Matteus 4:12-17
Veertig dae in die woestyn het tot ‘n einde gekom vir Jesus. Fisies waarskynlik totaal uitgeput van al die ontberinge, maar geestelik is Hy versterk vir die reuse, totaal onmenslike taak wat op Sy skouers lê.
Vir ons is dit dikwels onverstaanbaar hoe Jesus in daardie tyd ‘n normale mens was met die gewone menslike beperkinge en behoeftes. Maar terselfdertyd was Hy ook God. Hoe hierdie twee elemente inmekaargevleg is, is vir ons menslike verstand heeltemal te groot. Ons sien duidelik hoedat Sy menslike baie sterk na vore kom. Hy ervaar versoekings nes enige ander mens. Hy ervaar honger, pyn, droefheid, frustrasie en angs nes ek en jy. Maar dan skyn die Goddelike dikwels ook helder deur.
Menslik gesproke het die woestyntydperk Hom voorberei vir wat op Hom wag sodat Hy vol selfvertroue Sy taak kon opneem. Maar dan kom die tragiese nuus dat Sy voorganger, Johannes in die tronk gestop is deur Herodus. Dit laat Jesus besluit om nie langer in Judea aan te bly nie, maar Sy bediening te begin in Galilea. Hy vertrek na Kapernaum waar Hy Hom vestig. Daar begin Hy deur Johannes se prediking voort te sit deur die boodskap van bekering te verkondig. God se Koninkryk het immers naby gekom! Hoe naby dit was, het nie een van die mense wat na Sy prediking geluister het, werklik besef nie.
Maar waarom juis Galilea? Alhoewel daar baie Jode gebly het, was dit eintlik tradisioneel ‘n nie-Joodse gebied. Dit was oorwegend heidene wat in Galilea gebly het. Matteus praat dan ook van “Galilea waar die heidene woon.” Jesus gaan preek dus vir die heidene, dalk een van die redes waarom die kerkleiers Jesus met so ‘n passie gehaat het.
Maar dit maak nie sin nie, elders beklemtoon Matteus dat Jesus se optrede op die Jode toegespits is. Waarom skryf hy dan so pertinent dat Jesus in ‘n heidense gebied gaan preek het? Ons moet onthou dat Matteus se gemeente nie in Judea was nie, maar in die heidenstad Antiogië. En dit is juis vanuit hierdie gemeente dat daar sulke wonderlike sendingwerk gedoen is deur hulle gemeentelede soos Paulus en Barnabas. Hulle is die heidenwêreld ingestuur.
Terselfdertyd is die feit dat Jesus Judea verlaat het vir Galilea, dalk ‘n subtiele veroordeling van die Jode. Hulle het immers vir Jesus verwerp, en hy wys vooruit dat Jerusalem as puinhoop agtergelaat gaan word vir die Jode. Daardie Koninkryk sou aan ‘n ander volk gegee word. Selfs die tempel, dít wat vir die Jode heilig en kosbaar was, sou totaal verwoes word.
Dan haal Matteus ‘n gedeelte aan uit Jesaja 8, oor die land wat in duisternis woon, wat ‘n Lig gesien het. Wat vir die Jode ‘n verdoemenis was, was vir die heidense streek van Galilea ‘n aankondiging van redding. Later sien ons dat derduisende mense uit hierdie donker streek saamgedrom het rondom Jesus om Sy boodskap van verlossing te kom hoor.
As ons vandag mooi daaroor dink, dan is dit tóg interessant om te weet dat God se boodskap van verlossing vanuit die Joodse gebied geneem is na die heidene. Die twaalf manne wat Jesus later sou aanstel as Sy gesante was ook almal Jode. En selfs die groot sendelinge wat die boodskap onder die heidene moes gaan versprei, Paulus en Barnabas, was Jode. Paulus was boonop nie maar ‘n gewone Jood nie, hy was selfs ‘n Fariseër! Nogtans is hulle boodskap deur die Jode verwerp en was dit juis Jode wat hulle die meeste probleme besorg het. Heidene het hulle met ope arms ontvang.
Dit is tragies om te dink dat God se volk Jesus, die Skepper-God, se ergste teenstanders geword het. Later sou ons sien dat hulle Hom gejag het en probeer verneder het. Hulle het uit hulle pad gegaan om Hom uit die weg te ruim. Uiteindelik vermoor hulle Hom. Ons kan Jesus se teregstelling beskryf as niks anders nie as moord!
Ons moet egter versigtig wees dat dieselfde nie dalk met ons gebeur nie! Gelowiges is dikwels die kerk se grootste vyand, want ons bemoei ons met niksseggende dingetjies en stry oor dinge van mindere waarde, terwyl daar ‘n heidendom daar buite is wat besig is om verlore te gaan. Net soos die Jode van ouds is ons dikwels besig om vir ons ‘n heiligdom te skep wat ons jaloers vir onsself bewaar.
Ons gelowiges moet wakker skrik en begin uitbeweeg na “Galilea van die heidene”. Met hoeveel ongelowiges het jy die afgelope maand of twee of ses die blye boodskap van Jesus se verlossing gedeel? O ja, ons leef en werk dikwels in “Galilea” maar ons gedra ons soos “Jode” wat ons geloof eksklusief vir onsself wil probeer hou. Alhoewel ek gladnie saamstem met die leer van die Jehovah’s Getuies nie, haal ek my hoed af vir hulle omdat hulle onverskrokke hulle boodskap uitdra na almal wat nie hulle geloof deel nie. Kom ons probeer dieselfde!
Gebed:
Here, ek bely vanoggend dat ek so wegskram van die “Galilea” in my lewe. Help my asseblief om daardie vrees te oorwin en uit te reik na ongelowiges.