Fariseërs Soek ‘n Teken

13 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Fariseërs Soek ‘n Teken

Markus 8:11-13

VIDEO * OUDIO

Die twaalf manne roei saam met Jesus die lang ent van die Dekapolis-gebied tot by die Dalmanutha streek in Galilea. Vars vasgebrand in hulle geheue, is die groot skare van vierduisend heidene wat hulle Meester so pas gevoed het met ‘n skamele sewe broodjies.

Wanneer hulle voet aan wal sit, word hulle ingewag deur ‘n groep omgesukkelde Fariseërs. In skrille teenstelling met die heidene aan die oorkant van die meer, wat so aan Jesus se lippe gehang het van verwondering, is al wat hierdie geleerde manne soek, konfrontasie. Jesus moet hiér en nóú vir hulle ‘n wonderteken uit die hemel doen!

Het hulle nie alreeds oorgenoeg wonderwerke uit Sy hand gesien nie? Sal hulle ooit glo as hulle nóg een sien? Maar eintlik stel hulle gladnie belang in hierdie “doodgewone” wonderwerke wat Jesus doen nie, hulle wil iets uit die hemel sien gebeur! Hulle wil iets sien wat oortuigend van God Sélf kom om te bevestig dat Jesus waarlik die Messias is!

Ons weet dat daar wél reeds sulke wondertekens plaasgevind het, soos die dag toe Jesus gedoop is, en die hemel oopgeskeur het. Daar het God hoorbaar bevestig dat Jesus Sy Seun is, en almal het dit gehoor. Maar natuurlik was die Fariseërs nie daar nie. Hulle was te besig met “belangriker dinge.” Eintlik stel die Fariseërs nie werklik belang in die wonderteken self nie. Al wat hulle probeer doen is om Jesus te ontmasker en Hom te verneder. Hulle wil Hom op die proef stel om vir eens en altyd te bewys dat Hy nie is Wie die mense dink Hy is nie. Hoe verskriklik verkeerd is hulle nie!

Jesus weier hulle versoek, en dan noem Hy hulle “hierdie geslag.” In Genesis 7:1 en Psalm 95:10-11 word presies dieselfde woorde gebruik om mense te beskryf wat hulle rug op God gedraai het. En dit is presies wat hierdie Fariseërs besig is om te doen: Hulle verwerp God! Hulle draai hulle rug op Hom. Nét daar klim Jesus en die manne terug in die skuit en roei na die “oorkant”, na Betsaida-Julius.

Wonderwerke of wondertekens sal mense nie oortuig om te glo nie! Dit werk eintlik totaal andersom, want jy het eers geloof nodig om waarlik wonderwerke te kan waardeer. Kom ons neem ‘n voorbeeld: Wanneer ek in die aand opkyk na die hemelruim, dan word ek vervul met die wonder daarvan, en die onmeetlike omvang van die skepping laat my steier. Die ondenkbare grootheid en almag van God die Skepper van dit alles, laat my snak na my asem.

Die ongelowige kyk na presies dieselfde wonder, maar hy wil dit bloot wetenskaplik analiseer as die gevolg van die oerknal, ‘n geweldige ontploffing wat 15 biljoen jaar gelede plaasgevind het en die heelal gevorm het soos ons dit vandag ken. Die wetenskap weet nie hoe dit gebeur het nie, maar hulle probeer baie hard om ‘n antwoord te kry!

Die bekende skrywer, Gideon Joubert, het met totaal ander oë na presies dieselfde teorie gekyk. Die oerknal-teorie het vir hom sin gemaak, maar hy sien dit as die begin van God se skepping. In sy boek, “Die Groot Gedagte” beskryf Gideon hoe dit totaal onmoontlik sou wees dat die heelal kon vorm sonder dat daar ‘n baie besliste plan was met die samestelling daarvan. Selfs die beroemde Einstein het hierdie feit raakgesien. Sou die oerknal ‘n werklikheid wees, dan kon dit alleen geskied uit die vormende hande van God! Maar die ongelowige sien dit nie so nie, en niks sal hom anders oortuig nie! Die wonderwerk het by hom verbygegaan!

Die talle sosiale media berigte wat byvoorbeeld die wêreld ingestuur word met sogenaamde bewyse dat die Bybel waar is, sal ook géén ongelowige oortuig nie. Dit laat slegs gelowiges met groter sekerheid. Die hartseer is egter dat meeste van hierdie “bewyse” vals is, soos byvoorbeeld die klassieke een met foto’s van reuse mensgeraamtes wat sou bewys dat die reuse wat in die Bybel beskryf word, ‘n werklikheid was. Hierdie foto’s was gemanipuleer deur ‘n groep studente as deel van ‘n taak. Sulke “bewyse” doen meer skade as goed, want dit sê vir die ongelowige dat gelowiges tog só hard probeer om hulle geloof as eg te bewys, en dat hulle selfs vals materiaal gebruik om te probeer glo. Maak asseblief seker voordat jy sulke goed aanstuur!

Eintlik gaan hierdie hele saak nog verder: Niemand kan bewys dat Jesus werklik die Seun van God en die Messias is nie. Daar is selfs nie eers veel buite-Bybelse verwysings na Jesus as ’n historiese figuur nie. Slegs enkeles soos die Joodse geskiedskrywer, Josefus verwys kortliks na Jesus. Ons kan dit alleen in geloof aanvaar.

Maar wat is geloof dan? Hebreërs 11:1 stel dit baie duidelik: “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” Geloof kan dus nie op sigbare dinge gebou word nie. Dit word egter wél versterk deur sigbare dinge, wanneer jy alrééds die geloof het, soos byvoorbeeld die wonder van die heelal.

Die Heidelbergse Kategismus stel dit só, dat geloof bestaan uit kennis en vertroue. Natuurlik kan jy nie glo as jy nie weet waarin jy glo nie. Daar moet kennis wees van die dinge. Maar dan kom die belangrike by, dat daar vertroue moet wees - ‘n váste vertroue. Nie alleen moet jy vertrou dat Jesus waarlik die Seun van God is nie, maar jy moet jou volle vertroue in Hom stel, en in totale afhanklikheid jou in ‘n verhouding aan Hom oorgee, anders kan dit nooit werk nie.

Gebed:

Here, dankie dat U my geloof gegee het. Leer my om U in alles totaal te vertrou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026