Entoesiasme

27 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Entoesiasme

2 Timoteus 4:9-13

Video - Oudio

Entoesiasme en borrelende blydskap is twee dinge wat hand-aan-hand stap, of dalk eerder huppel! Maar wat gebeur as ons sonder die twee evangeliewerk probeer doen? Dan gebeur wat met Demas gebeur het. Ons weet eintlik baie min van hom, buiten dat hy waarskynlik vir Paulus bygestaan het. Nêrens hoor ons dat hy ‘n “probleem” was nie, dus was hy seker maar ‘n “goeie” mens. Maar nêrens sien ons ook dat hy uitgestaan het in Koninkrykswerk nie. Hy was maar net daar. Klaar! Hy het bloot sy werk gedoen. En toe dinge begin warm word vir Paulus, besluit Demas om die hasepad te kies. Hy los vir Paulus soos ’n warm patat toe hy hom die nodigste gehad het, en vertrek na Tessalonika.

Dit is baie gevaarlik om lou te wees in jou geesteslewe. Sodra die druk te groot begin raak, kom die gevaar dat jy die pad begin byster raak en terugdwaal na jou ou sondige lewe. En as jy eers daar is, is dit tien keer so moeilik om terug te keer na die Here, want jy is skaam omdat jy afgedwaal het. Wat gaan die mense sê? Ek het dit al talle kere gesien, en bitter min sulke mense lei óóit weer ‘n vrugbare geestelike lewe.

Wat is dan die antwoord? Moenie “lou” lewe nie! Leef voluit en entoesiasties vir die Here! Jy kan ‘n vol geestelike lewe leef sonder om in te boet op lewensvreugde. Ek ken talle mense wat voluit vir die Here leef, maar terselfdertyd die lewe geniet in sy volheid. As ek van my eie lewe kan getuig: dit verg baie ure van my om die dagstukkies te skryf, te vertaal, video opnames te maak ens. Sel- en mannebyeenkomste maak dat ek soms donkeroggend al op die pad is en saans byna middernag eers tuiskom, en dat ek honderde kilometers moet ry. Ek spandeer elke week baie ure om video’s op te neem en te redigeer vir preke of kursusse. Nogtans geniet ek die lewe! En die beste van alles is dat ek my gate uit geniet wanneer ek die dagstukkies skryf! Dit is die heerlikste werk wat die Here óóit vir my kon gee! Ek geniet boonop ook die ander kerkaktiwiteite, want daarmee kan ek my kreatiwiteit uitleef.

Paulus skryf nie net van Demas nie, hy noem ook van Kressens en Titus wat vertrek het. Hulle vertrek was egter baie anders as dié van Demas, want hulle het vir Paulus kom besoek om laaste opdragte van hom te kom kry. En nou gaan hulle dit uitvoer, elkeen in sy eie gemeente. Vir Tigikus stuur hy na Efese om vir Timoteus af te los sodat hy weer vir Paulus kan kom kuier. Tigikus was seker baie opgewonde hieroor. Wat ‘n heerlike uitdaging!.

En dan was daar Lukas, die dokter. Tot op die laaste het hy nog vir Paulus bygestaan en dikwels sy briewe vir hom geskryf omdat Paulus se oë te swak was. Om te skryf wat iemand vir jou dikteer, is maar ‘n saai werk, nou nie juis iets waarmee jy ‘n mediese dokter assosieer nie! Maar ek dink dat dit dalk iets in Dokter Lukas wakker gemaak het, iets wat sy vingers laak jeuk het om sélf ‘n stukkie skryfwerk aan te pak. Later het hy dan ook gaan navorsing doen oor die lewe van Jesus, sy Verlosser. Hy het met Maria en die ander gaan gesels om so eerstehandse inligting te kry van wat presies gebeur het. En toe skryf hy die wonderlike Lukas-Evangelie. Dit was so ‘n reuse sukses dat hy daarna die boek Handelinge geskryf het. Baie van die gebeure waarvan hy in Handelinge skryf, het hy saam met Paulus beleef, omdat hy dikwels by Paulus op sy reise aangesluit het. Uiteindelik beslaan Lukas se skryfwerk in volume selfs meer as dié van Paulus! Lukas het ‘n vol, ryk en opwindende lewe gehad, bloot omdat hy bereid was om sy deel te doen vir die Evangelie.

Wanneer Paulus vir Timoteus skryf van hierdie mense, weet ons dat hy die dood afwag. Enige oomblik nou...... Nogtans sit hy nie stil en tob oor dít wat vir hom voorlê nie. Hy leef steeds asof daar nog baie tyd oor is. Hy vra vir Timoteus om sy reismantel saam te bring en sy boeke en perkamente. Daar is werk om te doen! Daar is nog sovéél wat hy wil bereik. Die Here se werk moet voortgaan! Met blydskap!

Paulus se merkwaardige toewyding is ‘n voorbeeld en inspirasie vir elke gelowige. Absoluut niks op aarde kon sy aandag van sy werk vir die Here aftrek nie, nie die tronk nie en nie uitmergelende straf nie. Nie eers die naderende marteldood kon sy entoesiasme blus nie!

Die vraag is, hoe entoesiasties is ék oor die Evangelie? Is dit maar net ‘n lou “doen-oorlat-ek-dit-móét-doen,” soos Demas? Of brand daar ook die vuur van entoesiasme in my soos in Kressens, Titus, Timoteus, Tigikus, Markus en Lukas? Hulle entoesiasme het miljoene mense se lewens verander. Het jou entoesiasme al ‘n verandering in iemand se lewe teweeg gebring?

Gebed:

Here, ek wil nie maar net ‘n geestelike bestaans-lewe voer nie. Gee asseblief vir my ‘n vuur in my hart om met brandende entoesiasme U werk te doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026