Eenvoudige Boodskap

11 July, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eenvoudige Boodskap

1 Korintiërs 2:1-5

Ek het al predikers beleef wat met sulke hoogdrawendheid en groot woorde praat, dat hulle jou naderhand hééltemal verloor. En ek het al na manne probeer luister wat met soveel “wysheid” preek, dat jy daarvan g’n dooie woord verstaan nie. En dan kry jy ook nog die predikers wat graag wil wys hoe heilig hulle is, deur die manier wat hulle woorde uitspreek. Die baie bekende Prof. Attie Barnard het eenmaal gesê dat ’n predikant se heiligheid dikwels gemeet word aan hoe mooi en hoogdrawend hy “Mesopotamië” kan uitspreek. Net so het ek al vele male ‘n geestelike boek begin lees wat op dieselfde trant geskryf is, en dan laat vaar ek hom maar na die derde of vierde bladsy. Ek is maar ‘n eenvoudige wese, en ‘n skrywer moet vir my baie eenvoudig skryf, anders verloor hy my.

Aan die ander kant, het ek al geluister na hoogsgeleerde predikers wat in sulke eenvoudige taal en sulke plat-op-die-aarde gedagtes preek, dat ek elke woord daarvan indrink en dit jare later steeds onthou. En dieselfde geld vir boeke. Hoe eenvoudiger en op die man af dit geskryf is, hoe makliker lees ek dit en hoe dieper tref dit.

Paulus was ‘n man met ‘n baie groot geleerdheid. Hy het die Skrifte van voor tot agter geken, en hy het sy opleiding gehad by die héél beste leermeesters. Hy noem êrens dat die beroemde Gamaliël hom geleer het. Hy moes een van die héél bestes van sy tyd gewees het. Boonop kan ons duidelik sien uit Paulus se briewe dat hy ‘n briljante redenaar was wat op die ingewing van die oomblik blitsvinnig ‘n antwoord kon gee. Hy kon letterlik toor met woorde.

Paulus het egter baie deeglik besef dat groot woorde en ingewikkelde redenasies hom nie baie ver sou bring as hy die Evangelie wou bring na dikwels eenvoudige mense nie. In eenvoud het hy aan die heidene, wat dikwels nog nooit van Jesus gehoor het nie, die boodskap van Jesus se verlossing oorgedra.

As ons aan Paulus dink, sien ons hierdie onverskrokke figuur wat stuit vir g’n duiwel nie, en wat nie bang is vir die tronk of owerhede of selfs om gestenig te word nie. Tóg sien ons in hierdie gedeelte ‘n totaal ander Paulus wat baie deeglik bewus is van sy eie swakhede, en wat met groot angs en huiwering na mense kom om aan hulle die Evangelie te verkondig. Tien jaar gelede, in 2009 het ek so ‘n ietsie van Paulus se angs beleef, toe ek vir die eerste keer op die kansel moes staan om vir ‘n gemeente te preek. Nou ja, ek is nie ‘n predikant nie, net ‘n gewone Ouderling. Ek het baie deeglik voorberei vir daardie preek, baie ure se bloedsweet. Skielik het ek tot die besef gekom van die reuse verantwoordelikheid wat op 'n prediker se skouers lê. Toe ek die dag voor die gemeente staan, dring dit tot my deur dat ek as gesant van God daar staan. Ek moes aan die gemeente oordra wat die Heilige Gees my op die hart gelê het. Ek moes ‘n atmosfeer van aanbidding vir die gemeente skep. Ek, die prediker, moes verdwyn sodat die gemeente vir God raaksien, sodat daar waarlik ‘n tweegesprek kon plaasvind tussen Hom en die gemeente.

Menige gesoute leraar staan elke Sondag so in vrees en bewing op daardie kansel, want dit maak nie saak hoe groot jou geleerdheid is, en hoeveel keer jy al gepreek het nie, jy dra steeds daardie verantwoordelikheid op jou skouers. Elke keer as jy die kansel bestyg, moet jy baie diep onder die besef wees van presies wat die Here van jou verwag. Presies dieselfde geld ook vir my, elke oggend as ek ‘n dagstukkie skryf. Ek durf dit nie uit my eie krag of wysheid doen nie, want dan sal dit bloot ‘n stuk klinkende metaal wees. Dit is vir my ‘n geweldige groot verantwoordelikheid, want duisende mense lees elke dag hierdie dagstukkies, en dit gaan na mense van baie verskillende denominasies. Daarom moet ek des te meer versigtig wees presies wat ek skryf. Liewe leser, daarom vra ek asseblief dat jy gedurig vir my sal bid, dat ek nooit perspektief sal verloor nie, en dat ek ál my krag, wysheid en inspirasie alleenlik van die Heilige Gees sal put.

Wat het Paulus se prediking so suksesvol gemaak, buiten vir die feit dat hy dit so ernstig opgeneem het? Sy boodskap! Dit was ‘n baie eenvoudige boodskap wat vertel het van Jesus Christus wat gekruisig is. Vir baie mense is hierdie eenvoudige boodskap vandag te eenvoudig! Hulle wil iets verhewe hê. Tóg is hierdie eenvoudige boodskap een wat eintlik onverstaanbaar kompleks is, een wat alle menslike verstand te bowe gaan. Om die volle omvang daarvan te probeer verduidelik, is onmoontlik vir selfs die slimste prediker. Tóg is dit so eenvoudig dat selfs ‘n kindjie dit kan verstaan. Jesus Christus het aan die kruis gesterf en sodoende betaal vir al ons sondes. Al wat my as sondaar te doen staan, is om die vryspraak wat Hy só gee, te aanvaar deur in Hom te glo as my Verlosser. Het jy dit al gedoen?

Gebed:

Here, help my asseblief om my boodskap eenvoudig te hou sodat elkeen dit kan verstaan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026