Johannes 6:41-59
Aanhalings word uit die 2020 vertaling gedoen
Ons het gesien dat mense verwonderd was oor Jesus. Was Hy dalk die langverwagte Messias? Hulle wou hom selfs kroon as Koning - weliswaar ongelukkig oor die verkeerde redes! Toe Jesus egter vir hulle sê: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het,” het Hy een treetjie te ver gegaan! Hulle het Hom dan mos geken! Hy was Josef en Maria se kind! Hulle twee was doodgewone aardlinge – so, hoe kon Hy nou wou kom maak asof Hy uit die hemel kom? Dit was beslis ‘n bietjie dik vir ‘n daalder!
Ongelukkig is dit steeds vandag die reaksie van baie mense. Daar is steeds diegene wat Jesus slegs wil sien as ‘n soort verhewe Profeet. Hoe kan dit moontlik wees dat Hy ‘n hemelse Wese kon wees? Nee, sê hulle, dít wat Jesus gesê en gedoen het, was alles net in die geestelike sin bedoel. Selfs Sy opstanding uit die dood wil hulle geestelik sien, want dit is mos nie moontlik nie?
Jesus het begin verduidelik: “Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie.” Verder sê Hy dat die Vader mense leer of onderrig en dat “Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, na My toe kom.”
As iemand dus van die Vader leer en aan Hom behoort, sál hy ook na Jesus toe gaan! Hierdie versie word so maklik uit verband geruk, en mense interpreteer dit só, dat slegs diegene wat deur God na Jesus gestuur word, gered sal word. Dit wil net weereens vir ons sê dat dit baie gevaarlik kan wees om ‘n enkele versie uit te sonder en ‘n leerstelling daarom te bou. Dit moet gelees word saam met die res van die gedeelte, en as ons wyer lees, sien ons duidelik dat jou oproep tot geloof nooit uitgesluit kan word nie. Ja, inderdaad is dit die genade van God wat maak dat jy kan glo, maar terselfdertyd is dit jou eie verantwoordelikheid as mens om Jesus te aanvaar as jou Verlosser. Jy móét dus ‘n wilsbesluit maak!
Ons kan in hiedie verse ook duidelik die groot genade van die Vader sien. Hy trek mense na Jesus toe. Vandag, aan die einde van die tye, is dit so klokhelder-duidelik. Daar is evangeliste versprei regoor die wêreld wat Jesus verkondig. Die tegnologie het verder so geweldig ontplof, dat daar vandag min mense is wat steeds kan beweer dat hulle nie van Jesus kon hoor nie. Die internet basuin Sy Naam uit en roep mense op om in Hom te glo. Dit is slegs die mees afgeleë gedeeltes in die wêreld wat nie toegang daartoe het nie. Televisiestasies saai oral die boodskap uit, en radiogolwe bereik die mees onbereikbare dele van die aarde en basuin Jesus se redding uit. As dit nie genade is nie - wat is dan?
Tweeduisend jaar gelede was dit dalk anders en slegs die Jode het van God geweet. Maar selfs dít het die Here baie gou verander toe mense soos Paulus en sy medewerkers binne enkele jare die nuus oor die ganse wêreld versprei het.
Dit is egter nie genoeg om slegs die Woord te hoor nie. Daar is óók ‘n reaksie nodig op die Vader se aksie: in vers 47 sê Jesus: “Hy wat glo, het die ewige lewe.” Die mens wat deur die Vader “getrek” is, moet reageer deur in Jesus te glo. Jesus verduidelik dit deur middel van ‘n beeld. Hy beskryf Homself as die “Brood van die lewe”. Om bloot brood te eet, sal jou honger slegs tydelik stil. Selfs “heilige” brood, soos die manna wat die Israeliete in die woestyn gekry het, was slegs tydelik. Die “Brood van die Lewe” het egter ewigheidswaarde. Dit help egter nie dat jy slegs na hierdie “Brood” kyk en dit erken en waardeer nie! Nee, om dit werklik betekenis te kan gee en van waarde vir jou te maak, moet jy dit eet!
Dit word so mooi versinnebeeld in die nagmaalsviering. Wanneer ons daardie stukkie brood eet, bely en bevestig ons daarmee dat ons deel het aan Jesus. Terselfdertyd versterk Hy my geloof daarmee deur my daaraan te herinner dat ek daardie stap geneem het deur Hom deel te maak van my lewe. Watter stap? Dat ek Jesus se geskenk van die ewige lewe aanvaar het, en Hom onvoorwaardelik aanvaar het as my Verlosser en enigste Saligmaker.
Dit bring my by ‘n skrikwekkende gedagte: As ek nog nie daardie stap geneem het nie, durf ek nie nagmaal gebruik nie want dan gaan ek vir almal wat saam met my die nagmaal gebruik, lieg. Die ergste is dat ek vir God lieg deur te sê dat ek deel het aan Jesus, terwyl dit nie die geval is nie!
Jesus sê verder: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” Jy moet dus ook Sy bloed drink om deel in Hom te hê. Bloed is die lewensaar van iemand se lewe. Daarsonder is lewe nie moontlik nie. Toe Jesus aan die kruis gehang het, het al Sy bloed gedreineer. Toe die soldaat ‘n swaard in Jesus se sy druk, was daar nie meer bloed nie, net water. Hy het al Sy kosbare bloed gestort sodat ek en jy kan lewe. Wanneer ek nagmaal gebruik, wil ek dan juis bely wanneer ek die wyn drink, dat Jesus se bloed ook vir my gestort is. Ek het deel daaraan. Jesus se kosbare bloed reinig my dus en vergewe my sondes!
In kort kan ons dus sê dat die nagmaal twee dinge doen: In die eerste plek herinner dit ons aan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Maar in die tweede plek herinner dit ons ook aan dit wat ons vir Hom moet doen!
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag kan weet dat ek deel het aan U liggaam. Dankie dat U dit vir my bevestig deur die nagmaal. Help my om ook my deel vir U te doen met groot ywer.