Eerbiedig jou Ouers

15 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eerbiedig jou Ouers

Eksodus 20:12-14

???? VIDEO | ???? OUDIO

God het met Moses gepraat, en riglyne vir die lewe neergelê, sodat Sy volk kan weet hoe God van hulle verwag om te lewe. Die meeste van hierdie riglyne is eintlik vanselfsprekend, maar ‘n mens moet maar gedurig daaraan herinner word wat reg en wat verkeerd is. Die eerste vier riglyne het gegaan oor hoe om God te dien. Dis iets wat hulle miskien gladnie geweet het nie. Nou kom Hy met die volgende ses riglyne en dit handel spesifiek oor wat reg en verkeerd is om te doen teenoor ander mense.

Die eerste een is sommer baie naby aan jou en handel oor jou ouers. God sê: “Behandel jou vader en moeder met eerbied.” Hierdie gebod het die Israeliete eintlik as vanselfsprekend aanvaar. Dis veral die vader in die huis wat met groot ontsag behandel is. Dit was ‘n patriargale stelsel, waar die pa die gesag gevoer het en al die res moes maak soos hy sê. Maar nou kom die Here en sê dat dieselfde eerbied wat aan jou pa gegee word, ook aan jou ma gegee moet word. Maar daar kom ook iets anders by, dat jy aan jou ouers eerbied betoon, nie omdat hulle gesag afdwing nie, maar omdat dit ‘n bevel van God is.

Oor hierdie gebod kan ons baie lank praat, want daar is soveel daaroor te sê. In die eerste plek vra dit van kinders om die nodige eerbied te gee. Ongelukkig is baie van ons daaraan skuldig dat ons die “oumense” weggooi wanneer die ouderdom hulle vir ons ‘n pyn begin maak, veral wanneer die brein nie meer so helder is nie en hulle ‘n oorlas begin raak. Dan vergeet ons baie maklik van die jare toe hulle wysheid en lewenskennis ons verstom het!

Hierdie gebod plaas egter ook op die ouers ‘n groot verantwoordelikheid, want hulle moet só optree dat hulle geëer kán word! As jou lewenswyse nie eerbaar is nie, is dit baie moeilik vir jou kinders om jou waarlik daardie eer te kan gee.

Die vraag is of ek steeds my vader moet eer, al behandel hy my ook soos vuilgoed? En wat as jou ma jou die hele tyd net afkraak en slegte dinge van jou sê? Moet ek haar steeds eer? Daardie ma verdien nie om ‘n ma genoem te word nie! Maar sy moet steeds die nodige eer kry!

Die volgende vier gebooie is kort en bondig. Maar daar lê baie daarin opgesluit. Die sesde gebod lui dat jy nie mag moord pleeg nie. Wat presies beteken dit? In die eerste plek is moord om opsetlik iemand anders dood te maak of sy dood te veroorsaak. Dit bring ‘n mens by die baie omstrede kwessie van aborsie. Om daardie ongebore fetus te verwyder (dood te maak) is presies dieselfde as om ‘n baba of ‘n volwassene dood te maak. Dit is niks anders nie as moord! Dit laat ons egter met baie etiese vrae wat ons baie moeilik gaan antwoord…..

Maar dit gaan eintlik baie verder: Jesus het gesê dat as jy iemand haat, dan is dit so goed asof jy hom alreeds vermoor het! Jy kan in werklikheid iemand met jou gedagtes vermoor! Deur dinge vir of van ‘n persoon te sê wat hom afkraak, seermaak of benadeel, is in werklikheid ‘n vorm van moord!

Die sewende gebod is een wat vandag net sowel gladnie bestaan nie, want dit is een wat gerieflikheidshalwe maar vergeet word: die gebod wat sê dat jy nie egbreuk mag pleeg nie. Enige persoon wat verantwoordelik is vir die verbrokkeling van ‘n huwelik, is besig om egbreuk te pleeg. As jy as ongetroude meisie ‘n verhouding aanknoop met ‘n getroude man, dan pleeg jy egbreuk, al is jy nie getroud nie! Ons moet onthou dat egbreuk nie alleen ‘n sonde is teen jou huweliksmaat nie, maar dit is ook ‘n sonde teen God, want Hy verbied dit! Waar begin egbreuk? Jesus het vir Sy dissipels gesê dat as ‘n getroude man na ‘n meisie kyk en haar begeer, dan het hy alreeds egbreuk gepleeg!

Kyk maar wat het met Dawid gebeur - hy het ledig op sy balkon gestaan en toevallig die vrou gesien wat besig was om te bad. Die begeerte het hom so opgevreet dat hy haar laat haal het. Dit lei tot ‘n verhouding en uiteindelik word haar man vermoor om Dawid se sonde te probeer toesmeer. Uiteindelik het hierdie oomblik van begeerte baie wyer uitgekring en sy totale gesinslewe verwoes, asook die lewens van baie ander mense. Een enkele oomblik toe hy gekyk het waar hy nie moes kyk nie.......

Egbreuk is iets wat dikwels baie lewens verwoes. Dit is nie alleen die egpaar wie se huwelik verbrokkel nie, maar die eerste wat daaronder ly is die kinders. Dikwels is daar ‘n getoutrekkery oor die kinders wat onskuldig in die ding beland. Dit veroorsaak dat hulle waardes van ‘n huwelik verskraal, en dat hulle heel waarskynlik self later ‘n verbrokkelde huwelik gaan beleef. Maar dit kring gewoonlik selfs baie wyer uit, en familie word geraak asook vriende.

As jy dus daardie begeerte in jou hart voel smeul soos Dawid van ouds - smoor dit in die kiem! Doen alles wat moontlik is om jou huwelik te maak werk - nie alleen ter wille van jou en jou huweliksmaat nie, maar ter wille van al die ander wat geraak word, en ter wille van God!

Gebed:

Here, hou my asseblief onder alle omstandighede getrou aan my huweliksmaat!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026