Gabriël Praat

25 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gabriël Praat

Daniël 8:15-18

VIDEO | LUISTER

My Oupagrootjie het ons eenmaal die verhaal vertel van ‘n baie vroom, Godvresende familielid wat tweekeer deur ‘n engel besoek is. Die eerste keer het die engel vir hom kom sê dat hy op ‘n sekere tyd sou sterf. Die man moes sekerlik ontsteld gewees het, maar ‘n ruk later, terwyl hy by sy skaapkraal is, staan die engel skielik weer voor hom. “Die Here het besluit om jou tyd op aarde met drie maande te verleng”, het die engel vir hom gesê, en hy vertel vir hom presies op watter dag en uur hy sou sterf. Oupa het vertel dat die man rustig voortgegaan het en al sy sake in orde gekry het, en dat die familie daardie dag almal kom groet het, en op die bepaalde tyd is hy hemel toe, presies soos die engel voorspel het. Ek het rede om te glo dat hierdie verhaal waar is, want Oupa het nooit, óóit nonsens gepraat nie!

Die vraag is, of engele ooit nog aan mense verskyn en met hulle ‘n gesprek voer?

Ons lees in die Bybel dat God saam met Adam gewandel het in die Tuin. Hulle het met mekaar gesels. Toe kom die eerste sonde, en Adam en sy vrou, Eva kruip vir God weg. Later lees ons dat Abraham ook met God gesels het, en dat engele hom besoek het asook sy nefie Lot daar in Sodom. Dan was daar natuurlik Moses - God het direk, met ‘n hoorbare stem met hom gepraat, eers uit die brandende doringbos, en later weer op die berg Sinai. God het daarna verskeie kere met Moses gepraat in die Tent van Ontmoeting. Moses moes baie na aan God geleef het - hy moes ‘n baie besonderse mens gewees het!

Maar gaandeweg het mense verder en verder van God af wegbeweeg, sodat dit slegs by uitsondering is dat selfs ’n engel - God se boodskapper - met mense kom praat. En wanneer dit die dag gebeur, dan skrik die persoon hom gewoonlik oorhoeks, soos wat dit met Gideon, Bileam en nou ook Daniël gebeur.

Ons lees in die Bybel slegs op enkele plekke van die engel Gabriël - in Openbaring, Daniël en Lukas. Ons lees ook van die engel Migael in Judas, Daniël en Openbaring. In die boek Daniël is dit dus die heel eerste keer dat ons die naam van ‘n engel sien in die Bybel. In skrille kontras daarmee is daar talle name gegee aan engele in buite-Bybelse tradisie. Soveel so, dat ‘n sekere Gustav Davidson ‘n “Dictionary of Angels” geskryf het waar hy ‘n groot verskeidenheid bronne gebruik het. Dalk is dit ‘n geval van die mens wat sy onvermoë om met God te kommunikeer probeer oorbrug deur engele meer persoonlik voor te stel. Dit is só tragies dat mense se sonde gemaak het dat die afstand tussen ons en die Heilige, sprekende God byna onoorbrugbaar groot geword het.

Wanneer die engel na toe Daniël kom, is die oomblik só groot vir hierdie profeet, dat hy bewusteloos op die grond neerval. Selfs Daniël, wat sy godsdiens so ernstig opgeneem het, kon die glans van God nie weerstaan nie. Die mens het die afstand tussen hom en God al groter en groter gemaak. Nogtans het God bly praat. Hier doen Hy dit deur die engel Gabriël, dieselfde engel wat later ook vir Maria die boodskap van Jesus sou bring. Natúúrlik is God die Een wat die gesprek met die mens wil voortsit. Wanneer Jesus dan Homself verneder en een van ons word, gebeur dit vir die eerste keer sedert Adam dat gewone mense weer met God ‘n gewone gesprek kan voer. Helaas het dit slegs ‘n kort rukkie geduur dat mense van aangesig tot aangesig met Hom kon verkeer, maar die finale brug vir gesprek is gebou. Jesus het wél na die hemel opgevaar, maar in Sy Goddelike alomteenwoordigheid is Hy vandag jou Gespreksgenoot. Hy het egter ook vir ons die Heilige Gees gegee wat in elke gelowige woon en werk en met ons praat.

Ek het al verskeie navrae gehad wat handel oor die “Stem van God”. Dit wissel van mense wat wil weet of ‘n mens God werklik fisies kan hoor praat, tot mense wat kla dat hulle vergeefs met God probeer praat, want “Hy luister nie na hulle nie”. Ek glo dat daar verskeie maniere is om die “Stem van God” te hoor. Met sommige mense praat God in visioene en drome. Maar met die oorgrote meerderheid van gelowiges praat God deur Sy Woord, die Bybel. Vir my persoonlik praat God ook met my deur dit wat ek waarneem in die natuur en selfs soms deur doodgewone dinge wat gebeur. Nee, ek hoor nie fisies die Stem van God nie, maar daar is net ‘n bewuswording van ‘n boodskap wat opgesluit is in iets wat gebeur, of ‘n eenvoudige gedagte wat ek lees.

Wat die probleem van “God luister nie”, aanbetref: Nee, God is altyd daar om te luister! Hy is altyd bereid om met jou te praat - te kommunikeer. As daar ‘n kommunikasiegaping is, moet jy héél eerste by jouself begin soek. Druk jy nie dalk proppe in jou ore nie - proppe van sonde sodat jy gladnie meer vir God kan hoor nie? En daardie “muur” of “plafon” waarteen jy vasbid is iets wat jy sélf bou! God hoor jou steeds anderkant daardie muur. Dit is soos om ‘n baksteen muur te verf op ‘n stuk papier. Vir jou lyk dit solied, maar die werklikheid is dat dit slegs papierdun is. Jy staar jou dus blind teen iets wat vir jou solied lyk, maar vir God kleinlik en nietig is. Breek (of skeur?) daardie muur af met die hulp van die Heilige Gees en kommunikeer!

Gebed:

Here, help my asseblief om die mure wat ek gebou het tussen my en U, af te breek, en om die proppe uit my ore te pluk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026