Gebruik Jou Gawes

25 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gebruik Jou Gawes

1 Korintiërs 12:27-31

VIDEO | LUISTER

Dis Geloftefees op Waterval Boven. Buite die dorp, teen ‘n koppie staan die Geloftesaal, ‘n sinkafdak wat regdeur die jaar verlate staan, maar op 14 Desember, twee dae voor Geloftedag, is daar skielik lewe. Al wat leef en beef trek daar saam vir die fees van álle feeste, en die aanloop tot daardie gewyde dag, is ’n reuse plesierigheid! Daar word vleis gebraai, toesprake gehou, gesing en speletjies gespeel vir ‘n vale. Op die 15de bereik alles ‘n hoogtepunt, en dit was veral vir ons kinders vet pret met al die Boeresport. Toutrekspanne het mekaar die stryd aangesê. Spanwerk was hier van baie groter belang as die brute krag wat in sekere spanne was. As ’n span goed georganiseer was, het hy die grootste bulle in die stof getrek. Maar dan was daar ook nog die sakresies, eier-in-die-lepel resies, en dan die moeilikste van almal, die driebeenresies. Hierdie een verg van jou saamwerk soos min met jou spanmaat. Jou regterbeen word aan sy linkerbeen vasgebind, en dan moet julle soos een man reageer. As julle bene nie eenhonderd persent saamwerk nie, gaan julle in die stof byt. Letterlik!

Paulus is steeds besig met die Geestesgawes, en hy wil wys dat, alhoewel daar ‘n verskeidenheid is, hulle tóg ook ‘n eenheid moet vorm. As gelowiges hardloop ons ook in ‘n driebeenresies, en saamwerk is die groot geheim.

Natuurlik is daar ook ‘n rangorde. In enige organisasie moet daar iemand wees wat leiding neem, anders kan daar geen orde wees nie. Paulus noem sy rangorde: Apostels, wat oorkoepelend oor al die gemeentes toesig hou, Profete - leiers in die plaaslike gemeente, leraars, mense wat wonderdade doen, mense wat kan gesond maak, en diegene wat ongewone tale gebruik. Dan vra Paulus in 1 Kor 12:29 ‘n retoriese vraag: “Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars?”

Ons moet onthou dat Paulus se lysie slegs betrekking het op sy eie tyd. Apostels bestaan reeds vir 2000 jaar nie meer nie, en al die kerkstrukture het totaal verander, etlike kere al. Sy lysie is ook nie veronderstel om volledig te wees nie. Hy wou bloot ‘n waarheid probeer tuisbring by sy lesers. Presies dieselfde waarheid wat vir die mense van Korinte 2000 jaar gelede bedoel was, is vandag steeds nét so relevant. Maar ons lysie vandag gaan totaal anders daar uitsien as Paulus s’n. Vandag sal dinge soos rekenaarvaardigheid, sangtalent, gasvryheid, skryfkuns en dies meer baie van die gawes vervang of aanvul. Die punt wat Paulus probeer tuisbring is dat die kerk en die gemeente op só ‘n wyse moet funksioneer dat ál hierdie wonderlike gawes wat die Here vir ons as gelowiges gegee het tot hulle reg sal kom in die kerk. Mense moet voel dat hulle deel is van die liggaam van Christus, en dat almal mekaar aanvul en ondersteun deur hulle verskillende gawes te gebruik.

In Paulus se tyd was ‘n gemeente maar baie geïsoleer, en dikwels het mense nooit verder as hulle eie dorp uitgereik nie. Vandag is die ganse wêreld een groot stad, en mense van verskillende kontinente kan met mekaar kommunikeer asof hulle naby mekaar is. Kommunikasiestelsels soos die internet, WhatsApp, TV en satelliet-tegnologie het almal feitlik saamgebring onder een sambreel.

Al hierdie tegnologiese ontwikkelings bied totaal nuwe uitdagings vir ons as gelowiges. Ons moet bereid wees om baie verder te kyk as slegs ons eie klein gemeentetjie. Die wonderlike is dat die Here ons as gelowiges die gawes gee om gebruik te kan maak van die tegnologie. As gelowiges kan ons nou met ander gelowiges regoor die wêreld gesels en ons vreugdes en probleme met mekaar deel. Ek het al talle male die wonderlike voorreg gehad om vir medegelowiges in Durban, Nelspruit, Australië, Amerika, Engeland en selfs Panama van hulp te wees op die een of ander wyse. Deur die gawes wat die Here my gegee het, kon ek die hulp van ’n pastorale sielkundige in Korea kry vir iemand elders in die wêreld op 'n ander kontinent. Deesdae bereik hierdie boodskappies mense regoor die aardbol, nie alleen deur e-pos nie maar selfs ook deur WhatsApp en YouTube.

Die groot geheim is dat ons baie wyer moet kyk as een enkele Geestesgawe. Vir ons gelowiges was die verskeidenheid van gawes nog nooit so groot as juis nou nie! “Lê julle toe op die beste genadegawes”, sê Paulus in 1 Kor 12:31. Gaan sit ‘n bietjie en dink (biddend) oor al die gawes wat die Here jou gegee het, en gebruik hulle na die beste van jou vermoë in diens van die Here. Ja, hulle mag dalk vir jou op die oog af lyk na sekulêre gawes, maar dalk is dit presies wat die Here wil hê wat jy moet inspan om in Sy diens te gebruik.

‘n Dame het eendag vir my gesê: “Ek het geen gawes nie - wat moet ek doen?” Werklik? Elkeen van ons het gawes, al is dit dan ook om ‘n plek mooi skoon te kan maak, of om pannekoek te kan bak. Gebruik dit wat Hy jou gegee het met vreugde en entoesiasme tot eer van God!

Gebed:

Here, dankie vir die gawes wat U my gegee het. Help my asseblief om my gawes voluit vir U te gebruik!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026