Ewige Verdoemenis

26 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ewige Verdoemenis

Judas:5-7

VIDEO | OUDIO

Die verhaal van die Israeliete se uittog uit Egipte is ‘n boeiende verhaal wat jou verbeelding aangryp. Die asemrowende manier hoe God ingegryp het toe die Israeliete deur die magtige leër van die Farao teen die Rietsee vasgedruk is, laat ‘n mens na jou asem snak. Die see het net eenvoudig ‘n pad oopgemaak vir God se volk om deur te vlug. En toe hulle benoud terugkyk na die aanstormende strydwaens, moes hulle sien hoedat die see hulle agtervolgers insluk. Die wonderbaarlike manier hoe die Here vir daardie jong volkie gesorg het in die woestyn, laat jou hande saamslaan in verwondering. Eers is daar die heerlike manna wat elke oggend uit die hemel gereën het, en toe hulle vleislus hulle oorweldig, voorsien die Here met swerms en swerms kwartels. En steeds hou God se wonderwerke nie op nie! Heerlike soet water stroom op Sy bevel in die dorre woestyn uit ‘n rots wanneer die dors hulle oorval.

God, die Almagtige het die Israeliete verlos uit die wrede slawekettings van Egipte en hulle na hulle eie land gebring. Wat maak hulle? Hulle kerm en kla heelpad lank, en na al die wonderwerke twyfel hulle steeds. Hulle verwerp God! Uiteindelik beteken dit dat hierdie kermende klomp Jode vir ‘n volle veertig jaar in die woestyn rondswerf totdat daar nie ‘n enkele een van die ongelowiges oorgebly het nie. Verskriklik! Maar selfs deur daardie tyd van ongeloof, is hulle nie aan hulle eie lot oorgelaat nie. God het steeds vir hulle gesorg ten spyte van alles. Uiteindelik kon slegs Josua en Kaleb, die leiers, die beloofde land smaak.

Die engele waarna hier verwys word is waarskynlik Satan se volgelinge wat in opstand teen God gekom het. Hulle is uit die hemel gedryf en het bose geeste geword wat selfs vandag nog probeer om gelowes te skei van God!

Die lot van die stede Sodom en Gomorra was nog verskrikliker. Hulle losbandige lewe en gruwelike dade het gesorg dat hulle met swael en vuur vergaan het. Hoe afgryslik!

Hoe kan God so wreed wees?” wil ons soms vra, “Waar is God se liefde dan?” Die antwoord is dat God oneindig lankmoedig is, en dat Hy bereid is om oor en oor en oor te vergewe. Die Israeliete het vir Moses gehad wat hom moeg gewerk het om daardie volk die regte pad te leer. Nie ‘n enkele een van daardie Israeliete kon sê dat hulle nie die Woord van God oor en oor uit die mond van Moses gehoor het nie. Boonop het hulle die asemrowende wonderwerke beleef, maar steeds het hulle nie die Here vertrou nie.

Die feit is dat die Here in liefde na ‘n mens toe uitreik. Hy vra nie baie van jou nie, slegs dat jy jou vertroue in Hom sal plaas en in Jesus Christus sal glo as jou enigste Verlosser. Die voordele wat Hy jou bied is gans te veel om op te noem. Die Here reik nie maar net eenmaal uit na ‘n mens toe uit, en laat hom dan staan nie. Hy pleit by hom op verskillende maniere. Daar kom egter ‘n tyd dat God se geduld opraak.

Wat gebeur as iemand weier om sy sondige bestaan te verruil vir dít wat God aanbied? Daar is verskillende beskrywings in die Bybel vir die ewige straf, die hel. Judas praat hier van “die vuur wat ewig brand,” daardie verskriklike verskroeiende hitte wat jou uitmergel, maar jy brand nie dood nie. Op ander plekke word gepraat van wurms wat jou lewendig opvreet, en ‘n verskriklike onlesbare dors. Daar word geskryf van “’n geweën en ‘n gekners van tande”...... Laat my dink aan die predikant wat daar in Namakwaland oor die hel gepreek het en toe hy by die “kners van tande” kom, toe sit hierdie gemeentelid oopmond en lag, sonder ‘n enkele tand in die mond. “En vir dié wat nie tanne het nie”, gaan hy voort, terwyl hy die man in die oë kyk, “sal tanne gesapplaai word!”

Is God wreed of onregverdig om op so ‘n wyse te straf? Nee, beslis nie, want Hy soebat mense om weg te breek van die duiwel se slawekettings. God straf ook nie gelowiges nie, want hulle het reeds God se vryspraak gekry. Op die groot oordeelsdag sal dit onthul word dat hulle name in die Boek van die Lewe geskryf is, en dat hulle God se oordeel sal vryspring.

Die vraag is vanoggend, of jy al daardie vryspraak, waarvan ons al soveel keer geskryf het, gekry het? As jy reeds Jesus se verlossing ervaar het, vra ek jou vanoggend om saam met my te bid vir die talle wat dit nog nie het nie. Indien nie - hierdie dagstukkies, wat God se liefde en genade verkondig, is al byna sesduisend keer uitgestuur oor die afgelope 24 jaar. Hoeveel van hulle het jy al gelees? Hoeveel keer het die Here al deur hulle by jou gesoebat om Sy kind te word? Dalk is hierdie een vanoggend die heel laaste keer dat die Here met jou praat. Moenie dat God se liefde en genade by jou verbygaan nie! Doen vandág nog iets daaraan, voordat dit dalk hééltemal te laat is. Skryf vir my as jy dalk hulp nodig het - stuur net ‘n WhatsApp na 082 771 4925

Gebed:

Here, my hart gaan uit na elkeen wat nog nie U genade ondervind het nie. Here, wees genadig en red hulle asseblief!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026