Maleagi 4:4-6
Die laaste perikoop in Maleagi begin waar die Here vir die volk dit op die hart druk om die wet wat Hy vir Sy dienskneg Moses op die berg Horeb gegee het, te onthou.
Hier neem die Here die volk se gedagtes terug na die geboorte van die volk Israel. Hierdie volk het sy ontstaan gehad die dag toe Moses hulle uit Egipte uitgelei het. En van dag een af het hier asemrowende dinge met die volk gebeur. Daar was die wolk- en vuurkolom wat hulle reg van die begin af beskerm het en leiding gegee het. Daarna, daardie epiese tog deur die Rietsee waar hulle droogvoets kon deurstap, en die Egiptenare wat hulle agtervolg het, almal verdrink het.
Toe kom die gróót hoogtepunt, Horeb. By die berg Horeb, oftewel Sinai gee God aan Moses die wet in die vorm van die tien gebooie. Hier word ook die verbond met die volk gesluit, die kontrak waarmee die Here Homself aan Israel verbind het.
Die wet, oftewel “Tora” het egter baie meer geword as slegs die tien gebooie. Die woord beteken letterlik: onderwysing, onderrig of lering. Die Tora van Moses was dus God se onderrig aan Sy volk. Soos wat die wolkkolom vir die ou Israeliete rigting aangedui het deur die woestyn, so moes die Tora ook vir hulle rigting aandui in die lewe. Dit was geensins bedoel om vir hulle 'n swaar las te wees nie, maar eerder 'n vreugde! Juis dáárom moes hulle dit volgens Ps. 1:119 dag en nag oordink.
Dit was egter veel meer as net om daaraan te dink of die tien gebooie uit die kop op te sê. Dit moes met vreugde uitgeleef word.
Die Tora was uiteindelik 'n lywige stuk werk wat ellelange lyste van wette bevat het oor offerandes, feeste en reinheidswette. Die meeste van hierdie rituele was skaduwette wat heengewys het op Jesus, en wat met Sy koms in vervulling gegaan het.
Met Sy koms het Jesus vir ons vandag die “Nuwe Tora” baie maklik gemaak. Hy vra van ons slegs twee dinge: Om God lief te hê en om ons medemens lief te hê. Om vandag dus die wet te onthou, beteken dat ons hierdie twee dinge met vreugde sal uitleef met ons hele hart, siel en verstand.
En as ons dalk nie mooi weet hoe om dit te doen nie, dan is daar die talle riglyne regdeur die Nuwe Testament wat dit vir ons uitspel. Die bekendste hiervan is seker 1 Kor. 13, waar Paulus beskryf hoe liefde behoort te lyk.
Maleagi sluit die perikoop af deur te sê dat die Here verklaar dat Hy Elia sou stuur voordat die Dag van die Here kom.
Waarom Elia? Jy sal onthou dat Elia die groot profeet was waarvan ons in die Konings-boeke lees. Nou word hy hier in dieselfde asem as Moses genoem. Dit is van groot betekenis, want daar is groot ooreenkoms tussen hierdie twee merkwaardige Bybelfigure van die Ou Testament. Moses en Elia het albei 'n ontmoeting met God op die berg Horeb gehad. Moses het die volk bymekaargeroep by die berg Sinai (Horeb). Elia het die volk bymekaargeroep by die berg Karmel. Moses en Elia het albei 'n altaar van twaalf klippe gebou. In Lev. 9:23 lees ons hoedat die vuur van God die brandoffer by Moses verbrand het, en in 1 Kon. 18 lees ons dat die vuur van God weereens die offerande by Elia verbrand het.
Wanneer hier gesê word dat Elia gestuur sou word, beteken dit nie dat Elia fisies sou terugkom nie maar iemand met die statuur van Elia. Sy groot taak sou wees om versoening te bewerkstellig. Die verhouding met God en met mekaar moes herstel word. Ons sien hierin net weereens God se groot, groot genade oor Sy volk.
Elia kry ook betekenis in die Nuwe Testament, wanneer Johannes die Doper hierdie Elia-figuur word wat die pad vir Jesus kom voorberei.
Wanneer ons aan die einde van Maleagi kom, som hy sy boek op in enkele woorde: Hou vas aan die Tora, die onderwysing van God, en leef volgens dit wat die Here jou hierin leer.
Verder wil hy dit vir oulaas beklemtoon dat die Dag van die Here beslis gaan kom, en niemand sal dit kan keer nie. Wees gereed daarvoor. Hoe doen jy dit? Deur vas te hou aan dit wat in die Bybel geleer word, en dit uit te leef. In vandag se terme is dit om in Jesus te glo. Dit beteken 'n lewende verhouding met Jesus. 'n Verhouding werk egter slegs wanneer jy dit aktief uitleef.
Maar Maleagi wil ook God se groot genade beklemtoon. Iemand soos Elia sal gestuur word om versoening te bewerkstellig.
Jesus het alreeds gekom om versoening te bewerkstellig. Vandag het ons niks en niemand meer nodig nie. Die vraag is egter vanoggend of jy alreeds “Ja” gesê het vir Jesus? Het jy al God se groot genade aanvaar en Jesus toegelaat in jou lewe?
Talle mense het alreeds vir my geskryf en gevra hoe om by Jesus uit te kom. Miskien is jy, liewe leser, een van hulle. Of miskien is jy een wat te bang is om die vraag te vra. Vandag mag dalk jou laaste kans wees.........
Gebed:
Here, vanoggend wil ek U loof vir U groot liefde en genade. Maar ek wil ook pleit dat U die harte sal oopmaak van hulle wat nog soekend is.