Lukas 12:1-12
Jesus is steeds op reis na Jerusalem, maar dit wil voorkom asof die vordering maar pynlik stadig is. Hoe verder hulle vorder, hoe hewiger raak die kritiek en weerstand teen Jesus. Nogtans word die skare wat om Hom saamdrom al hoe groter. Lukas skryf hier dat duisende mense om Hom saamgedrom het en dat hulle mekaar vertrap het om Hom te kon hoor. Jesus gebruik juis die spanning wat tot breekpunt begin opbou, en die vyandigheid om Sy dissipels te leer wat hulle te doen staan wanneer hulle sélf later verontreg en vervolg sou word. Inderdaad het daar op hulle ‘n wrede vervolgeing gewag deur hierdie einste mense wat agter Jesus se bloed aan was.
In vandag se perikoop maak Jesus drie kort preke of uitsprake. Die eerste waarsku teen die huigelary van die Fariseërs, met twee paralelle waarin Hy sê dat hulle huigelary die Fariseërs niks sal baat nie want alles wat in die hart aangaan sal bekend word. Jesus gebruik die pragtige voorbeeld van suurdeeg.
Dis tradisie hier by ons om Vrydae iets met ‘n degie saam te flans vir aandete. Vrydagmiddag het ek soos gewoonlik ‘n paar korreltjies suurdeeg saam met meel ingeknie. Ek het nog so staan en wonder of die konkoksie behoorlik sou rys, toe begin hier dinge gebeur in die deeg, en hy rys en rys totdat die bak sommer so bol staan. Skaars was die degie in die oond, of dit begin lyk soos die atoombom wat in Hiroshima ontplof het! Asemrowend wat daardie ou paar korreltjies suurdeeg kan aanvang!
Dit kos net ‘n paar korreltjies kwaadpratery en opstokery om uiteindelik ‘n groot skare mense op te sweep. Ons het dit weer so duidelik beleef met die opstande wat ons nou onlangs gehad het wat die hele land lamgelê het. Die hartseer is dat een enkele mens wat in ‘n gemeente kwaad saai óók die ganse gemeente kan ontwrig en in liefdeloosheid dompel.
In die tweede preek of uitspraak noem Jesus sy volgelinge “vriende.” Inderdaad was ‘n groot deel van die skare wat om Hom saamgedrom het beslis nie vriende nie, maar bloot nuuskieriges wat later almal teen Hom sou draai. In hierdie uitspraak wou Jesus die gelowiges aanmoedig om nie bang of besorg te wees wanneer vervolging en fisieke lyding oor hulle pad sou kom nie. Geestelike dood is die ding waarvoor jy bang moet wees!
En net so terloops, vir diegene wat wil beweer dat daar nie ‘n hel is nie - hier sê Jesus hard en duidelik dat God die mag het om mense in die hel te gooi! Die Griekse woord vir hel is gehenna, afgelei van die vallei van Hinnom waar daar op ‘n tyd kinders geoffer was. Lees gerus hiervan in Jeremia 7:31. Hierdie vallei was die ashoop van Jerusalem, en daar was gedurigdeur vure en rook wat hier uitgeborrel het, wat natuurlik in verband gebring is met die marteling van sondaars in die hel.
‘n Muntstuk het egter twee kante, en aan die anderkant van hiérdie muntstuk sien ons dat selfs die nederige mossies deur die Here versorg word. Nét so hou Hy diegene wat in Hom glo in die holte van Sy hand en sorg Hy nog baie meer vir hulle as vir die mossies. ‘n Verhouding met Jesus red jou nie alleen van die verskrikking van die hel nie, maar gee jou die ewige lewe en al die heerlikheid wat daarmee saamgaan!
In die derde preek sien ons weereens twee paralelle uitsprake. Die tema van hierdie preek is belydenis en verloëning. Wat jy bereid is om vir Jesus op aarde te doen, bepaal wat Hy vir jou in die hemel sal doen. Hierdie versie, Lukas 12:8,9 word dikwels gruwelik misbruik om op mense se gewetens te werk. Baie dikwels kry ek e-posse of Whatsapps, soms baie mooi, wat aan die einde vra dat jy dit aanstuur. Doen jy dit nie, dan is jy jou loon in die hemel kwyt! Hierdie is ‘n totale mistasting van wat Jesus hier bedoel. Jesus vra hier wél dat ons erns moet maak daarvan om Sy Evangelie uit te dra, en Hom nie durf verloën nie.
Daar is egter ‘n tweede, baie ernstige sonde waarvan Jesus praat, die sonde teen die Heilige Gees. Lukas verklaar nie wat Jesus presies hier bedoel nie, maar uit die konteks kan ons agterkom dat die Heilige Gees hier beskou is as die Een wat as God se Bemiddelaar optree. Deur Hom te verwerp, verwerp jy ook vir God, en daarmee saam Sy vergifnis. In kort kom dit daarop neer dat iemand wat hardkoppig God se genade verwerp, ook deur God verwerp sal word. Dikwels is dit “goeie Christene” wat gereeld in die kerk kom en gereeld die Woord hoor, maar steeds botweg weier om ‘n volle oorgawe te maak, waarvan hier gepraat word. ‘n Groot deel van die reuse skare wat hier na Jesus staan en luister het, het getel onder diegene wat hierdie verskriklike sonde gepleeg het.
Die groot hartseer is dat baie van dié wat vanoggend hierdie dagstukkie lees, die gevaar staan om te kwalifiseer vir iemand wat die onvergeeflike sonde gepleeg het. Liewe leser, ek pleit vanoggend by jou, as jy nog nie jou hart vir Jesus gegee het nie - doen dit NOU voordat dit dalk hééltemal te laat is!
Gebed:
Here, my smeekgebed is vanoggend dat elkeen wat hierdie dagstukkie lees, en nog nie deel van U Koninkryk is nie, vandag die keuse vir U sal maak.