Openbaring 3:7-13
Filadelfia! Wát ‘n pragtige naam vir ‘n stad! Dit beteken “Broederliefde”. Filadelfia het ook bekend gestaan as “die Poort na die Ooste”, want dit was die deur na die plato van Klein-Asië. Gevolglik het die stad ‘n florerende sakelewe gehad. Maar Filadelfia was ook baie swaar getref deur dieselfde verwoestende aardbewing wat Sardis getref het in 17nC. Elf ander stede van Klein-Asië is tydens daardie verskrikking met die aarde platgevee. ‘n Verskriklike ramp! Ten spyte van die aardbewing, het die landbou van die streek egter baie goed gedoen, want die vrugbare vulkaanlae het boerdery daar baie lonend gemaak.
Na die ontstellende brief wat ons gister gelees het, is hierdie een soos die lafenis van ‘n koel, verfrissende bergstroompie na ‘n warm dag se stap. Die brief begin met ‘n pragtige simboliek, waar Jesus - die Heilige, die ware God - in besit is van die sleutels van die lewe, of soos Johannes dit noem, “die sleutel van Dawid.”
Christus is die Een wat die deur tussen die mens en God is. Vir gelowiges sluit Hy hierdie deur oop, en gee vrye toegang tot God. Vir ongelowiges sluit Hy egter hierdie deur dig toe. Alhoewel ongelowiges dikwels onder die indruk verkeer dat hulle toegang tot God het, is dit ‘n mite. Dis ‘n drogbeeld wat die duiwel hulle gee. Ek het al soveel keer gehoor dat ‘n ongelowige vertel van hoe baie hy bid. ‘n Gebed sonder geloof in Jesus is egter nutteloos!
Christus sê aan die gemeente in Filadelfia dat Hy ‘n deur voor hulle oopgesluit het wat niemand kan toesluit nie, selfs nie eers die Jode nie. Inderdaad kon die Jode die deure van die sinagoge vir hulle toesluit, maar nét daar eindig hulle mag. Die deur wat Christus oopsluit, is egter baie groter as die deur wat die Jode toesluit. Dink maar aan die deur na die heidenlande in Frigië, waar ‘n braakland oopgelê het vir die verspreiding van die Evangelie.
Vandag sluit Jesus steeds deure oop, waar mense dink dat hulle dit dig toegesluit het. As jy gaan kyk na die verhale wat vertel word deur Geopende Deure, waar gewone mense Bybels insmokkel in geslote lande, dan slaan jy jou hande saam in verwondering. Stefan v d Bergh het my eenmaal vertel dat gelowige toeriste dikwels tasse vol Bybels saamneem na hierdie lande waar Bybels totaal verbied is. Wanneer hulle by die doeanebeamptes kom, word die tas oopgemaak, en die man sien net eenvoudig nie die Bybels raak nie, of hy kyk weg op die oomblik dat dit deur die X-straal masjien gaan. Wonderwerke gebeur daagliks daar omdat Jesus in besit is van die sleutels. As jy dus, natuurlik eers nadat Kovid 19 verby is, beplan om ‘n reis te onderneem na een van hierdie lande, kontak gerus vir Geopende Deure, en neem ‘n paar Bybels saam vir ‘n gemeente waar ‘n enkele Bybel dikwels deur ‘n paar duisend mense gedeel moet word.
Die brief aan Filadelfia borrel oor van beloftes, nie net vir daardie gemeente nie, maar ook vandag vir jou en my. Nie alleen sluit Jesus deure oop nie, maar Hy het selfs die mag om “die Sinagoge van Satan” - die Jode wat steeds dink dat hulle die uitverkore volk is - voor Hom te laat buig. En wanneer daar verdrukking en beproewings kom, hoef ons nie moedeloos te raak nie, want Jesus sal ons styf vashou.
Ons leef in ‘n tyd van verskrikking, waar misdaad, geweld, bedrog - noem maar op - floreer rondom ons. Niemand ontsnap die onreg wat oor ons spoel nie. En nou sit ons boonop met die verskriklike virus wat ons van alle kante beperk en bedreig! Maar wéét dan dat ons nie alleen is nie, en dat Jesus ons selfs deur hierdie nagmerrie styf vashou. Ons sug dikwels moedeloos omdat misdadigers beskerm word, en die regverdiges uitgelewer word aan geweld. Dalk is dit so, maar Jesus het presies deur dieselfde dinge gegaan, en nog baie erger. En Hy staan by ons deur elke trauma, skaking, inbraak, rooftog en inperking. Ons hoor dikwels van wonderlike verhale van gelowiges wat deur die diepste nag gedra is deur die liefde van Jesus. Die verhaal van Louis en Hettie Brittz het byvoorbeeld die wêreld aangegryp, toe hulle die nag aangeval is en Hettie verkrag is. Die Here het hulle egter styf vasgehou in Sy hand van liefde, en só wonderlik gedra dat hulle selfs die aanvallers totaal kon vergewe! Talle soortgelyke verhale speel daagliks af, waar gelowiges net kan getuig van hoe hulle op wonderbaarlike wyse gedra is dwarsdeur hulle grootste beproewing.
“Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie”, sê Jesus vandag vir jou en my. In die hemel wag daar groot belonings vir diegene wat bly vashou aan hulle geloof, dié wat die oorwinning behaal. Ek en jy is meer as oorwinnaars deur Jesus wat ons die krag daarvoor gee. Elkeen wat oorwin sal ‘n stewige pilaar in die nuwe Jerusalem wees, en geen aardbewing sal dié pilaar ooit laat wankel nie.
Gebed:
Ek jubel en juig in U, Here, want U het reeds die oorwinning vir my behaal. Hou my altyd styf vas, en as ek wil losruk om my eie paadjie te loop, ruk my asseblief terug na U, want alleen in U is ek veilig.