Gee Eer Aan Die Keiser

22 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gee Eer Aan Die Keiser

1 Petrus 2:13-17

VIDEO * OUDIO

Die Keiser is nie ‘n maklike man om mee saam te leef nie. Hy gee opdragte wat jou teen die bors stuit, en hy maak wette wat jou dwars in die krop steek. Hy vaardig dekrete uit wat jou die hande in die lug laat gooi. Voorbeelde hiervan is daar legio: as ons so ‘n paar jaar terug gaan in die geskiedenis, dan was daar die flambojante Idi Amin, ‘n man so lagwekkend kontroversiëel dat daar selfs ‘n fliek oor hom gemaak was! Hierdie bose karakter het sy land met ‘n ysterhand regeer en miljoene mense die harnas ingejaag. In ons eie tyd is dit die opper-leier van Noord Korea, Kim Jong-un wat ‘n wrede skrikbewind voer, nes sy pa Kim Jong-il en oupa Kim Il-sung. ‘n Christen het daar géén bestaansreg nie!

In ons eie land gooi ons dikwels die hande in die lug uit pure radeloosheid wanneer ons sien wat die manne en vroue daar bo nou al weer aangevang het. Elke dag het nou letterlik splinternuwe verrassings, en dit raak al erger en erger. En hoe meer ons protesteer oor al die ongeregtighede, hoe minder steur hulle hulle daaraan!

Dit is met hierdie agtergrond dat ons hierdie paragraaf lees wat Petrus geskryf het oor die owerhede. Dit is belangrik dat ons sal raaksien dat hy nêrens voorskrifte gee oor hoe ‘n regering moet optree nie, maar sy opdragte is suiwer vir die onderdane. Nou moet ons ook onthou dat Petrus hier in die eerste plek praat met die “vreemdelinge en bywoners” van gister se oordenking, mense met absoluut géén regte en sonder burgerskap. Die riglyne is wél spesifiek vir hulle bedoel, maar dit kring ook wyer uit na énigeen wat onder gesag staan.

Petrus sê baie reguit dat jy jou moet onderwerp aan die owerhede, of dit nou die keiser is, of sy gesante. Waarom? “Ter wille van die Here,” skryf hy in vers 13. Die tweede rede wat Petrus hier gee is dat die Here nie wil hê dat ons die kwaad wat ‘n owerheid ons mag aandoen met kwaad probeer regmaak nie, maar eerder deur goed te doen. ‘n Staatsgreep is dus beslis nie ‘n opsie nie!

Ja, dikwels raak ons maar moedeloos as die regering dinge doen wat totaal verkeerd is, en dan is die neiging dikwels om reg in eie hande te neem en in opstand te kom, veral as die regering nie jou eie politieke party is nie. Dit is egter dwaas om die regering tot ander insigte te dwing deur te probeer om hom te oortref met kwaaddoen. Petrus wil vir ons wys hoedat jy ‘n einde kan maak aan wanpraktyke van ‘n regering wanneer jy dit nie kan regkry deur die gewone politieke kanale nie: jy kry dit reg deur goed te doen! Kom ek noem ‘n voorbeeld:

Godsdiensonderrig was destyds afgeskaf in openbare skole, ‘n droewige en baie seer dag vir die Christelike geloof! Baie mense het in opstand gekom daarteen, en sommige skoolhoofde het die wet selfs totaal geïgnoreer en bloot aangegaan daarmee, met die gevolg dat hulle hulle rieme styfgeloop het. Een onderwyseres in Stanger het egter hierin ‘n geleentheid raakgesien. Sy het gereken dat pousetye mos nie skooltyd was nie, en die kinders kon dan mos doen wat hulle wou! Sy begin toe om haar eie pousetyd op te offer om met kinders te gesels oor die Evangelie. Eers was dit net ‘n paartjies wat kom meedoen het, maar die woord het vinnig versprei. Kort voor lank was daar elke pouse sommer ‘n groot klomp kinders om haar!

Sy het mettertyd ‘n groot behoefte raakgesien, dat meeste van hierdie kinders gladnie Bybels gehad het nie. ‘n Fondsinsameling was gou gereël, en ‘n klomp Bybels kon aangekoop word. Die kinders kon dit koop teen ‘n skamele vyf Rand elk. Die eerste Bybels was opgeraap, en inderhaas moes nóg voorrade aangekoop word terwyl selfs Moslemkinders tougestaan het om Bybels te koop! Dis iets wat nooit sou kon gebeur het as Godsdiensonderrig nie afgeskaf was nie. Die ander bonus was dat die kinders vrywillig van Jesus wou leer sonder enige dwang van verpligte godsdiensonderrig!

Petrus waarsku dat jy jou aan die owerhede moet onderwerp omdat jou vryheid in Christus nie God se opdragte uitkanselleer nie. Ek het al dikwels gehoor dat iemand sê dat hy slegs een Heerser in sy lewe het, naamlik Christus, en daarom steur hy hom nie aan ‘n regering nie. God vra van jou om jou in die eerste plek natúúrlik aan Hom te onderwerp, maar terselfdertyd moet jy ook aan die regering gehoorsaam wees. Om dus die regering te gehoorsaam beteken dat jy daardeur terselfdertyd God gehoorsaam. Maar dit geld nie net die regering nie maar “elke menslike instelling” (v. 13), dus ook jou onredelike baas, die onmoontlike munisipale amptenaar, en die selfgeregtigde verkeersman. Eer hom vir die posisie waarin God hom aangestel het. Natuurlik is daar ‘n uitsondering. Wanneer die owerhede vereis dat jy iets moet doen waarin jy God ongehoorsaam moet wees, moet jy besef dat God die hoogste gesag is, en dat jou gehoorsaamheid in die eerste plek dáár lê. Daniël is hier die voorbeeld.

God vra dus van jou, nie opstandigheid teenoor die nie-Christelike regering nie, maar eer, en nie haat teenoor die ongelowiges nie, maar respek.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n hart van liefde, en help my om eer aan die owerhede te gee!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026