Filippense 4:21-23
Die smouse is ‘n nasie op hulle eie, dikvellig en baie vindingryk. Uit die geskiedenis van ons land leer ons van die eerste smouse wat vir die verafgeleë boere dikwels die enigste bron was waar hulle enigiets kon koop - materiaal, breekgoed en nog baie meer. Dikwels was die smous boonop ook die boer se afset vir sy velle en ander produkte. Party van hierdie smouse het verkooptegnieke aangeleer sodat hulle feitlik enige ding aan ‘n boer kon afsmeer. In my jongdae het smouse meer gespesialiseerd begin raak, en het hulle net een spesifieke produk verkoop, soos byvoorbeeld stofsuiers. En dit het hulle meesterlik gedoen, sodat hulle jou kon oortuig dat jy ‘n stofsuier werklik nodig het, al woon jy ook in 'n misvloerhuisie sonder matte of elektrisiteit!
Ons gelowiges kan baie leer by smouse. Eerstens glo hulle met hart en siel aan hulle produk, en daar is géén ander soortgelyke produk op aarde wat daarmee kan kompeteer nie. Tweedens oefen en oefen hulle totdat hulle verkoopstegniek en oorredingsvermoë absoluut vervolmaak is. Boonop is hulle dikvellig! As jy hom slegsê loop dit soos water van ‘n eend se rug af, en hy vat nie sommer nee vir ‘n antwoord nie. En dan gee hulle ook nie om vir voetwerk nie. Hulle sal elke moontlike kliënt besoek, maak nie saak wie en wat of hoe ver hy is nie.
As gelowiges het ons ‘n baie beter “Produk” om te bemark as wat enige smous ooit gehad het, die Evangelie van Jesus Christus! As ons nou die smouse se metodes gaan toepas, dan moet ek vir myself die volgende dinge vra: Glo ek werklik in my Produk? As my antwoord hierop ‘n “Ja!” is, dan kan ek nie anders as om dit voluit te gaan bemark nie. By die meeste lesers van hierdie dagstukkie dink ek is daar géén twyfel dat jy werklik glo nie. As daar twyfel is, dan het jy ‘n groot probleem, en dan sou ek voorstel dat jy my gerus kontak.
Tweedens moet ons maak soos die smouse, en ons “verkoopstegnieke” oefen totdat ons dit vervolmaak het. Daar is baie kursusse beskikbaar soos EEIII, Getroue Getuies en nog ander om jou hierdie tegnieke aan te leer. 'n Goeie Bybelskool kan jou 'n baie goeie agtergrond gee om jou te help hiermee.
In die derde plek moet ons leer om nie te liggeraak te wees nie. Ek kry dikwels afjakke waar ek dagstukkies uitstuur, maar ek steur my nie daaraan nie. Onthou, as iemand jou verwerp, is dit eintlik nie vir jou as persoon nie, maar vir Jesus wat hy verwerp. Dit is dus ‘n saak tussen daardie persoon en God.
Vierdens moet ons leer dat géén persoon te goed of sleg is om die Evangelie te hoor nie. Doen dus gerus maar jou voetwerk en vertel dit vir elkeen waarmee jy in aanraking kom.
Paulus sluit sy brief aan die Filippense af met groetewense. Onder meer dra hy die groete oor vanaf al die gelowiges in Rome, selfs van die keiser se huishouding. Die vraag is: waar kom al hierdie gelowiges vandaan? Hoe het dit gebeur? Rome is dan hierdie verskriklike Goddelose stad!
Die antwoord is eenvoudig: Paulus was 'n Evangeliesmous!” Hy het in die eerste plek elke geleentheid aangegryp om die Evangelie met ander te deel, selfs met die keiser se huispersoneel en staatsamptenare waarmee hy dikwels te doene gekry het terwyl hy in gevangenskap was. Maar dit was gans onmoontlik vir Paulus om op sy eentjie die ganse stad Rome te evangeliseer. Die handjievol gelowiges wat aanvanklik in Rome was, het elkeen sélf Evangeliesmous gespeel en so het dit gegroei en gegroei totdat daar uiteindelik so baie gelowiges in Rome was dat keiser Nero hulle as ‘n reuse “plaag” van bedreiging begin sien het. Uit die geskiedenis leer ons hoe hard Nero probeer het om van al die Christene ontslae te raak. Maar selfs al sy wrede metodes kon die vlam van die Evangelie nie uitblus nie. Gelowiges het dikwels al singende, en met borrelende blydskap wat straal, ‘n wrede dood tegemoet gestap.
Ons het aan die einde gekom van ‘n heerlike brief van borrelende blydskap en vreugde, en ek wil nóg en nóg van hierdie brief van Paulus lees. Ek wil nie dat dit opraak nie! Het jy hierdie Filippensebrief ook so ervaar?
Ons kan ten slotte dit wat ons geleer het van Paulus in hierdie brief opsom: Daar was vyf temas.
Die eerste het gegaan oor nederigheid, waar Jesus voorgehou is as die toonbeeld van nederigheid.
Die tweede was Selfkruisiging. Ons is aangespoor om ander se belange bo ons eie te stel.
Die derde was Eenheid, waar ons alles in die stryd moet werp vir eensgesindheid.
Die vierde was die verloste lewe, waar Paulus ons oproep om as verlostes te leef en geestelik volwasse te word.
En die vyfde tema dié van borrelende blydskap. Kom ons gaan leef nou hierdie dinge prakties uit!
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike inspirasie wat ek kon put uit Filippense. Maak asseblief van my ‘n volwaardige Evangeliesmous.