Miga 2:6-11
Ds. Miga loop in die leraar se studeerkamer in, waar dié besig is om sy preek vir die naweek voor te berei. Die man is so hard aan die werk en so diep ingedagte, dat hy nie eers vir Miga sien nie. Met ‘n glimlag kom loer Miga oor die dominee se skouer om te sien waaroor sy preek gaan. Dan verstar sy glimlag: al wat hy daar sien, is vleitaal. Daar word die mooiste dinge gesê, maar absoluut géén vermelding word gemaak van die mens se eie verantwoordelikheid nie. Hy kyk totaal verby al die korrupsie en moord en doodslag en slegte dinge wat in die gemeente aangaan. Al wat hy in hierdie preek doen, is om die heuningkwas mildelik te swaai en almal heuning om die mond te smeer.
Miga is hoogs ontsteld. Hy storm by die studeerkamer uit. “Hierdie man is nie werd om ‘n leraar genoem te word nie!” Dit kook en borrel in hom. Hoe meer hy daaroor dink, hoe meer kom hy tot die besef dat hierdie dominee net daarop uit is om vir die mense te sê wat hulle graag wil hoor. En wat meer is: hierdie is nie die enigste leraar wat dit doen nie, daar is nog ander ook waarvan hy weet!
Ds. Miga gaan sit voor sy rekenaar, en dan skryf hy ‘n e-pos wat hy beplan om vir al die leraars met hierdie houding te stuur. “Wees reguit met die mense!” skryf hy, “Vertel vir hulle waar hulle verantwoordelikhede lê! Die gemeentes het korrup geraak, en julle as leraars moet hierdie probleem reguit aanspreek. Moenie doekies omdraai nie, vertel vir die sakemanne wat slinkse transaksies doen en ander mense uitbuit dat hulle dit moet staak. Moenie hulle gewetens probeer sus deur niks hieroor te sê nie. Praat daaroor!”
Ds. Miga raak nou lekker opgewerk: “Julle bly vir die mense allerhande gerusstellende dinge vertel, soos dat daar nooit enige ellende oor hulle sal kom nie. Dat hulle maar kan aankarring met hulle sondige praktyke! Waarom sal God dan nou kwaad word daaroor? God vergewe mos al jou sondes. God is liefde, onthou! Hy doen altyd net goed aan Sy volk. Hy is gladnie so ernstig oor sonde as wat daardie Miga-predikant dit wil maak nie! Vandag wil ek vir jou sê, liewe dominee, jy lei die gemeente op ‘n dwaalspoor!”
En dan druk hy die “SEND” knoppie, en die e-pos vlieg. Maar o wee! Skaars is sy e-pos gestuur, of die briewe stroom in van talle hoogs-omgekrapte dominees. Ds. Miga het baie hard op hulle liddorings getrap, en dit maak seer. “Hoe durf jy ons beskuldig!” word hy uitgejou. “Is dit dan nie reg dat ons preek oor genade en liefde nie?”
Ds. Miga het seer, maar dit is nie sy persoonlike seer nie. Dit is die seer wat hy beleef van die mense wat slagoffers is. “Ja, natúúrlik is dit reg om oor liefde en genade te preek! Maar as daar onreg is durf jy ook nie daaroor stilbly nie! God se liefde en genade bring vir gelowiges ‘n sekere verantwoordelikheid, en mense moet weet wat die verantwoordelikheid behels. Dit help nie om hulle gewetens te sus nie!”
Wanneer Ds. Miga daardie Sondag op die kansel klim, praat hy kaalkop die waarheid. Hy noem die gemeente se probleem op die naam. Hy sien hoedat ‘n paar baie vroom gesigte skielik verstrak en vloer toe kyk. Hy maak dit baie duidelik dat dit dikwels onskuldige of weerlose mense is wat die swaarste getref word deur die hartelose optrede van sommiges. Dit is weduwees wat geen inkomste het nie en maar net op genade leef, wie se huise van hulle af weggeneem word. Dit is weerlose vrouens wat beroof word van die bietjie gerief wat hulle nog het. En dit is onskuldige kindertjies wat op die straat beland. Die Here het daardie huise en gerief en blyplek vir hulle gegee, maar nou is dit hartelose sakelui wat gierig geword het wat dit van hulle af wegneem.
“En die probleem is,” slaan Ds. Miga die laaste spyker in die doodskis, “dat die skuldiges vanoggend hier in die kerkbanke sit. Ja, julle weet wie julle is!”
Na die erediens stap Ds. Miga terug huistoe. Hy het opgemerk hoe die bywoning van sy eredienste gekrimp het. Dit is ontstellend. Hy is nie meer die gewilde prediker van ouds nie. Maar hy durf nie stilbly nie. En dan is daar nóg ‘n ontstellende ding wat sy ore bereik het. In die wandelgange word daar gefluister dat hulle hom gaan vervang. Sommige gemeentelede wil hom met alle mag hier weg hê. Hulle het ‘n ander dominee in gedagte, een wat glo baie mooi kan preek. Hulle sê die man praat nooit óóit oor sonde nie, hy praat net oor liefde en genade. Boonop is hy baie welsprekend. Jy voel glo so goed as jy na een van sy preke geluister het.
“Here, wat moet ek maak?” kreun Ds. Miga sy versugting uit na die Here, “Wys U my asseblief wat ek moet doen.”
Gebed:
Here, help my asseblief om U Woord suiwer uit te dra sonder om die krag daaruit te haal.