Genesis 3:8-13
Het die aarde geskud? Het die sterre uit die hemel geval? Is die twee mense wat teen God in opstand gekom het, deur ‘n weerligstraal getref sodat hulle dood neergeslaan het?
Nee!
God het bloot soos gewoonlik in die tuin gewandel op die gewone tyd, in die koelte van die vroeë aand. Nou het alles egter totaal verander vir Adam en Eva. Hulle het verskrik weggekruip toe hulle van Hom bewus word. Maar God het hulle geroep. Nie woedend nie, maar vriendelik: “Waar is julle?” Alles was nog presies dieselfde. Van God se kant af het absoluut niks verander nie.
Maar vir Adam en sy vrou Eva was dit ‘n totaal ander saak. Hulle was bang vir God want hulle het baie skuldig gevoel oor hulle verfoeilike verraad. Dus het hulle gaan wegkruip in die hoop dat God hulle nie sou raaksien nie. Toe hulle egter begin besef dat dit niks help nie, kom Adam met ‘n stortvloed van woorde om homself te probeer verontskuldig: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. En toe het ek weggekruip!”
As Adam maar net sy skuld bely het: “Here, ek het teen U gesondig. Vergewe my asseblief!” Maar nou probeer hy sy sonde wegpraat met allerhande onbenullige dinge.
Wanneer jy iets het om weg te steek, raak die teenwoordigheid van God vir jou ‘n verleentheid. Dan probeer jy allerhande verskoninkies uitdink.
Steeds probeer die Here vir Adam net sover kry om te bely dat hy skuldig is. “Hoe het jy besef dat jy kaal is? Het jy tog nie van die verbode vrug geëet nie?” Weereens het Adam die volle geleentheid om om vergifnis te vra en te bely dat hy verkeerd was, maar hy doen dit nie. Hy pak dadelik die skuld op “die vrou wat U my gegee het.” Hiermee wil hy eintlik dan sê dat dit indirek God se skuld is dat hy oortree het. “Daardie vrou” het hom verlei om te eet.
Wanneer die Here vir Eva vra: “Wat het jy nou gedoen?” is haar antwoord verontskuldigend: “Die slang het my mislei.” In haar woorde lees ons dat sy voel dat sy eintlik totaal onskuldig is. Sy is nie werklik jammer oor wat sy gedoen het nie, maar sy voel jammer omdat sy nie gekry het wat sy verwag het nie.
Ag, ons wil so graag eerder die skuld vir ons dade pak op ons omstandighede, die slang, “daardie vrou,” die versoeking waarin God my laat beland het. Eintlik is alles bloot verkeerde keuses wat ons maak.
Adam en Eva het die verkeerde keuses gemaak. Daardeur is hulle verhouding met God versuur. Hulle het selfs vir Hom probeer wegkruip, wou nie meer met Hom praat nie, wou Hom nie meer sien nie! Hy het sóveel mooi drome vir hulle gehad. Hulle was dan die kroon van Sy skepping! Hy het dan soveel vir hulle gedoen, vir hulle die mooiste tuin in die heelal spesiaal ingerig. Hy het selfs elke aand uit die hemel neergedaal om saam met hulle te kuier. Hy het selfs Sy eie asem in hulle geblaas om hulle lewe te gee. Hoe kon hulle dit so gou al opgemors het? Hulle het Hom bitter seer gemaak. Sal Hy hulle ooit hiervoor kan vergewe? Sou dit nie dalk beter wees om hulle te vernietig en oor te begin nie?
Het God die twee mense vergewe? Ja, ek glo beslis so. Hulle daad het egter ‘n vertrouensbreuk tussen hulle en God veroorsaak.
Eerstens is daar die gevolge vir die slang. Hy word verneder. Voortaan sal hy op sy pens seil en as’t ware stof eet omdat hy hom teen God verhef het. Boonop sal daar ook vyandskap wees tussen hom en die vrou. Die slang sal die nageslag van die vrou in die hakskeen byt maar haar nageslag sal sy kop vermorsel. Die sogenaamde “moederbelofte”. In kort beteken dit dat die bose vir Jesus, Eva se nageslag op die oog af dodelik verwond met die kruisiging, maar dat Hy ten spyte hiervan die oorwinning behaal oor die bose. Die bose word gebind sodat hy geen verskrikking meer inhou vir die gelowige nie.
Die vrou se lot is dat sy pynlike swangerskappe en geboortes sal beleef. Tóg sien ons God se genade hierin. Sy kan steeds haar lewensvervulling as moeder ervaar, alhoewel dit met pyn gepaard sal gaan.
Ook haar verhouding met haar man word vertroebel. Ja, sy sal steeds die hunkering na hom hê maar dit sal ‘n gebroke verhouding wees waar hy oor haar sal heers.
En die man, Adam? Sy pragtige verhouding met God is lelik skade aangedoen. Voortaan sal die kos nie uit die hemel vir hom val soos in die tuin van Eden nie. Hulle word uit die paradys verban en hy sal hard moet werk om kos te verdien in ‘n harde wêreld van onkruid en peste wat sy oeste verswelg.
Dus sien ons selfs in God se straf terselfdertyd ook Sy groot genade. Hy het hulle nie uitgewis nie, maar hulle ‘n tweede kans gegee. Wat sou hulle daarmee maak?
Wat maak ek en jy met die tweede kanse wat God ons gee? Gebruik ons dit tot Sy eer?
Gebed:
Dankie dat U my ook ‘n tweede kans gegee het, Here! Help my asseblief om hierdie kans tot U eer te gebruik.