1 Samuel 17:46-58
In totale afhanklikheid van die Here, staan Dawid teenoor die bulderende reus, Goliat. Die man spoeg vuur want hy is tot in sy siel toe verneder (het hy ooit nog ‘n siel?). Hy minag hierdie lafhartige Israeliete wat hom vir veertig dae lank aan ‘n lyntjie gehou het en hy minag hulle God. En nou kom stuur hulle ‘n seuntjie met ‘n kierie en ‘n slingervel om teen hom, die magtige Goliat die Verskriklike te kom veg!
In teenstelling hiermee plaas Dawid rustig sy vertroue op God. “Selfs al gaan ek deur die dal van doodskaduwee, sal ek nie bang wees nie want U is by my. In U hande is ek veilig.” Hy besef dat hy nie alleen hier voor die verskrikking staan nie. God is hier by hom!
“Die hele wêreld sal besef dat die God van Israel die enigste ware God is!” deel hy die Filistyn mee, maar hy hoor in die agtergrond die bulderende gelag van die Filistynse soldate. “Jy moet eers by Goliat verby kom!” koggel hulle hom uit.
“Hierdie skare agter jou sal binnekort besef dat die Here nie deur swaard en spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle alreeds in ons mag oorgee.”
Bulderend van woede storm Goliat vorentoe om hierdie klein addergebroedsel te vermorsel en met een enkele veeg van sy swaar spies van die gesig van die aarde af te veë. Maar hy hou nie daarmee rekening dat Dawid jonk en rats is soos ‘n ribbok en dat hy nie ‘n swaar bronsharnas aanhet wat sy bewegings belemmer nie. Dawid skiet vorentoe soos ‘n pyl uit ‘n boog en in die proses vat hy ‘n klippie uit sy sak. Om die klip in die slingervel te laai, kom outomaties - hy het dit immers al duisende kere gedoen. Die slingervel swaai een, twee, drie keer bo sy kop en op die presies regte breukdeel van die sekonde laat los Dawid die een toutjie. Die klip woer-woer met duiselingwekkende vaart deur die lug, sekuur, reguit op sy teiken af!
Daar is slegs een enkele klein opening in Goliat se swaar bronshelm, tussen sy oë, waar sy neus deursteek. Op daardie klein kolletjie tref die klip hom tussen die oë sodat die klippie in Goliat se skedel indring. Vir ‘n oomblik verstar die angswekkende reus. Dan, soos ‘n eeue-oue boom wat afgekap is, val hy stadig vooroor. Die aarde bewe as die groteske figuur soos ‘n dooie stomp die grond tref.
Dawid wil nie nog ‘n kans waag om te sien of die Filistyn wél dood is en of hy dalk net verdoof is nie. Hy skiet vorentoe en gryp Goliat se eie kromswaard uit sy skede tussen sy skouers. Met uiterste kraginspanning lig hy dit bo sy kop en kap die afgryslike Filistyn se kop af om doodseker te maak!
Daar sak ‘n doodse stilte neer oor die kamp van die Filistyne. Dit is die héél laaste ding wat hulle óóit verwag het. Hulle is totaal verward! “Wat het gebeur? Hoe is dit moontlik?” Maar dan skielik tref die werklikheid van die situasie hulle, want nou is hulle uitgelewer aan die Israeliete. Hulle troefkaart is daarmee heen!
Die Israeliete, wat op die oorkantste heuwel hierdie petalje staan en dophou het in vrees en bewing, is eweneens verras met die uitslag. Maar hulle kom baie gou tot verhaal en dan weergalm dit oor die berge en deur die klowe as hulle bloedstollende oorlogskreet weerklink. Met wapens in die hand word die Filistyne uit hulle land gedryf, tot by die poorte van hulle eie stede. Op die pad lê verwoesting gesaai soos die soldate van Israel gemaai het onder die Filistyne. Gesneuwelde Filistyne lê verstrooi oor die aarde.
Dawid het ‘n groot aandenking gekry na sy geveg - hy het Goliat se kromswaard gevat en in sy tent gaan bêre. Dit is vir hom ‘n kosbare bewys van God se trou en beskerming. Vir Israel het hy egter ‘n grusame trofee na Jerusalem geneem: die afgekapte kop van Goliat. Die volk (én die koning) moes onthou dat God weereens die onmoontlike gedoen het. Hulle moes onthou dat Hy die enigste ware God is en dat hulle Sy volk is. Niemand durf God verag nie, hy sal nie skotvry daarvan afkom nie - nie eers die skrikwekkende Goliat nie!
Die verhaal van Dawid en Goliat is een wat ons van kleins af leer, en dan sien ons Dawid as die groot held, daardie jong seun wat die verskriklike reus verslaan. Daar is egter véél meer agter hierdie storie want dit was nie Dawid wat die reus verslaan het nie, maar wel God! Wat is die kanse dat die klip daardie klein kolletjie sou tref met die eerste slag? Feitlik nul, selfs met die geoefende hand van Dawid. Ek weet! Ek het sélf ’n slingervel hanteer en ek weet dat selfs die héél bestes nie sommer ’n teiken tref nie. Die Here het Dawid gebruik as ‘n werktuig om Sy volk weer moed te gee. Maar terselfdertyd was dit die eerste treetjie om Dawid as toekomstige koning te vestig en om die volk agting te gee vir hierdie jong man wat Hy as koning op die troon sou plaas.
Op dieselfde wyse moet ons ons oë oopmaak en die Here se hand sien in die dinge wat elke dag gebeur. Ons moet besef dat God in beheer is, al lyk die situasie dikwels totaal verlore. Ons neem dinge al te dikwels sommer as vanselfsprekend aan. Gee die Here die eer wat Hom toekom!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike verhaal, en dat ons vandag weereens kan besef dat U in beheer is en dat U almagtig is!