Fontein van Lewende Water

28 June, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Fontein van Lewende Water

Joël 3:18-21

VIDEO | OUDIO

Ek is opgewonde as ek vroeg-oggend, so pas na hanekraai my stapskoene aantrek. My hande bewe effens van pure opwinding. As ek deur die veld begin stap van die riviertjie af, is die geil gras sopnat van die dou. Ek trek my longe diep vol van die heerlike vars lug.

Veertig jaar het verbygegaan vandat ek laas hier was, op die plaas waar ek grootgeword het naby Waterval Boven. Ek wil nou die plaas gaan verken - gaan kyk na al die plekke wat ek uit my kindertyd onthou - die ou klipkraal, die klipkoppie met al sy heerlike veldvrugte. En dan natuurlik dáárdie fontein met sy heerlike, soet water!

Baie gou kry ek die kraal waar ons elke aand die beeste toegemaak het. Oupa het nog self die kraal gebou - klippe uit die veld as boustene gebruik, sonder ‘n krieseltjie sement! Soos wat hulle daardie jare netjies gepak was, so staan die ou kraal steeds - waarlik ‘n meesterstuk!

Ek pak die klipkoppie aan en baie gou begin my asem jaag, want ek is nie meer so fiks nie. Hier het ek as kind uitgehardloop sonder om ooit moeg te word. Ek kry trane in my oë as ek weer kyk na die pragtige klippe wat kunstig die koppie versier - sandsteen rotse wat asemrowend mooi deur die wind en weer gebeeldhou is in alle denkbare vorms. En die stamvrugbome is ook steeds daar. O, hoe het ek my trommeldik geëet aan daardie heerlike vrugte!

As ek bo kom, gaan sit ek op ‘n plat klip en drink die landskap onder my in. Daar staan ons ou plaashuis steeds en oorkant die riviertjie die bekende Elandskrans. Net ‘n entjie onderkant my borrel die fontein onder ‘n reuse rots uit, maar nou is dit ruig toegegroei deur bome en digte struike......

My gedagtes dwaal baie ver terug - veertig, vyftig jaar. Ek is weer die lewenslustige seuntjie wat in die berge rondklouter. Ek lê weer plat op my maag waar die fontein uitborrel en slurp die heerlike water op. Dis yskoud, heerlik soet en verfrissend. Dit kabbel teen die koppie af in ‘n stroompie wat weelderig groen omsoom is met waterplante.

Laer af voed die stroompie ‘n hele rits damme wat lewe met geelvis en kurpers en forel. En dan is daar die vrugteboorde met die heerlikste sappige vrugte om van te kies en keur. En ryk groentetuine, propvol pure-plaas-heilsaamheid. Die borrelende fontein gee lewe aan alles op die plaas voordat dit in die riviertjie inloop. Op sy beurt loop dit uiteindelik in die groot Krokodilrivier in wat lewe gee aan derduisende mense en diere, selfs in die Kruger Wildtuin.

Die laaste verse van Joël is eintlik die hoogtepunt van die boek. Die teenwoordigheid van die Here in Sion, lei tot allerhande veranderings. Waar die land eers swaar gebuk gegaan het onder die reeks sprinkaanplae en die knellende droogte, bars dié natuurlik letterlik uit sy nate. Die land lewer ‘n oorvloed met groot vrugbaarheid. Waar daar net droë, dor slote was, sal daar nou heilsame water stroom.

Dan gebruik Joël die beeld van ‘n fontein wat uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei. Ons kry dieselfde beeld van die rivier wat in Eden ontspring en die tuin natmaak (Gen. 2:10). Eden word dan die simbool van vrugbaarheid en voorspoed omdat dit God se tuin is en daar volle harmonie is tussen God, mens en natuur. Dieselfde beeld word ook in Esegiël 47 gebruik, waar water uit die tempel stroom. Dit veroorsaak lowergroen bome langs die stroom en loop uiteindelik in die Dooie See in, teen so ‘n asemrowende tempo dat die bitter-sout water van die Dooie See vars word. Sagaria 14 gebruik dieselfde beeld en in Openbaring 22 word die beeld weereens herhaal, waar die kristalhelder stroom water uit die troon van God stroom.

Wat beteken dit alles? Die kern van die gedeelte lê opgesluit in vers 21: “Ek sal My volk se sonde vergewe”. (1983 vertaling) Wat ‘n pragtige beeld, dat die kristalhelder, skoon, vars, lewegewende water God se volk silwerskoon gewas het van hulle sonde!

En nee, dit het beslis nie net betrekking op Israel nie - dit is ook vir my en jou, die gelowiges, die kinders (volk) van God. Vandag kan ons as gelowiges dit maar net in dankbaarheid uitjubel dat God al ons sondes vergewe het en dat ons as skoongewaste, gereinigde kinders voor Hom kan staan.

Is dit nie genoeg rede nie om ons te motiveer om ons ganse lewe in Sy hande oor te gee en ‘n jubelende lewe van dankbaarheid te lewe soos wat dit Hom gelukkig sal maak?

Liewe leser, ek wil vir jou diep uit my hart dankie sê dat jy die boek Joël saam met my deurgewerk het. Dit was nie ‘n maklike boek nie, maar uiteindelik was dit deur en deur die moeite werd. Die vertroosting uit die boek het weereens my hart warm gemaak vir die Here!

Gebed:

Here, dankie vir hierdie pragtige boek. Dit het my aan die hart gegryp en weer diep laat dink oor my eie lewe. U het soms hard met my gepraat uit die boek. Dankie dat ek weereens aan U wonderlike beloftes kan vasgryp!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026