Ester 3 en 4
Haman is woedend wanneer hy verneem dat Mordegai weier om voor hom te buig: “Ek gaan ál die Jode uitroei!” Een enkele persoon se weiering om aan hom eer te bewys, word opgeblaas tot ‘n reuse staatskrisis. Hy gaan berig aan Ahasveros dat ‘n ganse volk weier om die koning se bevele te gehoorsaam! Dit is in staatsbelang dat hulle almal uitgeroei word! Haman ruk die saak totaal uit verband. Boonop noem hy nie een keer die naam van hierdie “verskriklike” volk voor die koning nie, en tragies, vra die koning ook nie eers uit wie hulle is nie. As hy gevra het, sou hy seker vir Haman uitgelag het: “Die Jode? Ag nee Haman! Hulle is ‘n patetiese spul! Hoe kan hulle nou ‘n bedreiging vir die samelewing wees?”
Haman wil doodseker maak dat Ahasveros mooi luister na wat hy vir hom sê, dus bied hy aan om 352 ton silwer in die land se skatkis in te betaal. Nee, nie 352 kilogram nie, maar TON! Dit is ’n asemrowende groot som geld! Dit is byna soveel as die jaarlikse inkomste van die staat. Ahasveros luister nie eers verder nie, want al wat nou sy gedagtes vul is die geklingel van berge geld.
Jare tevore het die Farao vir Josef sy seëlring gegee om te doen wat hy goed vind. Nou gee Koning Ahasveros ook sy seëlring vir Haman om te doen wat hy goed vind. Josef red met sy seëlring (en wysheid) ‘n hele volk van hongersnood. Haman beplan om met sy seëlring (en haat) ‘n hele volk totaal uit te roei.
En so word ‘n volk vir ‘n hoop geld verkoop om geslag te word soos skape!
So ironies, word die Koning van alle konings, Jesus die Christus, Verlosser van die wêreld, God Almagtig ‘n paar honderd jaar later vir slegs ‘n paar ou silwerstukkies verkoop - om geslag te word soos ‘n lam!
Haman se bevel word na al die uithoeke van die Persiese Ryk uitgestuur. ‘n Ganse volk moet totaal uitgeroei word. Hierdie verskriklike slagting moes op een spesifieke dag gedoen word. Op daardie selfde dag moes elke Jood, man, vrou en kind regoor die wêreld doodgemaak word.
En dit alles gebeur terwyl die koning en Haman rustig saam ‘n glasie wyn sit en drink, so asof niks gebeur nie. En steeds is die koning nie eers bewus van die feit dat dit die Joodse volk is wat bedreig word om uitgeroei te word nie. En dat sy vrou, Ester óók een van hulle is nie!
Die hele stad is in oproer toe hulle hoor van die afgryslike wetgewing. En Mordegai het ook te hore gekom van die verskriklike lot wat hom en sy volk sou tref, én sy lieflingdogter Ester, die koningin van Persië! Hy skeur sy klere, gooi as op sy kop en loop al kermend deur die stad. Met rouklere aan gaan plak Mordegai homself neer voor die poort van die koning se paleis. En daar sit hy!
Koningin Ester kom te hore van ou Mordegai wat in rouklere in die poort sit. Sy stuur ‘n paleisbeampte om te gaan uitvind wat skort met Mordegai. Wanneer die amptenaar haar kom vertel wat gebeur het, voel sy hoe die bloed uit haar kop dreineer. Sy voel siek. “Hoe kan ‘n mens so gewetenloos wees!”
“Mordegai het gevra dat u na die koning sal gaan en hom om genade gaan smeek, Majesteit.”
Ester voel magteloos. Ja, sy is wél die koningin van Persië, maar steeds is sy maar net ‘n vrou. Hierdie wêreld word oorheers deur mans! Die koning het al die mag, en selfs met haar hoë posisie is sy steeds magteloos. Niemand mag voor die koning verskyn as hy nie die persoon ontbied het nie, nie eers sy, die koningin, sy eie vrou nie! Vir die afgelope maand het hy haar nog nie laat roep nie. As sy nou ongenooid na hom toe gaan, kan sy net daar doodgemaak word.
“Gaan sê vir Mordegai, ek kan dit nie doen nie - ek sal my lewe verloor!”
Wanneer hy terugkeer, is hy baie verleë: “Majesteit, daardie man sê dat u nie moet dink dat u sal vrykom net omdat u in die koning se paleis bly nie, want u is óók ‘n Jood. Hy sê dat as u nie iets doen nie, en daar kom redding van elders af vir die Jode, dan sal u en u familie uitgeroei word. Hy sê dat hierdie juis die rede is waarom u juis nou koningin geword het.”
Ester bewe van skok as sy die harde woorde hoor, maar sy wéét dat hy reg is. Sy laat weet vir Mordegai: “Gaan maak al die Jode in Susan bymekaar. Almal moet vas vir drie dae lank. Daarna sal ek na die koning gaan en met hom praat. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”
Om watter rede is jy daar waar jy is? Dit is nie maar toevallig dat jy in die posisie is waar jy nou verkeer nie. Die Here het ‘n doel met jou lewe. Dalk het Hy al lankal vir jou gesê wat Hy van jou verwag, maar soos Ester is jy te bang om die taak uit te voer. Moenie wag totdat dit te laat is voordat jy wil begin om God se opdrag uit te voer nie. As jy dit nie doen nie, sal Hy uiteindelik iemand anders kry om dit te doen - soos wat Mordegai vir Ester laat verstaan het. Moenie dat jy later met spyt om vergifnis moet pleit wanneer dit te laat is nie!
Gebed:
Here, U het my hier geplaas met ‘n doel, en U het vir my ‘n opdrag gegee om uit te voer. Gee my asseblief die ywer om dit met volle oorgawe te doen.