3 Johannes:1-8
3 Johannes is ‘n baie kort briefie, slegs 219 woorde lank. Anders as die meeste ander briewe in die Bybel, is hierdie brief baie persoonlik. Dis nie gerig aan ‘n gemeente nie maar aan ‘n persoon, Gaius. Johannes bedank in die brief vir Gaius omdat hy so gasvry is wanneer hy die rondreisende predikers ontvang. Dis inderdaad die klein dingetjies in die lewe wat saakmaak, soos byvoorbeeld in hierdie geval gasvryheid. Dis juis dáár waar jou Christelike leefstyl sigbaar word vir die wêreld. Deur die klein dingetjies weerspieël jy God se liefde en só word jy ‘n ambassadeur vir die Koninkryk.
Johannes skryf ook vir Gaius oor allerhande soorte berigte wat hom bereik het, goeies én slegtes. Hy het gehoor dat Gaius getrou bly aan die Evangelie, iets waaroor hy natuurlik baie dankbaar is. Hy praat ook met Gaius oor Demetrius, 'n gemeentelid van wie almal net met groot lof praat. Aan die ander kant is daar egter Diotrofes, 'n gemeenteleier oor wie Johannes diep bekommerd is. 'n Leier moet bereid wees om gesag te aanvaar, maar Diotrofes weier om dit te doen. Boonop beskinder hy vir Johannes! Van gasvryheid teenoor rondreisende evangeliedienaars is daar by Diotrofes géén sprake nie. Dalk het hy 'n treetjie te ver gegaan toe hy in Johannes se vorige brief gelees het dat jy versigtig moet wees vir mense wat valse leringe versprei. Dalk wou hy ten alle koste verhoed dat enige vreemdeling in die gemeente kom preek, al is hy dan nou ook ‘n evangeliebediener. Ja, uit hierdie brief kom ons agter dat daar baie verskillende soorte mense in ‘n gemeente kan wees. Daar is die yweriges en gasvryes maar ook die oorversigtiges. Elkeen het sy plekkie in die gemeente. Ons moet egter versigtig wees dat ons nie met ons optrede die Evangelie skade berokken nie!
As ek maar ons eie gemeente as voorbeeld kan gebruik: Ek onthou die jare nog uiters goed toe enigeen wat nie aan een van die drie susterskerke, NG, Gereformeerd en Hervormd behoort het nie, beskou was as “sektaries”. Sulke kerke was verdoem! Uiteindelik het die AGS darem ook die status van “kerk” gehaal! Maar hulle was maar steeds met groot versigtigheid behandel. Loof die Here dat mense, veral kerkleiers se oë oopgegaan het! Dat hulle begin besef het dat almal wat die Naam van Jesus bely deel is van die gesin van God. In die NG Kerk preek daar deesdae dikwels leraars van 'n verskeidenheid ander kerke. Op hierdie manier word die bande van broederskap stewig gebind.
Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat in hierdie briefie aan Gaius staan (al is dit persoonlik, sal hy nie omgee om dit met ons te deel nie!) Die skrywer stel homself voor as “Die Oudste.” Dit is nie nodig vir Johannes om sy naam te skryf nie, want daar was reeds ‘n pragtige verhouding tussen hom en Gaius, ‘n Goddelike liefdesband. Alhoewel Gaius nie noodwendig ‘n ouderling in die gemeente was nie, was hy waarlik ‘n Christen op wie jy kon steun en met ‘n ryk geestelike lewe. Dit blyk uit die feit dat Johannes vertel hoeveel blydskap Gaius se lewe hom besorg, as hy van ander mense verneem dat hy “getrou bly aan die waarheid” en “in die waarheid leef”. Gaius se belydenis en sy leefstyl is absoluut Christusgerig en mense sien dit raak. Dit het ‘n positiewe invloed op ander mense se lewens. En dit is presies waaroor Johannes se boodskap aan Gaius handel: Leef uit wat jy glo!
Nou wat het Gaius dan gedoen om Johannes se lof so te verdien? Dit was veral sy gasvryheid wat hom so vooruit geloop het! Dit was seker nie maklik daardie tyd om ‘n leraar te wees nie. Vandag word ‘n leraar in ‘n gemeente aangestel en hy kry ‘n huis en lewensonderhoud. Tóé was dit egter baie anders want hulle moes van gemeente na gemeente gaan om die Woord te bedien, waarskynlik op hulle eie koste. Verblyf was ook ‘n groot probleem en ek is seker dat hulle dikwels bloutjies geloop het of dalk baie kil ontvang was! Gaius het hulle egter met ope arms ontvang en dit vir hulle aangenaam gemaak want hy was oortuig daarvan dat hy die regte ding gedoen het. Op hierdie manier het Gaius sy lojaliteit en verbondenheid aan die ware leer van Christus gewys deur sy onbaatsugtige liefde wat hy op hierdie manier uitgeleef het.
Iemand het eenmaal opgemerk dat hy nie kan verstaan hoe dit moontlik is dat Christene mekaar kan liefhê nog voordat hulle mekaar ken nie! Gaius se liefde vir vreemdelinge het ‘n integrale deel geword van die verspreiding van die Evangelie.
Deur hierdie briefie wil Johannes vanoggend ook op jou en my ‘n beroep doen om God se liefde uit te leef. Gaius het dit gedoen deur sy gasvryheid. Moontlik is daar ‘n héél ander manier waarop jy dit kan doen. Iemand vertel my eendag dat sy haar liefde uitgeleef het deur briewe te skryf aan gevangenes in ‘n Amerikaanse tronk. Daar is baie verskillende maniere om God se liefde sigbaar te maak aan die wêreld. Wees kreatief en vind ‘n manier om jou liefde uit te leef.
Gebed:
Here, wys my asseblief op watter manier ek U liefde vandag kan uitleef!