Gearresteer

9 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gearresteer

Johannes 18:1-11

VIDEO * OUDIO

Al ooit gewonder waarom dit juis nodig was dat Judas die soldate na Jesus moes neem? Hy was mos maklik om op te spoor, nie waar nie? In die eerste plek sou dit moeilikheid wees as hulle Jesus helder oordag sou arresteer, want Hy het steeds baie aanhangers gehad en die Jode wou ten alle koste vermy dat daar ‘n opstand uitbreek. Dus moes Hy in die nag gevang word sodat die dinge ongesiens kon gebeur. Die laaste ding wat hulle wou hê is dat dit baie aandag trek.

Ons moet onthou dat dit Paasfees was. Jerusalem was tot oorlopens toe vol van pelgrims van regoor die wêreld wat hier wou kom feesvier. Blyplek was natuurlik ‘n nagmerrie, want al die herberge was vol en meeste pelgrims moes net eenvoudig vir hulle ‘n lêplekkie iewers in ‘n park of ‘n openbare tuin kry vir die nag. Jy kan jou dus indink dat om iemand in die nag op te spoor tussen honderde of dalk selfs duisende mense wat daar iewers lê en slaap, was ‘n totaal onbegonne taak. Onthou, daar was nie straatligte nie! Natuurlik sou Jesus en die twaalf manne ook iewers in ‘n tuin oornag het en hulle gunsteling slaapplek was die tuin van Getsemane.

Dit is dan ook net hier waar Judas in die prentjie ingekom het. Hy het met die Joodse Raad ooreengekom dat hy teen betaling vir hulle sou gaan wys waar om Jesus te kry. Hy het presies geweet waar Jesus en die ander manne sou slaap daardie nag. Hy was immers veronderstel om saam met hulle daar te wees! En so sien ons die optog van soldate in diens van die hoëpriester en wagte wat vir die Fariseërs gewerk het, gewapen met spiese, kieries en fakkels om hulle pad te vind in die donker tuin. Vooraan die stoet loop Judas, want hy ken die pad na Jesus se slaapplek. Ek kan my voorstel dat hierdie ‘n skrikwekkende optog moes wees. Die slim mense reken dat daar iewers tussen tweehonderd en seshonderd mense moes wees in die groep! Die ironie van die saak is dat hierdie klein weermag daar was om een enkele Man aan te keer - iemand wat waarskynlik nog nooit in Sy lewe eers ‘n wapen in Sy hand gehad het nie!

Maar as ons nugter oor die saak gaan dink, strek hierdie ironie eintlik selfs nog baie verder, want hierdie “oormag” kom eintlik om God gevange te neem! Dan raak hulle ‘n nietigheidjie, want watter magtige weermag kan een oomblik staande bly teen die hemelse magte wat God met een enkele woord kan ontplooi? Die Jode en die hoëpriester dink dat hulle die hef in die hand het. Hulle het die volle mag oor hierdie Jesus! Hulle besef egter nie dat hulle eintlik probeer optree teen die Koning van alle konings nie en dat alle mag in die hemel en op aarde in Sy hande is. Hulle besef nie dat hulle totaal magteloos voor Hom staan en dat hulle alleen regkry wat hulle regkry omdat Hy hulle dit toelaat, sodat God se reddingsplan tot uitvoer kan kom.

Wat sou enige mens se normale reaksie wees as hy hierdie oormag sou sien aankom en hy weet dat hulle hier is om hom te kry? Dit sou eintlik baie maklik wees om net eenvoudig in die tuin te verdwyn tussen die donker bome in en te gaan skuil tussen die horde mense wat daar lê en slaap. Maar wat doen Jesus? In plaas van wegvlug, loop Hy hulle tegemoet! Hy weet presies wat hulle soek en Hy maak dit vir hulle maklik. Hy lê immers Sy lewe vrywillig af!

In die ander evangelies lees ons dat Judas vir Jesus gesoen het. Johannes vertel egter dat die soldate teruggedeins en op die grond neergeval het.

Waarom?

Dalk kan ons die antwoord gaan soek in Jesus se woorde, toe hulle sê dat hulle vir Jesus van Nasaret soek. Sy antwoord was: “Ek Is Hy!” Het Judas en die soldate dalk hierin die woorde van God gehoor toe Hy by die brandende braambos Homself aan Moses voorgestel het: “EK IS WAT EK IS”? Het Judas dalk nou vir die eerste keer besef dat hy waarlik met God te doen het? ‘n Mens kan maar net wonder.

In ‘n normale situasie sou Jesus se dissipels saam met Hom gevange geneem word. Nogtans word hulle teen alle verwagtige in vrygelaat op Jesus se bevel. Selfs nadat Petrus Malgas se oor met sy swaard afgekap het, word hulle nie gevange geneem nie. Waarom? Dit illustreer die mag wat Jesus steeds oor die omstandighede gehad het. Die dissipels het ‘n taak gehad en die soldate was magteloos om te keer dat hulle daardie taak gaan uitvoer. Jesus was in volle beheer van die totale situasie. Wanneer Petrus sy aanval doen met sy swaard, probeer hy ingryp, maar ook híér neem Jesus beheer oor. Hy moes immers voortgaan met Sy versoeningsdaad en selfs Petrus kon Hom nie eers keer nie.

Vandag is God steeds in volle beheer, al lyk die situasie soms vir ons totaal onmoontlik. Om God te vertrou wanneer die nag op sy donkerste is, is nie maklik nie - vra maar vir Petrus! Persoonlik het ek self ook ‘n paar jaar gelede deur ‘n baie donker tyd gegaan en dit was beslis nie maklik nie. Dit is egter suiwer genade dat ek God kon vertrou en Sy wonderlike hand in my uur van nood kon raaksien. O ja, en Hy het die wonderlikste vriende op my pad gestuur om my hande vas te hou en my te bemoedig en my daaraan te herinner dat Hy in volle beheer is!

Gebed:

Here Jesus, elke dag kom ek net meer en meer tot die besef dat U die almagtige God is, en dat U in beheer van alles is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026