Diskriminasie

15 March, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Diskriminasie

1 Timoteus 6:1,2

VIDEO | OUDIO

Die woord “diskriminasie” is deesdae op almal se lippe. Maar kom ons wees eerlik: diskriminasie het in ons land al saam met oorl’e Oom Jan van Riebeeck voet aan wal gesit! Sedertdien het hy tálle kleintjies gekry. Gaan lees maar gerus boeke wat geskryf is deur die pioniers van ons land, soos Harry Wolhuter en Stevenson Hamilton en jy sal gou agterkom hoe erg diskriminasie was ‘n eeu gelede. Vandag is die bordjies natuurlik verhang en sogenaamde “omgekeerde diskriminasie” is aan die orde van die dag.

Dit was egter nog baie erger in Paulus se tyd. Ons het reeds gesels oor die diskriminasie teen vrouens en dat hulle geen regte in die lewe gehad het nie. Hulle was egter beslis nie die laagste “klas” nie. Dáárdie stoel het die arme slawe deeglik vol gesit! As daar nou rêrag ‘n niks in die lewe was, dan was dit ‘n slaaf! Sy eienaar het hom gekoop en dus was hy niks meer as ‘n stuk eiendom nie. As hy ‘n baie goeie slaaf was, met goeie eienskappe, dan was hy darem behandel soos ‘n waardevolle stuk eiendom. Af en toe het só ‘n slaaf dan ook groot verantwoordelikheid gekry en soms het hy selfs hoë status gehad. Voorbeelde hiervan was Josef en Daniël. Dit was egter die uitsondering. Slawe het géén regte gehad nie, en die eienaar kon letterlik met hom maak wat hy wou. En as hy die slag rêrag droogmaak, kon die eienaar hom selfs doodmaak en g’n haan sou daarna kraai nie!

Nou het ons geleer dat as jy ‘n gelowige word, dan word jy vry. Wat dan as jy ‘n slaaf is? Verander dit jou situasie? In ‘n sekere opsig verander dit gladnie want jy bly steeds ‘n slaaf en daarmee jou eienaar se eiendom. Daar is egter iets anders wat totaal verander en dit is jou nuwe uitkyk op die lewe. Paulus skryf oor hierdie soort situasie want daar was blykbaar ‘n hele aantal slawe in Efese wat gelowig geword het. Hulle het met die dilemma gesit oor hoe hulle die situasie moes hanteer.

Jesus het ons geleer dat liefde héél bo aan jou lysie moet staan. Liefde beteken natuurlik baie dinge en een van hulle is om jou meerderes te respekteer, al is hulle ook heidene. Vir daardie slawe was dit ‘n bitter pil om te sluk, want hoe kan jy respek hê vir iemand wat jou beskou as die stof van die aarde? Hoe kan jy iemand respekteer as hy jou mishandel, dikwels sonder enige rede? Hoe kan jy hom respekteer en vir hom eerbied hê, as hy vir jou absoluut niks voel of omgee nie? Dit is bitter moeilik! Wat is die nut daarvan? Gaan hy jou dan dalk beter behandel?

Nee, dit is nie waaroor dit gaan nie. Alles draai om die eer van God. As ons dit in hierdie lig aanskou, verander die prentjie totaal en al. Dit gaan nie daarom dat jy daardeur jou eie toestande gaan verbeter óf om jou baas goed te laat voel nie. Hierdeur stel jy in die eerste plek ‘n voorbeeld vir jou baas, om te sê: “Dit is Jesus se liefde wat maak dat ek nou anders optree!” Die eienaar moet baie duidelik kan sien dat Jesus ‘n verskil maak in die slaaf se lewe. Sy optrede moet sodanig wees dat die eienaar nie ‘n vinger sal kan lê op enigiets wat sleg is nie, want God se heilige Naam is op die spel!

Maar wat nou, as jou baas óók ‘n gelowige is? Moet jy dan verwag dat hy jou sal vrystel of voorregte gee wat die ongelowige slawe nie het nie? Paulus wil nie die sosiale orde omverwerp nie, hy wil bloot hê dat gelowiges, en dit sluit ook slawe in, moet handel soos kinders van God.

Nou, twee duisend jaar later, is daar nie meer slawe nie. Tóg is daar sekere ooreenkomste in ons lewe vandag, want op die een of ander wyse staan elkeen van ons onder die baasskap van iemand anders en dikwels is daar ook die een of ander vorm van diskriminasie betrokke. Dalk het jy ‘n bitter onredelike baas. In daardie geval geld Paulus se voorskrifte vir die slawe van Efese presies net so vir jou en jy moet as gelowige die wonderlike Naam van ons Here hoog hou deur só op te tree dat jou baas Jesus in jou kan sien. Gee hom respek en eerbied, al verdien hy dit nie! Maklik is dit beslis nie! Ek het al onder só ‘n baas gewerk en partymaal moet ‘n man maar op jou tande kners en ‘n glimlag afdwing. Die groot ding is om jou liefde uit te leef ten spyte van!

Daar is egter ander vorms van gesag oor ons wat dalk nog moeiliker is om te verwerk, en dit is die owerhede. Hoe maak jy as jy uitgeskel word en van die pad gedruk word deur ‘n vloot swart voertuie, soos wat met my ook al gebeur het? Skree jy terug? En as jy by staatsinstellings behandel word asof jy die skuim van die aarde is? Gee jy die amptenaar ook maar ‘n bekvol van sy eie medisyne? En sê nou maar die verkeersman trek my van die pad af en hy is skoon ongeskik met my, wat is my reaksie? Is ek dadelik op my perdjie? Iemand het eenmaal gesê, dat om ‘n Christen te wees nie vir sissies is nie! Om steeds jou liefde uit te leef in sulke omstandighede, is soms uiters moeilik. As ons egter altyd in gedagte hou dat dit nie om mý gaan nie maar oor Gód se Naam wat op die spel is, dan raak dit makliker. Wat sou Jesus gedoen het as Hy in my situasie was?

Gebed:

Here, die lewe is dikwels so onregverdig, daarom vra ek vir krag om te alle tye U liefde uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026