Eienskappe van Liefde

24 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eienskappe van Liefde

1 Korintiërs 13:1-7

Video

Audio

Gister het ons gekyk na die noodsaaklikheid van liefde. Hierdie onderwerp het ons eintlik net so liggies aangeraak, ons kan daaroor ‘n hele boek skryf! Vandag kom ons by die tweede “versie” van Paulus se gedig, en ons vra die vraag: Wat is die eienskappe van liefde?

Oor hierdie onderwerp raak Paulus slegs die puntjies van die seekoei se ore aan, en hieroor kan ons weereens ‘n hele boek skryf! Die eerste eienskap wat Paulus beskryf is geduld: “Die liefde is geduldig,” skryf Paulus. En hier bedoel hy nie dat ek dikwels ongeduldig raak as dinge nie volgens plan loop nie. Kyk, beurtkrag is darem nou besig om ons geduld tot die uiterste toe te beproef! En verkeersknope wanneer ek laat is vir ‘n afspraak! Maar dis nie dáái soort geduld waarvan Paulus praat nie. Dit gaan hier oor geduld met jou medemens en veral jou medegelowige.

Nou moet ek bely dat my geduld al dikwels tot die uiterste toe beproef is deur medegelowiges wat die Bybel anders interpreteer as ek, veral wanneer hulle my aanvat daaroor en my tot ander insigte probeer dwing. My eerste reaksie is om myself te probeer verdedig en vir die persoon te verduidelik hóé verkeerd hy nou eintlik is!

Liefdevolle geduld is van uiterste belang wanneer ‘n medegelowige jou in ‘n argument probeer indwing. Die eerste geheim is om te leer om te luister, iets waarmee ek baie sukkel. My arme Mosbolletjie raak dikwels so gefrustreerd met my wanneer sy nog besig is om iets vir my te sê, en ek haar sommer so ongeduldig in die rede val. Jammer my ou Liefste, vergewe my! Gewoonlik luister ons net na iemand om ons gedagtes te begin agtermekaar kry om die teenargument te loots! Dit is ‘n liefdelose luister! Die geduld waarvan Paulus praat, beteken om met volle belangstelling te luister na die persoon se argument, sodat ek ten volle kan verstaan waarom hy dink soos hy dink.

En wanneer hy klaar is, loots ek my teenargument!

Nee!

‘n Mooi voorbeeld van hoe jy so ‘n iets kan hanteer, sien ons in Handelinge 17 toe Paulus in Atene voor ‘n skare heidene gestaan het. Hy het hulle daarvoor geprys dat hulle so godsdienstig was om hulle gode so getrou en vurig te dien. Maar toe gebruik hy hierdie selfde argument om hulle baie subtiel aan Jesus voor te stel.

‘n Vurige teenargument wen baie selde ‘n argument. Dit jaag eerder die persoon die harnas in en maak dat hy sy argument met meer vuur probeer verdedig. Verloor eerder die argument deur stil te bly en slegs liefde uit te straal met jou geduld met die persoon. Daarmee gaan jy dalk jou argument verloor, maar sy hart wen. En dit is baie belangriker as enige argument.

Maar geduld gaan oor baie meer as argumente. Dit gaan ook daaroor dat jy geduldig moet wees met iemand wat dalk vir jou ‘n pyn is. Dis beslis nie altyd maklik nie! Iemand kom na jou met kwelvrae op die mees ongeleë tyd, en jy staan ongeduldig en rondtrippel terwyl sy voort teem. Dan word jou geduld tot die uiterste beproef. Of iemand vra jou om ‘n geloofsaak te verduidelik, maar hoe harder jy probeer, hoe minder verstaan die persoon. Lees gerus weer die dagstukkie wat ek ‘n maand gelede geskryf het oor Deernis.

Dit is oor sulke situasies wat Paulus skryf, dat as jy waarlik liefde uitleef, dan sal jy geduldig wees met daardie persone. Jy sal steeds liefde uitstraal, maak nie saak hoe erg jy gefrustreerd is nie. En as jou hart waarlik met liefde gevul is, sal daar nie plek wees vir frustrasie nie. Probeer jouself in daardie persoon se plek insien, en hoe jy sou optree as jy in die persoon se omstandghede was.

Ek dink persoonlik dat geduld waarskynlik een van die grootste uitdagings is, veral vir ‘n gelowige wat al ver op die pad van geloof gevorder het.

Hand aan hand met geduld, is die tweede eienskap wat Paulus noem, vriendelikheid. Dikwels word jou geduld tot die uiterste beproef wanneer iemand jou treiter met argumente of kwelvrae op ongeleë tye. Dit voel dalk vir jou asof die laste van die lewe jou in die aarde indruk, maar dan moet jy steeds vriendelik wees. En as daardie têksie jou siel versondig of voor jou indruk terwyl jy laat is vir werk, dan moet jy steeds geduldig, en veral vriendelik kan bly. Dis nie maklik nie! Dit vat harde werk en baie deursettingsvermoë van jou kant af om in sulke omstandighede steeds kalm te kan bly en Jesus se liefde uit te straal.

Vriendelikheid in alle omstandighede en op alle plekke, is die een eienskap wat die liefde van Jesus na die wêreld kan uitstraal. ‘n Opregte glimlag op jou gesig, verander die gemoedstoestand van almal met wie jy in aanraking kom. En nee, selfs die maskers waarmee ons deesdae opgesaal sit, kan nie ‘n opregte glimlag verberg nie, want jou oë vertel die verhaal wat in jou hart omgaan. En ‘n opregte vriendelike woordjie kikker enigeen se lewe op, en maak dat die persoon die dag met ‘n lied in die hart beleef.

Wees geduldig, en wees vriendelik, en leef só die liefde van Jesus prakties uit.

Gebed:

Here, vul my asseblief vandag met U wonderbare liefde, sodat ek dit met groot geduld kan uitleef teenoor my medemens. En plaas vandag heeldag ‘n vriendelike glimlag in my hart, op my mond en in my oë.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026