Familie en Gasvryheid

16 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Familie en Gasvryheid

Hebreërs 13:1-6

Video

Audio

Die spreekwoord lui dat jy jou vriende kan kies, maar met jou familie sit jy opgeskeep! Van húlle kan jy nooit ontslae raak nie. As jy die dag ‘n Christengelowige word, kry hierdie spreekwoord ‘n kinkel by, want skielik het al die ander gelowiges ook jou familie geword!

Ja, toe die Nelle die dag see toe trek, kry ons ook familie by waarvan ons nooit geweet het nie! Maar dis nou ‘n héél ander storie. Op ‘n dag kom ‘n jong paartjie by ons aan. “Ek is Oom Piet van Putsonderwater se kleinniggie”, vertel die meisie, “Oom Piet het gesê dat julle nie sal omgee as ons by julle kom oorslaap nie.” Wat kan ‘n mens nou sê? Jy kan die tweetjies mos nie die deur wys nie? En toe slaap hulle oor. Sommer vir ‘n hele week lank! En hulle hou heerlik vakansie by die see op ons onkoste. Ek weet tot vandag toe nog nie wie hulle éíntlikwas nie!

Sedertdien het baie totale vreemdelinge die poorte van die Nelle binnegekom en ‘n slaapplekkie gekry. Mens kan mos nie nee sê as ‘n groepie platsak studente by jou kom aanklop vir ‘n lêplekkie, sommer iewers op die vloer nie. En as hulle op die koop toe ’n bord warm kos kry, dalk die eerste in dae, dan ken hulle dankbaarheid géén perke nie. Jim Reeves het mos gesing: “A stranger’s just a friend you do not know.” Hoe reg was hy nie!

In die Bybelse tyd was gasvryheid een van die héél belangrikste “wette,” al was dit nie pertinent ‘n wet genoem nie. Sommige Bybelkenners meen dat Sodom se groot sonde nie sogenaamde sodomie was nie, maar dat dit eerder was dat hulle nie gasvryheid bewys het nie!

Gasvryheid is ‘n liefdesdaad. Daarmee bewys jy liefde aan iemand wat slaapplek nodig het.

Die Hebreërskrywer noem gasvryheid as een van die deugde van ’n gelowige, en dit kan in dieselfde asem genoem word as die deugde van liefde wat Paulus besing in 1 Kor. 13. Dit was nog altyd een van die eienskappe van ons eie ou volkie. As jy op die platteland gestrand geraak het, was jy verseker dat die naaste plaasboer jou slaapplek sou gee en boonop die gemeste kalf sou slag vir jou! Ongelukkig kruip meeste van ons vandag so in ons eie ou doppie weg, dat ons alle vreemdelinge uitsluit! Niemand buite ons bekende familie- of vriendekring word meer vertrou of in ons huis ingenooi nie. Selfs die predikant of ouderling word dikwels met wantroue bejeën, en as hulle die dag kom kuier, is dit maar ‘n stywe affêre, en jy wens dat hulle nou hulle ry moet kry sodat jy met jou lewe kan aangaan.

Ons medegelowiges is deel van ons geestelike gesin, dus bloedfamilie. Nee, nie maar vêrlangse agter-kleinneefs en niggies nie, maar eie boeties en sussies. In hierdie lig beskou, is daar ‘n paar dinge wat ons verhouding met mede-gelowiges totaal verander. Teenoor jou broer of suster tree jy openlik op. Hulle is mos nie vreemdelinge nie. Net so behoort jy openlik teenoor jou broers en susters in Jesus op te tree. As jou broer in die moeilikheid is, sal jy enigiets doen om hom te help, want jy is mos lief vir hom. Natuurlik sal jy hom nie maar aan sy eie genade oorlaat nie! Selfs as hy erg gestruikel het, en met die gereg gebots het, sal jy hom steeds te hulp snel. Bloed is immers dikker as water! Selfs al baklei julle met mekaar, en hou nie baie van mekaar nie, bly julle steeds lief vir mekaar! Net so moet jy empatie hê met ‘n mede-gelowige wat in die moeilikheid beland het. Jy mag dalk gladnie hou van wat hy gedoen het nie, en hom selfs daaroor berispe, maar bloot omdat hy jou broer in Christus is, moet die liefdesband steeds sterk wees. In die tyd toe hierdie Hebreër boek geskryf is, was daar verskeie gelowiges in die tronk as gevolg van hulle geloofsoortuigings. Dit is veral oor hierdie mense, wat dikwels boonop nog ook gemartel is, wat die skrywer vra dat die lesers hulle asseblief nie moet vergeet nie.

Onthou asseblief, alhoewel ons kinders van God is en ons sondes vergewe is, bly ons steeds maar net mense. Niemand kan sê dat hy ‘n enkele dag deurgaan sonder om op die een of ander manier te sondig nie. Sommige gelowiges is ook nie so sterk soos ander nie, en om te struikel is bloot menslik. Moet dus nie ‘n mede-gelowige veroordeel as hy geval het nie, maar reik in liefde uit na hom. Dit kan jou en my ook oorkom! Gaan eerder in liefde na daardie persoon en help hom weer op sy voete, sonder om te veroordeel, en liefdevol, soos jy met jou eie broer of suster sou doen. More het jy dalk presies dieselfde hulp nodig van ‘n ander gelowige, wanneer jy miskien in ‘n oomblik van swakheid neerslaan.

Jesus het vir ons die voorbeeld kom stel oor hoe om met jou mede-gelowiges om te gaan. Hy was nooit te moeg om iemand in nood te help nie. Toe die honger skare daar op die oewer van die meer gesit het, het Hy vir hulle kos gegee. Niemand was ooit benede Sy waardigheid nie, nie eers die losbandige Samaritaanse vrou nie. Hy het tyd gemaak om in liefde met haar te gesels, en nie eers gedink aan Sy eie reputasie nie. Hy het selfs saam met die gehate tollenaar en sy ongure vriende ‘n feesmaal gehou. Jesus het waarlik omgegee! Hy het praktiese liefde ‘n totale nuwe betekenis gegee. Dit behoort ook ons strewe te wees.

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n ware omgee-hart propvol liefde, en hope praktiese liefde vir my mede-gelowiges.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026