Eensgesindheid

24 January, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eensgesindheid

Filippense 2:1-4

VIDEO | OUDIO

Eensgesindheid is een van die héél belangrikste woordjies in ‘n gelowige se woordeskat. Daarsonder sal dit bitter moeilik wees vir ‘n gemeente om te bestaan. Die geskiedenis het dit al oor en oor bewys en die voorbeelde van gemeentes wat totaal uitmekaar geval het as gevolg van ‘n gebrek aan eensgesindheid is legio. Dit is so hartverskeurend!

Ons kan gaan leer uit die natuur oor hoe eensgesindheid werk. Ons het 'n paar dagstukkies terug weereens gesien hoe wonderlik ‘n trop olifante funksioneer en ons gelowiges kan beslis by hulle gaan leer! Ek het vertel van 'n trop Ollies wat in die rivierbedding tussen die riete staan en wei het. Skielik het Ma gesê "Ons gaan nóú huistoe!" Die hele trop het onmiddellik reageer sonder om teë te stribbel en alles nét so gelos om haar te volg.

Het jy al ooit die interaksie in 'n trop wildehonde gesien? Hulle omgee vir mekaar en veral vir die kleintjies in die trop is verstommend! Hulle help mekaar gedurig en almal help kleintjies grootmaak. Eensgesindheid by uitstek!

Hiermee wil ek nie sê dat ‘n ganse gemeente moet spring as die dominee so sê nie, maar eerder dat daar ‘n hegte band moet wees tussen gemeentelede. Die vraag is wat hierdie band smee? Paulus noem hier vier dinge wat noodsaaklik is: Die eerste is die troos in Christus, die belangrikste element want dit is wat van ons gelowiges maak. Jy kan tog mos nie ‘n gelowige wees as Jesus nie ‘n plek in jou lewe het nie? Hy is die sentrale punt in enige gemeente en absoluut alles wat in ’n gemeente gebeur moet rondom Jesus sentreer. Dis wanneer ander dinge meer belangrik raak as Jesus, dat ‘n gemeente begin uitmekaar skeur. Wanneer ‘n sekere doktrine, eiendom, ideologie ens. ‘n gemeente se agenda oorheers, kan dit baie spanning en verdeeldheid veroorsaak en eensgesindheid uitmekaar laat spat! Stel Jesus héél voor en eensgesindheid kan feitlik gewaarborg word.

n Tweede belangrike element is liefde. Dit kan op baie vlakke manifesteer maar dis belangrik om te onthou dat dit nie maar ‘n humanitêre liefde kan wees nie maar liefde uit Christus gebore. Hierdie liefde moet veral deur ware omgee vir mekaar binne die klein kring van die gemeente-gesin funksioneer. As ’n mens waarlik vir mekaar lief is, sal daar mos nie ‘n geskinder en kwaadpratery wees nie en sal die gelowiges mekaar se belange op die hart dra. In ons gemeente drink ons altyd na die erediens saam koffie en dan is daar ‘n heerlike saamkuier en gesels. Dit is hegte liefdesbande wat ons so prakties aan mekaar bind. Ek sien uit na elke Sondagoggend se saamkuier!

Die derde element wat Paulus vir die gelowiges in Filippi noem, is die gemeenskap deur die Gees. Inderdaad moet die Heilige Gees ‘n baie prominente plek hê in enige gelowige se lewe. Sonde veroorsaak egter dat jy nie vir die Gees plek maak nie. As ons hierdie in gedagte hou en besef dat dit die werking van die Heilige Gees is wat ons die lus gee om integraal ‘n aktiewe deel te wees van ‘n gemeente, dan begin jy verstaan waarom sommige mense wegdryf. Hoe meer jy aan jou daaglikse bekering werk, hoe meer plek maak jy vir die Heilige Gees in jou lewe en hoe meer sal jy ook die ware gemeenskap met ander gelowiges begin ondervind. Daarmee saam kom ook die eensgesindheid.

Paulus noem in Filippense 2:1 egter ook ‘n vierdie element, “innige meegevoel en meelewing.” Wanneer ons die ander drie kombineer - troos in Christus, liefde en die gemeenskap met die Gees, dan is die natuurlike uitvloeisel dat ons waarlik vir mekaar sal omgee en mekaar se laste op die hart sal dra. Ek sien dit telkemale wanneer een van ons gemeente ‘n geliefde aan die dood afstaan. Binne ‘n kort tydjie is daar ‘n skare van mense gemobiliseer wat daardie persoon letterlik op die hande dra. Kos word aangedra om die las te verlig en daar is gedurigdeur iemand wat waarlik omgee, troos en bystaan of dalk net daar is om te luister.

Dit is egter belangrik dat jou gesindheid reg moet wees, anders help al hierdie dinge absoluut niks. As jy meedoen bloot vir jou eie aansien of uit pligsbesef, dan het jy totaal die punt gemis. Hier gaan alles om Christus en jou medegelowige en jou eie belange kom héél laaste. As jy erkenning soek, is jy op die verkeerde plek! Dít kry jy in die politiek of op die verhoog! Nederigheid, diep uit jou hart is een van die vereistes om waarlik hierdie eensgesindheid in ‘n gemeente te laat werk. Dit geld veral vir diegene in ‘n leiersposisie. Dis nie maklik nie en dit vat hope selfverloëning om waarlik ‘n nederige leier te wees en nie ‘n “baas” nie!

Gebed:

Here, ek skiet so bitter ver tekort - gee asseblief vir my nederigheid, ware liefde en omgee in my hart!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026