Gebed

20 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gebed

Lukas 11:5-13

VIDEO OUDIO

Nadat Jesus vir Sy volgelinge die “Ons Vader” gebed geleer het, gaan Hy verder om die waarde van gebed te verduidelik in die vorm van ‘n storietjie. Hy gebruik beelde wat hulle baie goed verstaan. In die Midde-Oosterse wêreld was gasvryheid ‘n baie belangrike ding. Selfs al kom iemand in die middel van die nag by jou aan, sal jy steeds uit jou pad gaan om aan hom gasvryheid te verleen. Dit was deel van die lewe, en as jy nie hiermee saamgegaan het nie, was dit ‘n skande. Vandag leef ons anders. Ek sal gerieflikheidshalwe maak asof ek nie die deurklokkie gehoor het nie, en almal sal saamstem, die misdaadsituasie, jy weet mos.....

Die gelykenis handel oor ‘n man wie se vriend hom in die middernagtelike ure wakker klop en vra vir drie brode om te leen sodat hy gasvryheid kan bewys aan ‘n onverwagse besoeker. Jesus verduidelik dat ter wille van vriendskap sal hy sy vriend help. En al sou dit dan ook maar net wees om nie skande oor sy naam te laat kom nie, sal hy steeds die vriend help!

Dadelik wil ons vra wat hierdie storie dan met gebed uit te waaie het? Jesus antwoord sélf die vraag deur te verduidelik. Hiermee wil Hy elke gelowige aanmoedig om te volhard in gebed. Deur die voorbeeld wat Jesus gestel het deurdat Hy sélf dikwels in gebed verkeer het, het Hy mense aangemoedig om te bid. Hy het ook verskeie kere deur gelykenisse die waarde en noodsaaklikheid van gebed beklemtoon. In hierdie gedeelte is die sentrale boodskap egter God se gewilligheid om te gee vir dié wat vra. Jesus wil hiermee duidelik maak dat Hy selfs die mees ontydige en skaamtelose versoek sal aanhoor.

Jesus moedig die luisteraars aan om met ‘n oop gemoed na die Vader te gaan.Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal vind. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.(v.9). Hy wil hierdie gedagte inhamer in die luisteraars se gedagtes, dus herhaal Hy dit in ander woorde. En dan verduidelik Hy dat God soos ‘n liefdevolle Pa vir Sy kinders sorg. In die vorige dagstukkie het ons alreeds gesien dat Jesus God voorstel as ons Vader, en dat ons daarom in vrymoedigheid na Hom kan gaan sonder enige vrees. Nou wil Jesus dit beklemtoon dat Hy ook die sorgsame Vader is wat nie alleen in ons daaglikse brood voorsien nie, maar ook gee wanneer ons vra.

Jesus verduidelik dat ‘n aardse pa tog sékerlik nie onsimpatiek teenoor sy kinders sal optree nie, hy sal voorsien in hulle behoeftes en wanneer hulle hom iets vra sal hy beslis nie antwoord deur hulle iets totaal nutteloos te gee nie. Ons besef dat ons almal maar sondige mense is, en dat selfs die heiligste persoon nie sonder sonde is nie. As so ‘n sondige pa dan vir sy kinders goed kan wees, hoeveel te meer nie die Heilige Vader in die hemel nie!

Dit bring ons egter by ‘n groot kwelvraag waarmee baie mense worstel. As Jesus dan hier belowe dat God alles sal gee wat ons vra - waarom is dit dan dat ek al jare lank bid vir iets, en die Here gee dit nie vir my nie?

Ons moet besef dat ek en jy nietige, feilbare, sondige mensies is wat gewoonlik nie eers ‘n aks verstaan van waaroor die lewe gaan nie. Dikwels is ons wenslysies vir die Here soos die lagwekkende briefies wat kinders vir Kersvader skryf - “Ek wil ‘n fiets hê en ‘n vliegtuigie en ‘n rekenaar met baie games op en.......”. Ons kan maar net lag oor die versoeke van ons kinders, en dan wil ons baie vinnig sê: “Maar my versoeke aan die Here is darem nie so belaglik nie!”

As ons in perspektief daarna kyk, sien ons dat kinders baie eerlik is met hulle versoeke. Hulle sien dit beslis nie as belaglik nie! Tóg sal ons dikwels iets totaal anders gee, want ons besef al te goed dat dit wat hulle vra nie goed sal wees vir hulle welsyn nie. Op dieselfde wyse besef ons dikwels nie wat die Here vir ons beplan nie, en dan wonder ons waarom Hy dan nie die dinge wat ons vra vir ons gee nie, al is dit soms baie edel dinge.

Dikwels sien ons jare later eers wat Sy doel was. ‘n Voorbeeld uit my eie lewe is dat ek wou predikant word, maar dinge het nie vir my so uitgewerk nie, en ek het dikwels gevra waarom die Here nie vir my daardie baie edel hartsbegeerte wou gee nie. Eers jare later, toe Hy vir my hierdie bediening in dagstukkies gegee het, waar ek elke dag duisende mense kan bereik met die Evangelie, het ek begin verstaan. Hy het gegee, maar baie oorvloediger as wat ek ooit kon droom! As predikant sou ek die Woord hoogstens slegs een keer ‘n week aan ‘n paar honderd mense kon bedien.

Jesus sluit af deur te sê dat die Vader die héél grootste vir ons gee wanneer ons vra, naamlik die Heilige Gees. Kan ons óóit vir enigiets meer vra? Oor hierdie onderwerp kan ons boeke vol skryf, maar hierby wil ek volstaan.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike gawe van gebed, en dat ons hiermee na U kan gaan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024