nommertjie iewers tussen die miljoene nie. Jy, gelowige wat eerbied het vir God, jý is Sy kosbare besitting, Sy “persoonlike eiendom!” So sê die Here die Almagtige!
Wow!
Hierdie “kosbare besitting” kan ons in dieselfde lig sien as 'n meisie wat 'n baie kosbare verloofring van haar verloofde ontvang. Sy koester dit en wys dit vir almal wat sy teekom. Sy is opgewonde daaroor en dit is vir haar die kosbaarste ding wat sy nog óóit gekry het. En só voel die Here oor my en jou.
Ons kry dalk nou swaar, maar die Here sien ons swaarkry raak, en daar gaan 'n dag kom waarop Hy gaan ingryp, “Die dag wat Ek voorberei.” (vers 17). Elders in die Ou Testament word verwys na “die dag van die Here”, die dag van God se oordeel. Die Israeliete het geglo dat slegs die ander volke op daardie dag geoordeel gaan word, en dat hulle van al die ander volke verlos gaan word.
Hier word egter 'n ietwat ander prentjie geskilder: God se oordeel is ook oor Israel! Hy oordeel slegs tussen die goddeloses en dié wat Hom dien.
Volgens die Nuwe Testament beteken dit vandag vir ons dat die oordeel gaan wees tussen die gelowiges - dié wat in Jesus glo en die ongelowiges.
Uit vandag se Skrifgedeelte is dit baie duidelik dat God ons baie liefhet, soos 'n pa sy seun (vers 17), en dat Hy baie omgee vir my en jou. Hy hoor elke versugting van jou hart, al voel dit soms nie so nie. Onthou wat Hy gesê het in Mal. 1:2 - “Ek het julle lief, sê die Here.”
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag weereens getroos kan word deur U wonderbare liefde. Dankie dat U omgee vir my.