Ek Dank die Here vir Jou

15 January, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ek Dank die Here vir Jou

Filippense 1:3-6

VIDEO | OUDIO

Wat ‘n pragtige ding om vir enigiemand te sê: “Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink.” Wow! En dit is presies wat Paulus vir die gemeente in Filippi sê! As iemand dit vir my sê, voel ek klein en nietig en dan wonder ek wat ek óóit kon gedoen het om sulke mooi woorde te verdien.

Maar daar was baie goeie rede vir Paulus om sulke dinge van hierdie gemeente kwyt te raak. Eerstens was daardie gemeente vir hom goud werd want daar het dinge gebéúr. Hulle het nie maar net teruggesit en saamgery op die soustrein van God se genade nie maar hulle het saamgewerk en in enige gemeente is dit van baie groot waarde. Maar dit het oor veel meer gegaan as net die gemeente. Dit het gegaan oor die groot saak van die Evangelie van Jesus Christus!

Iets wat my baie ongemaklik laat voel, is wanneer mense my so ophemel en prys en vir my dankie sê, veral as ek die een of ander taak in die gemeente goed uitgevoer het. Vir my voel dit dat ek maar net gedoen het wat ek moes doen en ek het my bes probeer om dit suksesvol te maak. Om ‘n voorbeeld te noem: Die Here het my ‘n talent gegee om te kan sing en ek probeer om daardie talent uit te leef. As ek die Sondagoggend sou sing in die kerk en iemand my agterna vertel hoe mooi ek dan nou gesing het en sy my loof en prys vir my sang, dan voel ek verskriklik verleë. Vir ‘n professionele sanger is dit sy lewe en die applous dryf hom aan tot groot hoogtes. Vir iemand wat maar net sy talent uitleef tot eer van die Here, is dit anders. Wanneer ek sing, lewer ek my beste want daardeur verseker ek dat dit mense se harte sal aanraak en terselfdertyd sing ek my beste lied vir die Here. Dit is immers vir Hom wat ek die lof bring wanneer ek sing. Dit is soos om te bid: ek bid nie om mense te beïndruk nie, maar om met Hom te praat en om Hom te loof.

As iemand dus vir my sou sê dat hy die Here dank vir die talent wat Hy vir my gegee het en dat Hy my daardie dag op so ‘n besonderse wyse gebruik het, dan sal ek saam met die persoon “Amen!” kan sê want ek prys nie my eie stert nie. Ek gee slegs al die eer aan die Een wat my gebruik het as Sy instrument om mense se harte aan te raak.

Maar daar is ‘n ander saak wat ek sien in Paulus se skrywe, waaroor ek brand om te praat: In vers 4 is Paulus dankbaar omdat hierdie gemeente saamgewerk het om die Evangelie te verkondig, reg van die eerste dag af! Hierdie is ‘n saak wat my baie na aan die hart lê, dat ons moet wegkom van die gedagte dat dit die taak van ‘n leraar/pastoor/dominee is om die Evangelie uit te dra. Hierdie is primêr die taak van doodgewone gemeentelede! In Handelinge 8 se eerste paar verse lees ons van die verskriklike vervolging van gelowiges net nadat Stefanus gestenig is. Ons sien daar hoedat die gelowiges uit Jerusalem gevlug het na Judea en Samarea toe. En dan lees ons die wonderlike ding in vers 4: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so vêr as wat hulle gegaan het, die Evangelie verkondig.” (Hand 8:4). Dit was nie die apostels nie, hulle het in Jerusalem agtergebly. Dit was die doodgewone gelowiges wat die Woord uitgedra het en die geskiedenis leer ons dat die groei in getalle fenominaal was.

In Filippi het alles weer begin met ‘n vrou wat na Paulus geluister het en tot bekering gekom het. Haar naam was Lidia en sy het handel gedryf in pers wolmateriaal. Haar huis het later die middelpunt geword van die gelowiges se bedrywighede. Lees gerus hierdie pragtige verhaal in Handelinge 16. Uit wat ons lees, kan ons maar net aanneem dat hierdie handjievol gelowiges sélf verantwoordelik was vir die uitdra van die Evangelie totdat daar uiteindelik ‘n gemeente was wat geblom het, ‘n gemeente waarvoor Paulus baie dankbaar kon wees en waarvoor hy die Here loof.

Die tyd het aangebreek dat ons gewone gelowiges uit ons gemakstoele opstaan en begin doen wat die Here van ons vra. Dit is nie die dominee en pastoor se taak om die Evangelie uit te dra nie, dit is óns taak! Ek wil ‘n oproep op elkeen doen wat vanoggend hierdie dagstukkie lees, om met jou leraar of kerkraad te gaan gesels sodat ons gemeentes weer gemobiliseer kan word. Volgens statistieke gaan Brittanje binne ‘n paar jaar ‘n Moslemstaat word en Frankryk is ook vinnig daarheen op pad. Waarom? Omdat ons Christengelowiges te gemaksugtig geword het en alles aan die leraars wil oorlaat. En ek sien dat Suid-Afrika dieselfde paadjie gaan loop as ons nie nou wakker skrik en begin doen wat die eerste gemeentes gedoen het nie!

Kom ons begin by my en jou. Ons kan begin deur met net een enkele afgedwaalde te gaan gesels. Die sneeubaleffek van so ‘n klein, nietige aksie kan binne een enkele jaar ontaard in ‘n reuse sneeustorting van geloof wat onkeerbaar voortbeur.

Gebed:

Here, ek bid vanoggend vir mense wat gewillig sal wees om vir U op te staan en nie bang sal wees om die Evangelie uit te dra nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026