"Ek Is die Wingerdstok!"

8 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie "Ek Is die Wingerdstok!"

Johannes 15:1-8

VIDEO | OUDIO

Petrus se gemoed is baie swaar. Dit voel kompleet vir hom asof hulle besig is om Jesus se dood tegemoet te stap. En boonop het Jesus sulke slegte dinge oor hóm gesê, dat hy Jesus vannag nog gaan verloën! En deur dit alles is Jesus besig om vir hulle belangrike instruksies te gee, so asof Hy nie weer die geleentheid daarvoor sal hê nie!

"Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer," hoor Petrus weer sy Meester. Hy spits sy ore want hy wéét sommer dat hier iets baie belangrik gaan kom.

Ja, inderdaad het die vrug van die druiwestok ‘n baie groot rol gespeel in Jesus se bediening. Keer op keer het Hy dit gebruik om God se almag te beklemtoon of om die een of ander waarheid tuis te bring. 'n Uur gelede nog het Hy gesê dat die wyn 'n simbool is van Sy bloed! Petrus onthou nog daardie eerste groot wonderwerk soos gister, toe Jesus die water in wyn verander het!

Petrus wonder wat Jesus nou hiermee wil verduidelik?

Dan word hy yskoud wanneer Jesus verder praat: "Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra." (v. 2)

Het dit betrekking op hom en sy maats? Hy wil tog nooit daardie loot wees wat weggesny moet word nie! Petrus se gedagtes gaan onwillekeurig na die prieel wat sy pa destyds voor hulle huis gehad het. Daardie rankies wat nie gedra het nie is summier afgesny. Elke jaar moes hy as jong seuntjie die taak verrig om die wingerd amper kaal te snoei anders kry hulle min druiwe.

"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie." (v. 3-5)

Petrus knik sy kop instemmend. Ja, hy weet maar al te goed dat 'n druiwerankie wat op sy eie hang nog nooit as te nimmer druiwe kan dra nie. Natúúrlik moet hy aan die druiwestok vas wees! En hy begin ook nou verstaan dat hy magteloos is as hy nie by sy Meester is nie!

"As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. " (v. 6)

Hierdie woorde van Jesus laat Petrus yskoud word! "Meester.....?" wil hy vra, maar hy is te bang!

Hierdie laaste gelykenis van Jesus is van uiterste belang vir ons vandag. Ons moet deeglik besef, is dat daar drie elemente is waarsonder ‘n wingerd gladnie kan bestaan nie. Die eerste is die wingerdstok. Sonder daardie stam is daar géén vrugte, lote of lewe nie. Die tweede is die lote, die stingels waaraan die druiwekorrels groei. Die derde, baie belangrike element is die druiweboer, want sonder sy intensiewe aandag sal die wingerd so wild rank dat daar geen krag oor sal wees vir vrugte nie.

Jesus stel Homself hier voor as die Wingerdstok - die Bron van lewe, die Vader is die Boer wat alles in stand hou en die gelowiges die lote. Nou moet ons baie deeglik besef dat die lote aan ‘n wingerdstok van uiterste belang is, want sonder lote gaan daar géén vrugte wees nie. Daar is ook nie ‘n hoofloot wat al die druiwe dra en ‘n klomp mindere lote wat net ondersteun of saamgroei nie. Nee, ál die lote is ewe belangrik en álmal dra vrugte. Pas ons dit toe op die kerk, dan is dit nie die dominee of pastoor wat al die vrugte moet dra en die gemeente draf maar net saam nie. Elkeen het ‘n ewe groot taak, om vrugte te dra!

Jesus sê ‘n skrikwekkende ding oor die lote wat niks doen nie. Hulle word afgesny, want hulle is waardeloos! Wat presies beteken dit? Beteken dit dat gelowiges wat nie hulle kant bring nie, uit die Koninkryk uitgesmyt word? Nee, dis nie die bedoeling nie.

Daar is egter baie mense wat onder die vaandel van die Christelike geloof hulleself rondom die Wingerdstok skaar. Hulle kom selfs kerk toe en doen dikwels aktief mee aan gemeentebedrywighede. Hulle het egter nog nooit daardie stap geneem om Jesus se verlossing te aanvaar nie. Dit is hulle waarvan Jesus sê dat hulle afgesny en verbrand sal word! Dit geld vir alle ongelowiges!

Soos ons hier bo gesien het, is dit van uiterste belang dat 'n wingerd gesnoei word. Dit stimuleer nuwe groei en sorg dat die wingerd vrugte dra. Hoe meer drasties die snoei, hoe beter die vrugte.

In die gelowige se lewe is hierdie ook ‘n baie belangrike beginsel. Die Vader snoei ons dikwels baie drasties en dit maak soms bitter seer. Die resultate is egter dat ons geestelik bloei en groei en dat ons vrug kan dra. Ons moet besef dat Hy die Boer is wat beter weet as ons en Hy sal ophou snoei wanneer Hy tevrede is.

Ons moet vandag baie deeglik besef, dat ‘n loot nie los van die wingerdstok kan groei nie. Dit is totaal afhanklik van hom, want die lewenssap vloei juis uit die wingerdstok om die loot te laat vrug dra. Net so is ons totaal afhanklik van Jesus. Ek moet in Hom bly om te kan oorleef, geestelik sowel as liggaamlik. Hy bly egter ook in my deur die Heilige Gees. Hy is die Een wie se “lewenssap” deur my are vloei en die Een wat die vrug in my lewe gee. Sonder Hom is ek totaal verlore en absoluut waardeloos.

Gebed:

Here, dankie dat ek ‘n loot kan wees aan U Wingerdstok. Gee my asseblief die krag om die snoeiproses te oorleef, sodat ek baie vrug kan dra vir U!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026