Drie Wondertekens

9 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Drie Wondertekens

Eksodus 4:1-9

???? VIDEO | ???? OUDIO

Moses steier as hy die opdrag van God hoor. Eerstens moet hy, ‘n voortvlugtende misdadiger - iemand wie se bloed die Farao soek oor ‘n moord wat hy gepleeg het, nou met hierdie einste Farao gaan onderhandel. Die man sal hom mos net daar en dan laat teregstel! Hy sal Moses vir die heilige krokodille voer! En as hy dit oorleef (wat beslis baie onwaarskynlik is), dan moet hy vir drie-miljoen Israeliete gaan sê dat hy hulle deur die onherbergsame woestyn na ‘n onbekende land gaan lei. Hulle gaan hom mos uitlag! Boonop het hy mos gesien hoe ‘n weerbarstige klomp daardie Israeliete is!

Moses begin so stadigaan koue voete kry! Uit hierdie ding moet hy homself baie gou uitwurm want hier sien hy net moeilikheid voorlê! “Here,” sê Moses vir God, “sê nou net die Israeliete glo my nie......” Hy is absoluut séker dat die klomp hom nie sal glo nie - hy is mos ‘n Egiptiese prins - ten minste hy wás een! “Sê nou net hulle wil nie na my luister nie en hulle sê vir my dat die Here nie aan my verskyn het nie?”

“Wat het jy in jou hand, Moses?” vra God hom. Moses is totaal oorbluf: hier staan hy met sy kierie in sy hand - wat het dit dan nou uit te waaie met die weerbarstige Israeliete? “’n Kierie.....?” antwoord Moses.

“Gooi dit op die grond!” beveel God hom. Moses wil uitbars van die lag. Wat sou dit dan beteken? Hy voel lus om om te draai en weg te loop. Maar dan besluit hy om te doen soos God sê. Hy is in elkgeval nuuskierig om te weet wat God wil doen en hy gooi sy kierie op die grond neer.

Die volgende oomblik spring Moses verskrik tien treë agteruit. Voor sy oë het die kierie in ‘n aggressiewe, giftige, sissende slang verander! Moses se hart klop in sy keel. Dit het hy nooit óóit verwag nie. Hoe het dit dan gebeur? Hy soek-soek nog na ‘n klip om die dierasie te vermorsel, dan hoor hy weer God se stem: “Moses, steek jou hand uit en gryp hom aan die stert.”

Moses skud sy kop ongelowig - ‘n giftige slang aan die stert gryp? Nog nimmer as te nooit! Daai ding is gevaarlik! Maar dan skielik gaan iets deur sy gedagte: “Dis my kierie daai! Miskien......” Versigtig benader Moses die gevaarlike ding van agter af sodat hy sy skerp kant kan vermy. Sopnat gesweet van angs gryp Moses die slang. Die volgende oomblik staan hy met sy kierie in sy hand. Moses is sprakeloos! “Moses,” hoor hy vaagweg weer God se Stem, “Op grond hiervan sal hulle glo dat die God van hulle voorvaders aan jou verskyn het.”

Moses weet nog nie mooi hoe om dit te verwerk nie. Hoe het dit gebeur? Sy gedagtes is nou totaal verwar. “Moses, steek jou hand in die vou van jou kleed.” hoor hy weer God se Stem. Dié slag gehoorsaam Moses. “Watter asemrowende wonderwerk gaan God my hierdie slag wys?” wonder hy. As hy sien dat niks gebeur nie, haal hy weer sy hand uit sy klere uit. Vir 'n tweede keer skrik Moses hom yskoud. In afgryse staar hy na sy hand. “Wou God my straf omdat ek Hom nie wou glo nie?” Hy voel naar: sy hand is oortrek met die allervieslikste sere - spierwit melaats! “Almal gaan my nou verwerp!” huil hy, “Wat het U aan my gedoen?” Nou wil hy vir God blameer.

Maar dan kom God se Stem weer uit die brandende doringbos: “Steek nou weer jou hand in jou kleed Moses.” Bewend van angs gehoorsaam hy en wanneer hy weer sy bewende hand uithaal, is dit silwerskoon, asof niks ooit daarmee gebeur het nie. Nou hang Moses se mond onbeskaamd oop. Hy skud sy kop: “Droom ek nie dalk nie?” vra hy homself. Maar hy is helder wakker. Stadigaan begin die besef tot hom deurdring dat hy hier wáárlik te doene het met die Almagtige God - die God waarvan hy die Israeliete hoor praat het - die God van hulle voorvaders!

“Moses, na hierdie twee wonderwerke behoort hulle na jou te luister. Maar as hulle hierna steeds nie wil luister nie, moet jy van die water uit die Nyl skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander as dit op die grond val.”

Ons kan dalk ‘n betekenis heg aan die drie tekens wat God vir Moses gegee het. Die kierie of herderstaf is ‘n simbool van leierskap - iets wat Moses bitter nodig sou hê. Die slang is ’n simbool van wysheid, asook van genesing - óók iets wat Moses in oorvloed sou nodig kry oor die volgende paar jaar. Met die tweede teken is melaatsheid eintlik ’n doodsvonnis, maar God bewys dat Hy volle beheer het en dat selfs hierdie ongeneeslike (terminale) siekte deur Sy krag genees kan word. Met die derde teken word die lewegewende water van die Nyl op ironiese wyse in bloed verander. Bloed is op sigself ’n simbool van lewe, maar deur God se hand kan dit dood beteken vir diegene wat hulle teen Hom verset.

Nes Moses wil ek en jy ook dikwels protesteer as ons ’n opdrag van Hom kry. Maar dan moet ons besef dat al ons besware om nie te wil doen wat Hy vra nie, ongegrond is. Hy is almagtig en Hy kan enige struikelblok uit die weg ruim. Al wat Hy vra is ons gewilligheid.

Gebed:

Here, Ek wil dikwels wegskram van U opdragte af. Dankie dat U my vanoggend weereens gewys het dat niks onmoontlik is by U nie, en dat U sal voorsien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026